Die Evangelie volgens Lukas: Die baba Jesus (Luk 2:21-40) – Francois Malan

2:21 Jesus word besny

Soos die Here die besnydenis voorgeskryf het as die teken van God se genade-verbond met Abraham en sy nageslag (Gen 17:10-12), word Jesus op die agtste dag in Betlehem besny. By dié geleentheid word sy naam Jesus, soos die Here se boodskapper beveel het (1:31), in die familiekring gegee. Die persoon wat die naam gee neem verantwoordelikheid vir die kind, in hierdie geval die Here self. Die besnydenis is die teken dat ‘n kind aan die Here behoort, dat hy opgeneem is in die volk van die Here. Sy naam Jesus (die Griekse vorm van Jehoshua) beteken ‘Jahweh is Verlosser;’ (die Hebreeuse naam Jahweh wat die Here deur Moses gegee het, is ‘Die Ek is,’ die persoonlik aktiewe teenwoordige God van Eks 3:14-15). Hierdie baba is self die Verlosser van die wêreld. Galasiërs 4:4-5: ‘God het sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou, gebore onder die wet, sodat Hy diegene onder die wet kon loskoop, en sodat ons (deur God) aangeneem kan word as sy kinders.’

 

2:22-24 Jesus word aan die Here gewy

Vir nog 33 dae ná die besnydenis bly Maria onrein totdat haar bloedvloeiing opgehou het. Volgens die wet (Lev 12:1-8) bring Jode ‘n lam en ’n duif of, vir die armes, soos Josef en Maria, twee duiwe (vers 24) na die tempel, waar die priester die lam of die armes se duif as ’n brandoffer vir versoening, en die ander duif as ’n sonde-offer vir haar reiniging, aan die Here offer. Daarna kon sy weer in die heiligdom ingaan. Daarom neem hulle die baba Jesus na die tempel in Jerusalem om Hom aan sy hemelse Vader, wat aan Hom die lewe geskenk het, toe te wy (vers 20). Volgens Eksodus 13:2,12,13,15 moet elke eersteling aan die Here gewy word, en kan die eersgebore seun losgekoop word. Volgens Numeri 18:15-16 word die eersgebore seun met 25 gram silwer (5 sikkels) losgekoop. Josef en Maria het waarskynlik nie die losprys betaal nie. Die teks sê juis hulle het Hom aan die Here gewy (paristêmi oorgee aan), soos Hanna vir Samuel (1 Sam 1:11; vgl. Luk 2:49).

Lukas maak merkwaardig baie van die nakoming van die voorskrifte van die Wet in 2:22,23,24,27,39. Hy onderstreep daarmee dat Jesus grootgemaak is volgens die strengste tradisies van die Wet, wat Hy kom vervul het met ’n baie groter  betekenis as wat die rabbi’s  daaraan heg (vgl. Mat 5:17 vir die dieper en breër betekenis wat Hy in die bergrede aan die Wet gee, Mat 5-7).

 

2:25-28 Simeon by die tempel

2:25 Simeon (‘verhoring,’ Gen 29:33) kom waarskynlik uit die stam Simeon, wat versprei is tussen die stamme van Israel oor hulle stamvader se geweldpleging teen die heidense stad Sigem 1600 jaar v.C. (Gen 34; 49:5-7; Jos 19:1). Hierdie afstammeling woon nou in Jerusalem. Hy is ’n regverdige (dikaios) man, wat die gebooie van God getrou uitleef omdat hy aan God toegewy is (eulabês). Hy lewe in verwagting van die Bemoediging/Troos (paraklêsis aanmoediging, troos) van Israel. Die trooswoorde en aanmoedigingswoorde van die profete in die Ou Tesament word hiermee opgesom (bv. Jes 40:1; 49:13; 61:1-2; Jer 17:7).

