Die eerste gesprek vervolg (3:11-3:21)

image_pdfimage_print

Die eerste gesprek vervolg (3:11-3:21) – Francois Malan

3:11 Vir die derde keer begin Jesus met ‘amen, amen, Ek sê vir jou…’ om die betroubaarheid van sy getuienis te bevestig. Jesus stel ‘ons’ teenoor Nikodemus se ‘ons’ van vers 2: Jesus en dié wat in Hom glo (soos bv. Johannes die Doper en Jesus se dissipels), wat vir Jesus aanvaar en sy wonders as tekens van sy goddelike sending aanvaar, teenoor ‘julle’, bv. Nikodemus en die Jode wat Hom en die heil wat Hy bring nie aanvaar nie.

3:12 Jesus stel die aardse en hemelse dinge teenoor mekaar. Die aardse verwys waarskynlik na wat Hy nou reeds aan hulle vertel het van die geboorte uit die Gees; die hemelse na wat nog verborge is van God se planne, soos bv. Jesus se wederkoms en die komende koninkryk van God. 

 

3:13 Alleen Jesus is in staat om die hemelse dinge bekend te maak, omdat Hy in die hemel was – in voortdurende verkeer tussen die Vader en die Seun. Elke poging van die mens om op sy eie die hemel te bereik is nutteloos. Hy, wat in die hemel by God was, het uit die hemel gekom, mens geword (1:51), sodat weergeboorte kan geskied. Die hemel het van Bo af oopgemaak.

 

3:14 Soos in 1:51 gebruik Jesus ‘n Ou-Testamentiese beeld (Numeri 21:4-9). Soos Moses die slang op ‘n paal gesit het, moet die Seun van die mens ‘verhoog’ word. Die ‘moet’ wys weer na God se besluit wat agter sy kruisdood sit (8:29). ‘Verhoog’ word in Johannes in twee betekenisse gebruik; vir Jesus se verhoging aan die kruis, soos hier en in 12:32,33 – goed sigbaar soos Moses se koperslang; ook vir Jesus se verhoging na die hemel, soos in 8:28. In 12:23,24 word Jesus se verheerliking en sy sterwe gekoppel. Sy kruisdood is in Johannes deel van sy verhoging uit die graf en verheerliking in die hemel, wat mense na Hom toe trek (12:32). Vergelyk Genesis 40:13 ‘die Farao sal jou kop verhoog’ en die skinker word in sy amp herstel; in 40:19 ‘die Farao sal jou kop verhoog’ en die bakker word opgehang (NAV aan jou aandag gee). Terwyl die ander Evangelies die kruisiging sien as Jesus se diepste vernedering, sien die Johannes-Evangelie die kruisiging as die klimaks van Jesus se gehoorsame selfopoffering, sy verheerliking as dienskneg.   

 

3:15 Jesus antwoord Nikodemus se vraag: ‘hoe is dit moontlik?’: ironies, soos wat elkeen, wat deur ‘n slang gepik is en na die koperslang opgekyk het, bly leef het, sal elkeen wat glo, in Jesus die ewige lewe hê. Vir die eerste keer word ‘ewige lewe’ genoem, vgl. ‘lewe’ in 1:4. Anders as die sinoptiese Evangelies, wat met ‘ewige lewe’ na die lewe hierna verwys (Mk 10:30), gebruik Johannes die woorde vir die nuwe lewe wat nou reeds begin en aanhou tot in die ewigheid. Die sleutel tot hierdie lewe is die geloof en vertroue waardeur  ons lewe verbind is aan die gekruisigde en opgestane Seun van die mens. Hy is God se gawe aan ons, en in Hom is die ewige lewe.

 

3:16  Hier is die fundamentele opsomming van die boodskap van hierdie Evangelie, die agtergrond van die doek waarop die  die evangelie geskilder word: die blye boodskap begin by die liefde van God vir sy ongehoorsame wêreld; die kern daarvan is dat God sy enigste Seun (dit dui op intieme liefdesverhouding, Genesis.22:2) vir die wêreld gegee het (deur sy menswording en plaasvervangende dood); die einde daarvan is dat mense nie sal verlore gaan nie, maar sal lewe onder die reddende heerskappy van God, nou reeds en tot in die ewigheid. Die hele sondige wêreld word reeds in 1:4 se ‘mense’ veronderstel, ook in 1:7 en 12:32 se ‘almal’ en 1:9 se ‘elke mens’. Maar die liefde van God plaas die mens voor ‘n keuse en elke mens is self verantwoordelik vir sy beslissing. Die liefde van God open die deur tot redding, maar wie daardie liefde nie met geloof beantwoord nie, gaan verlore. Volgens die voorafgaande gesprek is dit die wedergeborenes wat tot geloof kom en die lewe kry – die antwoord op Nikodemus se vraag: hoe is dit moontlik?. Die geloof is in sy oorsprong die werk van God, maar ook ‘n bewuste wilsbesluit van die mens (1:11,12). God wil dat die mens Hom vrywillig liefhê en dien as reaksie op sy liefde en liefdesoffer.

 

3:17,18  Die Seun het gekom as die Redder van die wêreld (4:42), vir die hele wêreld (die woord kosmos wat in vv16-17 vier maal gebruik word, verwys na die ganse skepping). Maar sy koms stel die mensewêreld voor ‘n beslissing. Hy is die verlossing, maar sy koms staan ook in die teken van oordeel. God het die oordeel aan Hom toevertrou (5:22,27) en Hy oordeel regverdig (5:30) en na waarheid (8:16), en Hy sal ook die eindoordeel volvoer (5:27-29). Die oordeel is reeds gevel, die ongelowige veroordeel homself deurdat hy die Redder afwys. Deur te weier om in Jesus te glo lewer hy homself oor aan die veroordeling. Die eindoordeel deur Jesus is net ‘n bevestiging daarvan.

 

3:19 Die woord ‘oordeel’ word in twee betekenisse gebruik: as ‘n besluit oor wat reg of verkeerd is, soos hier (NAV ‘skeiding’), en ‘veroordeling’ soos in v18. Die Verlosser het as die Lig in die duisternis van die wêreld ingekom . Party mense kom na die Lig toe (1:4,5,9; 8:12) en ander draai weg van die Lig af. So skei hulle, of besluit hulle verskillend, en dit geskied nou in hierdie lewe. God se groot reddingsaksie word ‘n oordeel deur die slegte of sondige reaksie van die mense, omdat hulle die duisternis liewer het as die Lig.

 

3:20 Elkeen wat kwaad (faula  gemeen, veragtelik, sedelik vuil spel) doen, verkies om in die duisternis te bly, sodat sy dade nie oop en bloot as verkeerd aangewys kan word in die Lig-Jesus nie.

 

3:21 Die een wat die waarheid doen, het die waarheid as die norm en inhoud van sy leefwyse. In 14:6 sê Christus ‘Ek is … die waarheid …’. Iemand wie se gedrag dieselfde kenmerk as Christus dra, hoef nie die dekmantel van die duisternis op te soek nie; hy kom na die Lig, in geloof na Jesus, ‘sodat sy werke duidelik kan word, dat dit deur God gedoen is’ (NAV in gehoorsaamheid aan God gedoen is). Sy lewe wys dat hy weergebore is, kind van God is en aan God gehoorsaam lewe. Maar dit kom nie uit homself nie; dit is die vrug van God se genade, God werk in en deur hom.           

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...