Die eerste Christen
“Be laborious and diligent in your callings… and if you cheerfully serve [God] in the labour of your hands, with a heavenly and obedient mind, it will be as acceptable to him as if you had spent all that time in more spiritual exercises.” – Richard Baxter
Die eerste Christen
Ons het gesien dat Jesus Christus regmaak wat verkeerd is. Dit bring ons by die volgende vraag: Hoe moet ons daarop reageer? Dit bring ons by dié fundamentele aspek van ons verhouding met God – geloof. Maar wat beteken geloof? Daarvoor gaan ons na Jesus se ontmoeting met Maria Magdalena kyk.
Niemand het in homself die vermoë om self geloof in Jesus Christus te produseer nie. Daarvoor het hy ‘n ingryping van buite nodig.
Jesus Christus het herhaaldelik verwys na sy dood en opstanding. Maria Magdalena moes terdeë daarvan bewus gewees het. Tog toe sy die leë graf sien, was haar eerste reaksie dat hulle die Here uit die graf weggevat het.
Geloof in die persoon en werk van Jesus Christus kom nie natuurlik nie – ons het ‘n inherente geestelike blindheid. Jesus moes tot Maria se hulp kom. Ons het ook sy hulp nodig: Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik (Matteus 19:26). Geloof is rasioneel, maar dit is meer as net rasioneel. Geloof berus op bewyse – en die bewyse sien ons reg voor ons.
Moderne mense glo nie meer in wonderwerke nie. Ons glo dat geloof die teenoorgestelde van logika is. Geloof is nie hoop op iets wat nie waar is nie. Geloof beteken ek het sekerheid oor iets wat ek nie kan sien nie.
Verbasend is die eerste ooggetuie van Jesus se opstanding ‘n vrou. Vroue kon nie destyds in die Romeinse en Joodse howe getuig nie, want hulle getuienis was as onbetroubaar en daarom as ontoelaatbaar beskou. En tog word Maria gebruik.
Maar geloof het ‘n rasionele komponent. Petrus kom by die graf en gaan in. Die doeke lê daar; die doek wat om Jesus se kop was, lê daar eenkant – opgerol. Petrus dink nou. As Jesus opgestaan het, sou die doeke tog geskeur en deurmekaar gewees het; as iemand Jesus se lyk gevat het, sou hulle tog nie die doeke afgehaal het nie. Geloof betrek egter nie net die rede nie, maar die hele persoon – intellek, emosies en wil.
Lees ons hierdie verhaal verder sien ons dat geloof deur genade kom. Ons sien die teerheid van die interaksie tussen Jesus en Maria: Mevrou, waarom huil jy? Maria dink egter dat Jesus die tuinopsigter is, hy sou dalk vir haar kan sê wat met Jesus se lyk gebeur het. Jesus wend nog ‘n poging om tot haar hart deur te dring. Hy sê een enkele woord: Maria! Ware geloof is altyd persoonlik – Jesus het nie vir die mense aan die kruis gesterf nie, maar vir my persoonlik. Die probleem is dat Maria ‘n dooie Jesus soek. Maar Maria se geloof kom deur genade – sy verdien dit nie. Ons vergeet dat Jesus die goeie herder is: Hy roep sy skape op hulle name (Johannes 10:3).
Maria is die eerste mens wat ‘n persoonlike ontmoeting met die opgestane Jesus gehad het – die eerste Christen. Jesus kies doelbewus ‘n vrou, ‘n vrou wat vantevore van bose geeste verlos moes word. Sy was een van sy ondersteuningspan – nie een van die leiers nie; sy was nie wat ons sou beskryf as ‘n pilaar in die samelewing nie. My verlossing berus nie op wie ek is of wat ek in die verlede gedoen het nie – my baanrekord is nie vir God belangrik nie. Die goeie nuus is dat ek gered word deur wat Jesus Christus gedoen het – nie deur wat ek moet doen nie. Geloof is genade – ‘n gawe van God.
Vraag: Hoe reageer ek op dit wat Jesus Christus vir my gedoen het? Deur geloof.