Die Evangelie volgens Lukas: Bekeer julle of sterf (Luk 13:1-9) – Francois Malan
In Luk 13 word van vier ontmoetings vertel: in verse 1-5 kom mense vertel van Pilatus se moord op Galileërs in Jerusalem; verse 10-17 is ’n gesprek met ’n owerste van die sinagoge oor ’n genesing; in verse 22-23 vra iemand of min mense gered word; in verse 31-33 kom Fariseërs Jesus waarsku oor Herodes.
Telkens antwoord Jesus met ’n gelykenis wat ver meer as die vraag meedeel: verse 6-9 die onvrugbare vyeboom; verse 18-21 die koninkryk as ’n mosterdsaadjie en as suurdeeg; die smal deur wat gesluit word in verse 24-30; die hen met haar kuikens (13:34-35).
13:1-3 Offers word by die tempel in Jerusalem gebring, daarom was die Galileërs wat deur Pilatus doodgemaak is waarskynlik in Jerusalem vir ’n fees, die paasfees? Jesus vra of die vraers dink die Galileërs wat doodgemaak is terwyl hulle offers aan die Here aangebied is, groter sondaars was as die ander Galileërs wat kom offer het, of wat tuis gebly het. Die Jode het gedink dat die manier waarop jy ly of doodgaan hang saam met die grootte van jou sonde. Dié gedagte wys Jesus met ’n duidelike ‘nee’ af. Maar Hy voeg daaraan toe: as julle julle nie bekeer nie, sal julle net so omkom (bekeer – metanoeō, om jou lewenswyse te verander as gevolg van ’n totale verandering van gedagte en houding oor sonde en geregtigheid voor God; die tyd van die Griekse werkwoord verwys na ’n voortgaande bekering).
13:4-5 Jesus vra oor die 18 mense wat dood is toe die toring van Siloam op hulle geval het: Dink julle dat hulle skuldiger was as al die ander Jerusalemmers? Ook dié gedagte wys Jesus met ’n besliste ‘nee’ af. Naas die gewelddaad van die Romeinse goewerneur Pilatus, verwys Jesus hier na ’n ongeluk in Jerusalem waar daar geen sprake van skuld is nie. Ook hierdie voorbeeld is ’n waarskuwing wat tot bekering roep. Die twee voorbeelde is waarskuwings dat die hele nasie op pad is na ’n baie groter ramp. By altwee die voorbeelde word gewaarsku dat ‘julle almal net so sal omkom (apollumi vernietig word)’ – dit verwys waarskynlik na die vernietiging van Jerusalem deur die Romeine in 66-70 n.C., maar ook na die eindoordeel.
Vier maal word die woord ‘almal’ in 13:2-5 gebruik, twee maal spesifiek van almal in die skare, en is daarom bedoel vir alle mense. Daar is geen optel of opweeg van die aantal en die gewig van iemand se sonde of lewensomstandighede nie. Maar almal het bekering nodig omdat elkeen op sy eie manier sondaar is, en moet ’n nuwe weg met sy lewe inslaan.
13:6-9 Die oproep tot bekering word verduidelik met die gelykenis van die onvrugbare vyeboom in ’n wingerd (vir Israel as ’n vyeboom, vgl Hosea 9:10; Joël 1:7). Aan die vyeboom word ’n laaste kans gegee om vrug te dra. Jesus se prediking is nog nie die finale oordeel nie, maar die uitstel daarvan. Wie Hom nie aanvaar nie, bly onder die oordeel van God (Joh 3:36). Om Hom te volg is jou behoud. Hy vra nog by die Vader uitstel van die oordeel en probeer soos ’n hen haar kuikens bymekaar maak (Luk13:34); selfs aan die kruis bid Hy nog: Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie (Luk 23:34). Maar as die boom na ’n jaar nie vrug dra nie, word hy uitgekap (vgl. Luk 3:9; Joh 15:2). So kry Israel nog ’n kans om hulle te bekeer, om vrug te begin dra in God se koninkryk, soos die man wat op pad na die hof met sy skuldeiser skik (12:58). Maar as die geleentheid nie aangegryp word nie, kan hulle maar uit die Landbouer se wingerd uitgekap word; die genadige Vader-Landbouer sal egter daaroor besluit (vgl. Joh 15:2,6). Soos die man wat nie met sy skuldeiser probeer skik nie, vir altyd in die tronk bly (12:59; vgl. Rom 11:17-24 vir die beeld van Israel as takke van ’n olyfboom).