Die Eerste Brief van Johannes: Ken God. Die derde vereiste om in die lig te kan lewe: verwerp wêreldgesindheid en oorwin die bose (2:12-17) (a) Ken God (2:12-14)
In digterlike vorm, met twee stelle van drie sinne elk parallel geskryf, word die gelowiges se oorwinning oor die mag van die Bose besing. Teenoor die vorige verse oor die valse Christene, wat sê dat hulle in die lig is, maar in duisternis lewe, kan van die egte gelowiges gesê word dat hulle waarlik God se vergifnis ontvang het, Hom persoonlik ken, en die bose oorwin. Hulle word verseker van hulle verlossing. Verse 15-17 is ‘n waarskuwing aan Johannes se ortodokse lesers om die versoekings te weerstaan, en nie aan te pas by die wêreldse lewenswyse nie, wat die valse gelowiges vasgevang het.
Die eerste drie sinne begin met ‘Ek skryf aan julle…’ en verwys na die positiewe opdragte in 2:3,7,8,10 om lief te hê; die tweede groep van drie sinne begin met ‘Ek het aan julle geskryf…’ en verwys na die negatiewe aanwysings in 2:4,9,11 moenie sondig nie.
Die drie terme ‘kindertjies,’ ‘vaders’ en ‘jongmense’ word verskillend verstaan. ‘Kindertjies’ word deur Johannes gewoonlik gebruik vir die hele gemeente (2:1); vaders kan na ouer persone verwys, of na die rypheid van gelowiges wat leiding gee; jongmense kan verwys na fisiese ouderdom, of na die energie van die jeug in diens van die Here. Augustinus (354-430 n.Chr) het die drie benamings gesien as geestelike kwaliteite wat by elke gelowige pas: ‘kinderstjies’ in onskuld, ‘jongmense’ in sterkte, ‘vaders’ in ervaring. Van al die gelowiges kan gesê word: julle sondes is vergewe, julle het Hom geken wat van die begin af was, julle het die bose oorwin. Met Johannes se manier om woorde te gebruik met meervoudige betekenisse, kan al die moontlikhede waarskynlik in die oog gewees het, maar met digterlike afwisseling om die hele gemeente te betrek, word telkens die hele gemeente bedoel.
Die ses maal ‘omdat’ kan ook ‘dat’ wees: met ‘naamlik dat’ herinner die skrywer sy lesers aan hulle Christelike erfenis, en hy moedig hulle aan om verantwoordelik te bly lewe in die lig. Hy kan dit egter ook sê ‘omdat’ hulle verlossing waar is.
2:12 ‘Ek skryf aan julle, my geliefdes (kindertjies as liefdesnaam), omdat julle sondes vergewe is op grond van sy Naam.’ Die gelowiges se sondes is deur God vergewe en dit bly so (is vergewe – passiewe voltooide tyd). ‘sy Naam’ verwys na alles wat God in die persoon en bediening van Jesus Christus gedoen het. Dit is die rede waarom God hulle sondes vergewe het, en gelowiges as God se gereinigde ‘kindertjies’ kan lewe (Hand 4:12). Jesus Christus is die fondament van ons ganse lewe (1 Kor 3:11) en die ruimte waarin die Christen leef (1 Kor 3:1 ‘in Cristus’). Hulle is aan Hom verbind en dra sy Naam.
2:13 Die ‘vaders’ van die gemeente kan verwys na die ouer persone (moeders ingesluit) of die meer ervare gelowiges, maar ‘die kennis van Hom wat van die begin af is’ is die voorreg van elke gelowige. Joh 1:1 sê reeds dat die Woord van God wat mens geword het van die begin af was, dat Hy by God was en self God was – die gelowige is seker dat Jesus God is, teenoor die dwalende Joodse gelowiges, wat Jesus se Godheid betwyfel en teenoor die ‘verligte’ Hellenistiese gelowiges, wat op hulle siening en kennis van God vertrou en nie op Jesus wat God kom openbaar het nie.
Die ‘jongmense’ kan na die jeug in die gemeente verwys, of na nuwe gelowiges. Maar die oorwinning oor die Bose verwys na alle gelowiges. ‘Julle het oorwin’ is ook in die voltooide tyd, wat verwys na ‘n oorwinning in die verlede wat daaglks voortgaan, nadat Jesus aan die kruis die Bose oorwin het (Jn 12:31; Kol 2:15). Ons oowinning is die daaglikse toepassing van Jesus se oorwinning, deur nie toe te gee aan die Bose en ons sondige selfsugtige begeertes nie. Van die 28 keer wat die werkwoord ‘oorwin’ in die Nuwe Testament voorkom, kom 24 daarvan in die Johannese geskrifte voor en ‘oorwinning’ slegs in 1Jn 5:4.
Wat die gelowiges en die kerk onderskei van die valse aanspraakmakers op geloof in verse 12-13, word opgesom as die vergifnis van hulle sonde deur Christus, hulle kennis van God deur Jesus, en hulle oorwinning oor die duiwel deur hulle verbondenheid aan Jesus se lewe, sterwe en opstanding.
2:14 Die stellings in verse 12-13 word hier opgesom en ‘n bietjie uitgebrei as inleiding tot die vermanings wat daaruit voortvloei in verse 15-17.
‘Geliefdes’ (paidia ‘kindertjies’ is ook ‘n troetelnaam soos vers 12 se teknia) as aanduiding van al die gelowiges, van oud tot jong, vaders en jonges ingesluit. ‘omdat julle die Vader ken’ (in vers 12 was dit omdat hulle sondes vergewe is);
‘Vaders, omdat julle Hom ken wat van die begin af is (dieselfde as in vers13)
‘Jongmense, omdat julle sterk is, en die woord van God in julle bly (‘n uitbreiding), en julle die Bose oorwin het’ (‘n herhaling van v13).
Deur Jesus te ken, ken ons die Vader (Jn 14:7; vgl. 14:10: die Vader is in Jesus en Jesus in die Vader). Die gelowiges is geestelik sterk deurdat die woord van God in hulle bly, deur die inwoning van die Heilige Gees. Hy is die Gees van die waarheid, wat ons alles leer en herinner aan alles wat Jesus vir die dissipels gesê het (Jn 14:17,26). Daarom is die egte gelowige in staat om die Bose te oorwin (soos Jesus Hom oorwin het deur gebruik van die woord van God (Mat.4:4,7,10).
Skrywer: Prof Francois Malan