Die eerste brief van Johannes: Onderhou Jesus se woord Die tweede vereiste om in die lig te kan lewe:
In 1:5-7 is die noodsaaklikheid gestel om in die lig te lewe. Die eerste vereiste vir egte Christelike lewe is negatief gestel: breek met die sonde (1:8-2:2). Die tweede, positiewe vereiste, is gehoorsaamheid, veral aan die wet van die liefde (2:3-11). Die onmiddelike effek van die lig is om sonde bloot te lê, en die primêre doel van die lig is om ons verantwoordelikheid te belig: om God te ken en God en ons mede-gelowiges lief te hê.
2:3 Voor die koms van Christus was daar al ‘n beweging onder Jode en Grieke om kennis (gnoosis) as die sleutel tot die lewe en tot God te beskou. En hulle, wat geroem het oor hulle wysheid en kennis van dieper dinge, het gewoonlik nie belang gestel in die etiek of hoe jy lewe nie. Dit was ‘n soeke na intelektuele kennis ter wille van meerdere kennis, en hulle was selde bekommerd oor morele optrede. Een van hulle spreuke was ‘ons weet dat ons weet.’
Johannes begin vers 2 met die spreuk van die Gnostieke, maar vul dit met egte Christelike inhoud: ‘en dit is hoe ons weet dat ons Hom ken…’ Die werkwoord ‘dat ons Hom ken’ is in die voltooide tyd. Dit beteken dat ons Jesus leer ken het in die verlede, en die effek daarvan duur voort in die hede. Ons ken God nie deur die regte denkprosesse nie, maar deur ‘n egte verhouding met Hom. Dit is nie in die eerste plek ‘n verstandelike saak nie, maar ‘n geloofsverhouding tot God. Om God te ken beteken om in gemeenskap met Hom te lewe. Jesus het mens geword om onder mense konkreet liefde te betoon, en vra nou konkrete liefde. Om God te ken beteken ook om op Hom te vertrou en Hom te gehoorsaam. Hy gee ons die krag om in dié gehoorsaamheid te lewe.
Die toets vir egte kennis van God is: ‘as ons sy gebooie onderhou/gehoorsaam.’ Die woord vir ‘onderhou’ of gehoorsaam, is in die teenwoordige tyd. Dit beteken dat ons sy gebooie deurgaans gehoorsaam as ons lewenswyse (vgl. Hosea 4:1-2). Ons gehoorsaamheid aan sy gebooie is die bewys dat ons Hom ken, en is die toets vir ons kennis van Hom (vgl. Jn 15:10: As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly).
Sy gebooie is in Eksodus 20:2-17 saamgevat, en deur Jesus vir die skrifgeleerdes opgesom as liefde tot God en ons medemens (Mt 22:37-40) en met sy nuwe gebod vir sy volgelinge in Jn 13:34 en 15:12 om mekaar lief te hê soos Hy ons liefhet; en selfs om jou vyande lief te hê omdat jy kind is van jou hemelse Vader, wat vir die hele skepping sorg (Mt 5:43-48).
2:4 Die gesprek met die dwaalleraars word voortgesit met klem op drie van hulle aansprake, en ‘n negatiewe en positiewe uitbreiding daarop oor gehoorsaamheid wat voortvloei uit die regte verhouding met God:
2:4 Iemand wat sê: Ek ken Hom…moet gehoorsaam wees (v5) anders lieg hy’
2:6 Wie beweer dat hy in Hom bly… moet lewe soos Jesus gelewe het (met ‘n uitbreiding daarop vv7-8).’
2:9 As iemand beweer dat hy in die lig is… moet hy sy broer/suster liefhê (v10) anders is hy in die duister.’ Die ‘iemand’ kan egter ook ‘n gelowige wees, wat homself moet toets aan die drie kenmerke wat gestel word.
Wie beweer dat hy God ken, sonder dat hy die gewoonte het om Hom te gehoorsaam, soos Christus Hom aan ons bekendgemaak het, is ‘n leuenaar en die waarheid is nie in hom nie (die werkwoord ‘onderhou’ in die teenswoordige tyd wys na ‘n lewe in gehoorsaamheid aan God). In 1:10 het die een wat beweer dat die mens sondeloos is, van God ‘n leuenaar gemaak. In 2:4 is die een self ‘n leuenaar, wat ‘n verhouding met God bely, sonder ‘n gehoorsame lewe. Dit word versterk deur die byvoeging: en die waarheid (Christus, die woord van lewe 1:1, as God se waarheid, Jn 14:6) is nie in so iemand nie.’
2:5 ‘Wie ookal sy (God se) woord hou (steeds daarvolgens lewe)…’ – in 2:3 het dit gegaan oor onderhouding (gehoorsaam) van sy gebooie. Om sy woord te hou dui op ‘n meer persoonlike verband met God as die gehoorsaming van sy gebooie, en verwys dit na God se morele wet en die volle selfopenbaring van God in Jesus Christus, die Woord van God; dat ons steeds sal lewe bewus daarvan dat ons in die teenwoordigheid van God lewe.
‘…in dié persoon is die liefde van God waarlik volbring’ (‘volbring’ die woord waarmee Jesus aan die kruis gesterf het). Die passief ‘is volbring’ verwys na die werk van God in die gelowige, in wie die liefde van God so deurgewerk het, dat hy/sy volgens God se woord lewe, en al meer soos Jesus word in sy/haar liefdesdiens aan ander. Dit bewys dat die Heilige Gees in dié persoon woon en werk.
Die ‘waarlik’ is waarskynlik gerig teen die gemeentelede wat valslik beweer dat hulle in gemeenskap met God lewe. maar nie sy woord/sy wil uitlewe nie. Die liefde tot God kom nie uit in ‘n gevoel of ‘n ekstatiese belewenis nie, maar in ‘n lewe volgens die woord van God wat Jesus aan ons geopenbaar het.
‘Hieruit weet ons dat ons in Hom is’ – ‘hieruit’ verwys in 1 Johannes gewoonlik na wat daarop volg. Om in Hom te wees, verwys na die wonder dat God ons opgeneem het in die gemeenskap tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees; dat die Heilige Gees ons met geloof aan sy Seun verbind, sodat ons saam met die Seun kinders van God se gesin is.
Skrywer: Prof Francois Malan