Die eerste brief van Johannes: Breek met die sonde Die eerste vereiste om in die lig te kan lewe: verwerp sonde (vervolg) (b) breek met sonde (2:1-2)

image_pdfimage_print

2:1 Anders as in die vorige twee pare sinne in 1:8-9, begin die antwoord hier negatief: hy skryf hierdie brief om enige sondige gedrag te ontmoedig. Daarna kom die ‘Maar as…’ sin.

Hy spreek sy lesers nou direk aan as ‘my liewe kindertjies’ (teknia klein kindertjies as ‘n lieflingsnaam; vgl. Jn 13:33)  nie bloot kinders (tekna) of ‘my kinders’ nie – daarmee word sy intieme verhouding met die gemeentes uitgedruk. Hy gebruik ook die eerste persoon ‘Ek skryf aan julle’ waar hy tot nou toe die meervoud ‘ons’ gebruik het, waarmee hy soms verwys na hulle apostels se verkondiging, en hom soms identifiseer met die gemeente se probleem.

Die eerste en belangrikste voorwaarde om in die lig van God te leef is om sonde as ‘n lewenswyse te los. Daarmee sê hy nie dat ons sondeloos kan lewe nie, maar pleit hy dat ons die geneigdheid tot sonde wat uitloop op sondige gedagtes en woorde en dade sal teenstaan, en so ver as moontlik onberispelik sal lewe in die lig van God. Die doel van die hele brief is dat hulle nie meer sal sondig nie (vgl. Jesus se opdragte in Jn 5:14 en 8:11).

Die positiewe antwoord op die probleem van sonde is: as iemand sondig in woord of daad, God het daarvoor voorsiening gemaak, op twee maniere:

(i) God het vir ons ‘n voorspraak/advokaat/helper  voorsien (parakletos iemand wat geroep is om langs my te staan; ‘n woord wat in die Bybel slegs in die Johannes Evangelie en hier in 1 Jn voorkom). Jesus staan ons by en tree vir ons in by die Vader (Rom 8:34; Hebr.7:25;  9:24). God se vergewende aard word geopenbaar deur sy voorsiening van ‘n Middelaar tussen ons en God: ‘as enigiemand sondig (uit swakheid), ons het ‘n Helper in die teenwoordigheid van die Vader, wat vir ons intree, nl. Jesus Christus, self God, wat ons mensheid aangeneem het. In Jn 14:16 het Hy na die Heilige Gees verwys as ‘n ander Helper (parakletos)  wat beteken dat Jesus die eerste Helper is, wat vir ons by die Vader sal vra (Jn 16:16; vgl. 14:12-14; Hand 16:7 praat van die Gees van Jesus;  Flp 1:19 van die Gees van Christus; Rom 8:9 praat van die Gees van God en noem die Heilige Gees ook die Gees van Christus). Soos Jesus vir sy volgelinge intree by God, pleit die Heilige Gees by ‘n ongelowige wêreld om in Jesus te glo en Hom te volg. Jesus (Grieks vir die Hebreeuse Joshua ‘die Here red’) is sy aardse naam wat die Engel aan Maria (Lk 1:31) en aan Josef (Mt 1:21) aangekondig het. Christus ‘Gesalfde’, deur God gestuur as Profeet: om God te openbaar, Priester: om ons verhouding met God reg te maak deur sy offer aan die kruis en sy opstanding, Koning: aan wie alle mag  in die hemel en op die aarde gegee is.                

Ons Helper in die hemel is ‘regverdig.’ Jesus het volledig voldoen aan die eise wat God aan die mens stel. Hy is volkome onskuldig aan die sonde waarvan die sondaars aangekla word.  Hy het alle geregtigheid kom vervul (Mat 3:15; Rom 10:4). Met ‘n regverdige regter (1:9) en ‘n regverdige pleitbesorger (2:1) kan ‘n regverdige oordeel verwag word.  Op grond van Jesus se regverdigheid, wat veral aan die kruis geopenbaar is toe Hy ons regverdige straf gedra het (1:2), kan Hy vra dat die geregtigheid, wat Hy vir ons aan die kruis bewerk het, toegeken word aan elke kind van God deur hulle verbondenheid aan Hom as die Seun van God. Op grond daarvan kan God ook elke soort ongeregtigheid van ons reining (1:9; Rom 3:25-26).  God self, die offerdood van Christus, en Christus as ons Voorspreek by die Vader, is die magte vanwaar  ons vergewing, reiniging en heiliging kom (vgl. 1 Kor 1:30)

2:2 (ii) God het nie slegs ‘n regverdige voorspraak vir die sondaars voorsien nie, maar die voospraak is self ook die middel vir die vergifnis van ons sondes, egter nie net vir ons s’n nie, maar ook van die hele wêreld’(1:7). Deur sy menswording, woorde, dade, dood en opstanding uit die dood, bied God aan ons, en aan die hele wêreld, die weg van verlossing van sondes aan. Deur ons verbinding aan Hom deur geloof, vergewe God ons sondes.

            ‘Versoening’ of ‘soenoffer’ beteken nie dat Jesus ‘n offer aan ‘n toornige God aangebied het om sy toorn te kalmeer (soos in die heidense godsdienste) nie. Die woord toorn in Jn 3:36 verwys na God se straf op die sonde, wat ook God se toorn oor die bose impliseer. Maar die klem lê op die straf op die ongelowige wat weier om God se verlossing in Christus te aanvaar, en nie op God se toorn oor die bose nie. Volgens Openb. 20:15 word dié mense wie se name nie in die boek van die lewe opgeskryf is nie, saam met die duiwel, in die poel van swawel en vuur gegooi (Openb 20:10; vgl. Mt 25:41).

            Johannes se klem lê egter op God se liefde vir die wêreld, dat Hy  sy enigste Seun vir die wêreld gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Jn 3:16). Hy is die weg na God toe vir die hele wêreld, omdat Hy die verdiende regverdige straf op ons sonde gedra het, ons van die skuld/smet van die sonde reinig, en van die mag van die sonde bevry sodat ons, aan Hom verbind, geregverdig en vlekkeloos voor God en in sy lig te kan lewe. Ons word aan Hom verbind deur die geloof wat die Heilige Gees in ons harte bewerk. Die teks beklemtoon dat Jesus die soenoffer vir die sonde is, teenwoordige tyd, nou en vir altyd. Sy offer aan die kruis oorspan die eeue van die begin van die wêreld tot in ewigheid. Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Jn 1:29), en so versoening tussen ons en God bewerk. Hy stel ons ook in staat om te breek met die sonde en daagliks te lewe in die lig.

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...