Die Eerste Brief van Johannes: Die eerste vereistes vir kinders van God (3:7-9) – Francois Malan

Lewe regverdig

3:7 Die gelowige moet sondes los deur reg te lewe (dikaios, regverdig, beteken ook om in die regte versoende verhouding tot God en jou medemens te lewe).

Die gemeentelede word weer aangespreek as ‘my liewe kindertjies’ deur Johannes hulle geestelike vader, om die situasie wat hulle bedreig dringend onder hulle aandag te bring. Hulle word bedreig deur die lidmate wat afgeskei het en verdeeldheid in die gemeentes saai met hulle valse leer en lewe. ‘Laat nieand julle mislei nie!’ Teenoor die misleiers en hulle misleiding sê Johannes dat die persoon wat reg glo, ook reg lewe: die een wat reg doen, wat doen wat God sê, is regverdig (dikaios) voor God (vgl. Mt 7:16: aan hulle vrugte sal julle hulle ken). In 1 Jn 3:10-11, 12-24 word die regte lewe uitgespel as gehoorsame liefde.

‘soos Hy regverdig is’ – verwys na Jesus wat in die regte verhouding tot sy Vader geleef het, die Vader se wil volkome uitgevoer het – dit is sy wese. So moet sy volgelinge ook lewe. Hulle wese moet regverdig wees. Dit is Jesus se geskenk aan hulle wat in Hom glo. Ps 1:6 sê: die Here lei die regverdiges op hulle pad. Dit is alleen Christus wat ons sondaars se verhouding met God reg maak, en deur in Hom te bly kan ons in die oë van God reg lewe, as sy geliefde kinders, omdat ons aan sy geliefde Seun verbind is in geloof, en Hom volg as ons voorbeeld en leier.

3:8 Johannes wys op die wesenlike verskil tussen ‘n persoon wat ‘n slaaf is van sonde (v6) en ‘n gelowige wat getrou bly aan sy roeping in Christus (v7). Laasgenoemde behoort aan God wat hom/haar aangeneem het (vv1-2) en die slaaf van sonde behoort aan die duiwel vir wie hy/sy volg (v8). Die regverdige volgeling van Jesus openbaar sy geestlike natuur en oorsprong in dade van geregtigheid, wat reg is en by ‘n kind van God pas (v7); maar die sondaar verraai sy verband met die duiwel deur sy wettelose optrede.

Die een wat sonde doen (teenwoordige tyd, wat voortgang aandui) is uit die duiwel’ – in v12 word na Kain verwys, wat wys dat Johannes hier dink aan Genesis, ook aan Gen 3:1-15 waar die duiwel deur ‘n slang die vrou verlei om ongehoorsaam teenoor God te wees (in Openb 12:9; 20:2 noem hy die duiwel ‘die ou slang’). Die een wat sonde doen het daarom nie God as Vader nie, maar volg die duiwel, wat die opstand teen die wet en wil van God aanstig.

‘want die duiwel sondig van die begin af’ – Paulus sien die oorsprong van die sonde by Adam (Rom 5:12-19; 1 Kor 15:22), maar Johannes gaan verder terug tot aan ‘die begin’ – van die wêreld. Met die eerste mens was hy al daar. Van die begin af was daar ‘n geestelike mag wat in opstand teen God was en hy probeer mense verlei om hulle rug op God te draai (vgl. Jn 8:44: Julle is kinders van die duiwel…Hy was van die begin af ‘n moordenaar…die vader van die leuen).

‘hiervoor het die Seun van God verskyn om die werke van die duiwel te vernietig’ – Johannes beskryf die doel van God se menswording as die verlossing van die mens uit die sondemag van die duiwel om mense te verlei tot ‘n lewe teen of sonder God. Jesus se optrede en voorbeeld, sy dood en sy opstanding, het ons kom losmaak uit die ban van die sonde, sodat ons saam met Jesus sterwe aan sonde en saam met Hom opstaan om vir God te lewe (Rom 6:10-11).

3:9 Die egte kind van God is teen die sonde. ‘Elkeen wat uit God gebore is doen nie meer sonde nie’ – vir die gelowige is dit ‘n nuwe geboorte uit God, die sondaar volg sy eie wil teen God se wil en volg sý geestelike ‘vader,’ die duiwel..

‘…en hy kan nie sondig nie, omdat hy uit God gebore is’ – met die uitdrukking ‘uit God gebore’ begin en eindig vers 9. Die wese en aard van die gelowige word daarmee onderstreep. Gelowiges kom uit ‘n nuwe geboorte deur die Heilige Gees, wat in hulle kom woon het, om van hulle kinders van God te maak, van Bo weer gebore (Jn 3:3). Die Gees van God het hulle met God se woord oortuig. Die werkwoord ‘gebore is,’ is in die voltooide tyd, iets wat reeds gebeur het en waarvan die gevolge voortduur; reeds weergebore en nou voortlewe as kind van God.

As gebore kinders van God het hulle die vermoë om nie sonde te doen nie. Dit word gesê om die gelowiges te oortuig dat hulle sonder sonde behoort te lewe en volgens hulle nuwe wese en aard te lewe.

‘omdat sy “saad” in hom bly’ – ‘saad’ word hier gebruik vir die nuwe natuur van die gelowige, die kiem van die nuwe lewe, wat ingeplant word in die mens wat geestelik weergebore word, wat verantwoordelik is vir sy geestelike groei, soos ‘n saad wat groei, en die moontlikheid skep om sonder sonde te lewe. Die groeiende saad is die woord van God wat op ons harte geskryf word en in ons gedagtes vasgelê word deur die Heilige Gees wat in ons woon (1 Jn 2:14,24, 27: Jer 31:33-34; Eseg 36:25-27; Jn 14:23; Rom 8:9,11).

Geen kind van God, wat deur die Heilige Gees nuut gebore is, kan maar kies om in die werke van die duiwel te lewe nie, omdat hy altyd die moontlikheid het om rein, regverdig/reg, en in liefde te lewe. Hy/sy behoort reeds aan die ewige lewe, omdat hy/sy aan Christus verbind is, maar lewe nog in die bose wêreld, wat teen God se wil lewe. Daarom dring Johannes by sy lesers aan om te lewe soos wat hulle reeds in Christus is (1 Jn 2:27,28). Christus het self by sy volgelinge aangedring om in Hom te bly want Hy, die sondelose, die regverdige, bly in ons (Jn 15:4-7).

In 1:8,10 en 2:1 sê Johannes dat alle mense sondig, gelowiges ook. Niemand kan beweer dat hy/sy sonder sonde is nie, en dat ons met ons sonde na Jesus toe kan gaan. Dit sê hy veral teen dié Grieke wat beweer dat hulle deur hulle hoëre kennis heeltemal sonder sonde is. In hfs. 3 sê Hy dat ‘n kind van God nie in sonde voortleef of kan voortleef nie. Dit sê hy veral teen dié Grieke, wat dink dit is nie verkeerd of ernstig om in sonde te leef nie.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan