Die Eerste Brief van Johannes: Antichriste Die vierde vereiste om in die lig te kan lewe – behou die geloof en oorwin die antichris (2:18-29) (a) antichriste (2:18-19)
Van 1:5 af bespreek die skrywer hoe ‘n Christen in die wêreld moet lewe. Die goeie nuus wat alles bepaal, is dat God lig is (1:5-7). Daarna volg vier praktiese aanwysings hoe ‘n Christen in God se lig behoort te lewe, waaraan ‘n Christen ook getoets word: i) negatief: deur sonde te verwerp (1:8-2:2); ii) positief: deur gehoorsaam te wees (2:3-11); iii) negatief: deur wêreldgesindheid te verwerp; iv) positief: deur die geloof te behou (2:18-29).
In die eerste deel van hierdie gedeelte word drie merktekens bespreek: i) tekens van die einde (2:18-19); ii) merktekens van die gelowige (2:20-23); iii) merktekens van lewe in die lig (2:24-25).
2:18 Die aanspreekvorm ‘Geliefdes’ (paidia) van 2:14 word herhaal om die betrokkenheid en intieme liefdesverhouding van die skrywer met die gemeentelede uit te druk.
‘dit is die laaste uur’ – die ‘dag van die Here’ aan die einde van die huidige bedeling, is met Jesus se menswording, lewe, sterwe, en opstanding vervul, maar nog nie afgesluit nie; vgl. bv. Joh 6:47 ‘wie in My glo, het die ewige lewe’ (nou reeds), en Joh 6:40 ‘dit is die wil van my Vader dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan’ (met sy wederkoms); vgl. ook Joh 14:3 ‘En as Ek gegaan en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is’(met sy wederkoms); en Joh 14:23 ‘As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon’ (nou reeds).
‘Julle het gehoor dat die antichris aan die kom is’ – ‘antichris’ (een wat teen Christus is, in die sin van Christus se rol wederregtelik oorneem; anti dui ‘teen’ en ‘in die plek van’ aan) Die term antichris kom slegs in die Johannes-briewe voor (1 Jn 2:18,22; 4:3; 2 Jn 7; vgl. Paulus se ‘wettelose mens, seun van die verderf,’ 2 Ts 2:3-4; Jesus noem Judas ook ‘seun van die verderf’ Jn 17:12.
‘julle het gehoor’ – Johannes veronderstel dat die lesers reeds ingelig is oor die antichris. Die verwagting is blykbaar dat daar voor die wederkoms ‘n aardsvyand van Christus sal kom om mense, ook Christene, te verlei met sy wondertekens en groot woorde (2 Ts 2:3-10).
‘en daar is/bestaan nou reeds baie antichriste’ – die voltooide vorm van ‘is’ wys dat hulle verskyn het en hulle invloed duur voort. Daarmee verwys Johannes skynbaar na die lidmate wat besig is om die gemeentes te verlaat of reeds verlaat het, en die gemeentelede mislei met ‘n valse prentjie van Christus met wat hulle verkondig (dat Hy nie waarlik God is nie of waarlik mens was nie) en met hulle lewe (òf wetties hulle eie verlossing probeer uitwerk, òf wetteloos lewe sonder Christus se wet van die liefde). In wese misken hulle vir Christus.
‘hieraan weet ons dat dit die laaste uur is’ – uit die valse idees oor Christus en uit die wettelose optrede van die dwalendes kan ons seker wees dat ons, sedert die koms van Christus, in die laaste uur lewe. Hy het gesê dat daar baie valse profete sal kom, wat baie mense sal verlei (Mt 24:11); dat baie onder sy Naam sal kom en sê ‘Ek is die Christus’ en baie mense mislei. Dit is nog nie die einde nie, maar deel van die geboortepyne, die begin van die nuwe tyd (Mt 24:4-8).
2:19 Sedert die skrywe van die Evanglie tot hierdie eerste brief het ongeveer 10jaar verloop. Party van die gemeentelede het skynbaar weggebreek van die gemeente af, deurdat hulle siening van Christus nie langer kon saamleef met die Johannes Evangelie se skildering van Christus as God wat volledig mens geword het en sy liefdes-eis nie. So het baie van die vroeë volgelinge van Jesus ook omgedraai oor sy woorde dat niemand na Hom toe kan kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie, ‘en hulle het nie meer saam met Hom gegaan nie’ (Jn 6:66).
‘’hulle het van ons uitgegaan’ – verwys na ‘n besliste breek met die gemeente (dieselfde woord ekselthein word gebruik in Jn 13:30a: Judas ‘het dadelik uitgegaan, en dit was nag’). Johannes die Doper het reeds voorspel dat Jesus die koring van die kaf sal skei (Mt 3:12), en Jesus verwys na die eindoordeel as ‘n skeiding van die koring en die kaf (Mt 13:30; 40-43; vgl. die slegte vrugte van slegte bome, as kenmerk van die valse profete, wat uitgekap word, Mt 7:15-20).
‘maar hulle was nie van ons nie’ – al het hulle aan die gemeente behoort en gemeen het dat hulle aan Christus behoort, het die groep seker nie die volle konsekwensie besef wat dit beteken om Jesus te volg nie. Hulle het hulle verbindtenis met die gemeente verbreek òf omdat hulle nooit in die geloofsoortuigings van die gemeente gedeel het nie, òf nie meer daarmee kon voortgaan nie.
‘want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het’ – as hulle waarlik toegewy was aan die waarheid van die evangelie wat die apostels verkondig het, sou hulle in die gemeente gebly het. Die voltooide verlede tyd van ‘bly’ druk die gedagte uit van voortgang van die verlede tot in die hede: hulle sou tot nou toe nog by ons gebly het in die gemeenskap van die gemeente.
‘maar (hulle het uitgegaan) sodat duidelik gewys is dat nie een van hulle van ons is nie’ – die passief ‘duidelik gewys is’ veronderstel dat God, met hulle uitgaan uit die gemeente, geopenbaar het dat nie een van hulle van ons is nie. God het hulle aan hulleself oorgegee om te doen soos hulle goed dink, omdat hulle nie sy Seun as God en ware mens met sy liefdesgebod en al, wou aanvaar nie. So het hulle hulle ware kleure gewys. Die Antichris maak sy verskyning op die plek waar hy die minste verwag word. Soos Judas een van die binnekring van Jesus se vertrouelinge was, en tog van hulle uitgegaan het, so ook die antichriste.
Jesus het gesê: wie tot die einde toe volhard, sal gered word (Mk 13:13). Volharding in die geloof in Jesus is die kenmerk van mense wat deur God gered is.
Skrywer: Prof Francois Malan