Die Eerste Brief van Johannes: Die tweede vereistes vir kinders van God (3:17-20) – Francois Malan
Liefde met die daad en in waarheid (3:17-20)
3:17 Na die bereidheid vir die hoogste offer van gelowiges in v16 gevra is, verklaar Johannes dat liefde ook beteken dat ek gewillig is om my besittings met die behoeftiges te deel. Die christen word gevra om sy liefde vir ander uit te leef in klein en groot sake. Die beginsel van selfverloëning is dieselfde in albei situasies.
‘iemand wat aardse besittings het’ – verwys nie slegs na ryk mense nie. Die woord bios (lewensmiddele) vir ‘besittings’ word ook gebruik vir die arm wedeuwee wat haar hele aardse besitting ingegooi het met haar twee muntstukkies (Mk 12:44). 1 Jn 2:16 se ‘aanstellery op grond van besittings’ verwys moontlik na ‘n ryke. Die punt is dat elke christen wat in die posisie is om ander materieel te help, behoort dit verantwoordelik te doen.
‘en sy broer sien gebrek ly…’ die werkwoord wat hier vir ‘sien’ gebruik word (theoorein) beteken om met aandag, en oor ‘n tyd, raak te sien en te verstaan wat aangaan, want hulle is lede van dieselfde gemeente. Dit beteken hy kan nie so maklik sy rug daarop draai nie, want hy verstaan wat met sy broer aangaan. Hier word van ‘die broer van hom,’ gepraat, ‘n spesifieke persoon in die gemeente wat gebrek ly.
‘maar sy hart nogtans vir hom toesluit’ –wat uit selfsug sy liefde of meegevoel vir hom sluit; sy oë sluit vir die die nood wat hy gesien het, omdat sy hart nie uitgaan na die mens in nood nie, want hy dink net aan homself, en nie aan Jesus se woorde en voorbeeld nie.
‘hoe bly die liefde van God in hom?’ Die ‘liefde van God’ kan verwys na die persoon se liefde vir God, of na ‘n liefde soos God s’n, of God se liefde wat deur die Heilige Gees in Hom kom woon het om van hom ‘n kind van God te maak. Moontlik verwys dit na al drie die moontlikhede.
3:18 Of dit nou ‘n uiterste doodsaak is, of ‘n alledaagse gebrek wat ons liefdesaandag en toewyding vra, die wyse waarop die liefde uitgeleef word, is van kardinale belang, asook die bestaan en kwaliteit van die liefde. Liefde moet aktief optree, en nie slegs by mooi woorde bly nie, maar met dade bewys word.
Hy spreek hulle weer aan as ‘my liewe kindertjies’ om die liefde te onderstreep, en as hulle geestelike vader aan te spreek: ‘ons moenie net met woorde, met die tong, liehê nie (‘n hendiadis, twee woorde wat dieselfde sê, ‘n woord en ‘n tong, die woord en die instrument om die woord voort te bring) – om te beklemtoon dat dit nie los praatjies moet wees nie, maar met ‘n daad en in waarheid’ – met aksie en egtheid; die twee beskrywings vul mekaar aan. Ons moet ons liefde met dade uitleef teenoor dié wat gebrek ly, en dit op die regte manier doen. Vir Johannes beteken ‘in waarheid’ deur God se liefdesopdrag te gehoorsaam, as die gelowige se antwoord op God se openbaring van Homself in Christus as waarheid en liefdesdaad.
3:19-20 Die verse eggo 2:28 se versekering oor verlossing in die komende bedeling, hier toegepas op die huidige lewe. Die gevolg van ‘n lewe in liefde is die vertroue dat God by ons is, ‘n vertroue wat Hy self in ons bewerk.
[verse 19-20 se taal en grammatika is moeilik, en daar word verskillende vertalings en verklarings voor gegee. Wat beteken dit bv. dat God groter is as ons hart, en kennis het van alle dinge? Augustinus en Calvyn het verwys na 1 Kor 4:4: ‘die Here sal ook die dinge wat in duisternis verborge is, aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê.’ Daarom het hulle hierdie verse gesien as ‘n pleidooi vir absolute opregtheid en noukeurige selfondersoek. Luther sien dit egter as ‘n magna consolatio, ‘n groot troos, in die lig van Ps 103:8-14. Volgens 1 Jn1:8-10 lei ons belydenis van sonde tot vertroue dat God ons vergewe (2:1-2); verder herinner 3:1 ons aan die grootheid van God se liefde en dat ons daarin kan lewe (3:16) en 2:12-14 aan die oorwinnng wat reeds oor die bose behaal is; 4:18 sê dat volmaakte liefde die vrees uitdryf. 2 Tim 2:11-13 sê ‘as ons ontrou is, Christus bly getrou.’ Daarom kan ons saam met Luther juig oor God wat, groter is as ons hart/gewete; en ons vergewe waar ons onsself nie vergewe nie.]
‘En hieraan (ons gehoorsaamheid aan die liefdesgebod, wat in 3:10-18 uitgespel is) sal ons weet dat ons uit die waarheid kom’ – ons is ‘uit die waarheid’ omdat ons ‘uit God is’ want God is waarheid, en Hy het ons as sy kinders nuut laat gebore word, om soos Hy te wees en volgens die waarheid van sy woord te lewe.
Uit ons gehoorsaamheid aan God se liefdesgebod ‘en met ‘n geruste hart/gewete voor God kan staan – wanneer ons bewus word dat ons in God se teenwoordigheid lewe, begin ons hart/gewete onsself veroordeel, maar bewus van God se teenwoordigheid word ons weer verseker van God se genade en vergifnis (letterlik ‘hart’ soos in v17, maar hier in die sin van ons gewete).
‘wanneer ons hart/gewete ons aankla, God is groter as ons hart/gewete en Hy weet alles’ – wanneer ons bewus is van ons tekortkomings in ons gehoorsaamheid aan God se liefdesgebod – God ken ons deur en deur (vgl. Petrus se antwoord op Jesus se vraag na sy liefde vir Jesus, Jn 21:17). God se liefde is groter as ons sonde (1 Jn 1:8-9; Hosea 11:8-9). Ons gewete kan ons met rede aankla, maar soms is dit die duiwel wat ons laat skuldig voel.
Die selfveroordeling en die vrymoedigheid voor God is die gevolg van God se inwoning in ons, en van ons bly in Hom. Wanneer ons hart ons veroordeel, moet ons na God kyk wat ‘groter’ as ons hart is, en anders oor ons tekortkomings oordeel as ons self. God se ‘groter’ wys na sy vergewende genade, vgl. Jn 1:16 se ‘genade op genade.’. ‘Hy weet alles’ – Hy ken ons beter as wat ons onsself ken en kan ons selfveroordeling tot ruste bring
Skrywer: Prof Francois Malan