Die Heilige Gees was met Simeon. Simeon se vroomheid word aan die Heilige Gees toegeskryf. Deur die jare van inperking is die nageslag van Simeon, die geweldenaar teen die heidene (Gen 34:14), deur die Gees omvorm tot hierdie nederige vrome Simeon wat die Lig van die evangelie ook vir heidene in hierdie baba sien.

2:26 Deur die Heilige Gees het Simeon ’n openbaring van God aan hom persoonlik ontvang: Hy sal die dood nie sien voordat hy die Christus van God gesien het nie. So word die ‘Troos van Israel’ (2:25) geïdentifiseer as die beloofde Messias van God, waarvoor Israel deur die eeue gewag het.

2:27 Die Heilige Gees lei Simeon na die tempel, juis toe die ouers die Kindjie daar inbring. Die geskiedenis van Johannes het met die aankondiging in die tempel begin en na die woestyn gelei (1:80). Die geskiedenis van Jesus het begin met die aankondiging aan Maria in Nasaret en na die tempel in Jerusalem gelei. Op die oomlik toe die ouers volgens die voorskrif van die Wet handel, verneem hulle deur die mond van hierdie profeet dat die Here se beloftes aan die profete vervul word deur hierdie Kind. Die profetiese Gees van die Ou Testament verbind Israel met Jesus, wat deur die Heilige Gees gebore is (1:35), en wat by sy doop met die Heilige Gees toegerus en bekendgemaak is as God se Christus (Gesalfde, 3:22). Hy rus ook sy gemeente toe as sy getuies in die wêreld deur die Heilige Gees wat die Vader beloof het (Hand 1:4-5; 2:1-4; Joh 14:16).

2:28 Simeon neem die Kindjie van die arm ouers, wat slegs twee duiwe kom offer, in sy arms. Kinders is deur rabbi’s geseën deur hulle in hulle arms te neem, soos Jesus ook die kindertjies geseën het (Luk 18:15-17). Die gryse Simeon loof God met sy loflied (Nunc demittis ‘nou laat U gaan…’): ‘Here , nou laat U toe dat U slaaf/dienskneg in vrede gaan volgens U woord…’

 

2:29-32 Simeon se lofsang: Nunc demittis

2:29 Om in vrede te gaan beteken om in vrede te sterwe. Die man wat daarvoor gewag en gebid het, was daarvoor deur die Sadduseër-priesters wat die leiers by die tempel was, bespot en vervolg. Hulle het nie geglo dat daar ’n opstanding uit die dood is, of dat daar engele en geeste bestaan nie (Hand 23:8). Saam met hulle was daar baie van die volk wat teenstanders was van die Messiasverwagting. Hoewel Simeon se ideaal om in vrede te sterf, verwesenlik is, het hy nog nie ten volle geweet wat die vrede alles vir hom inhou nie, naamlik die ewige lewe by die Here, wat hierdie Kindjie ook vir Hom kom bewerk. Hy word egter die eerste getuie vanuit die tempel oor die evangelie, die goeie boodskap, die omvattende vrede met God en tussen mense, wat die Kindjie kom bewerk. Hy kon waarlik in vrede sterwe want die Kind in sy arms kom die dood verander in ’n deur van hoop op God se ewige vrede (Hos 2:14: die Akorlaagte van Josua 7:23-26 waar Akan die dood oor die volk gebring het, word ’n poort na ’n nuwe toekoms; Jes 25:8 voorspel die vernietiging van die dood; vgl. Openb 20:14). Die ‘nou’ is belangrik. Dit is die beloofde tyd. Die hoop op ’n ewige vrede het aangebreek met die geboorte van hierdie Vredevors (Jes 9:5).

2L30-31 Die rede waarom Simeon in vrede kan sterf is dat sy oë inderdaad die verlossing in die persoon van die baba in sy arms gesien het, die verlosssing wat die Here ten aanskoue van al die nasies berei het, oop en bloot sodat almal dit kan verstaan as hulle net wil (Jes 52:10).

21:32 Die begrippe Lig en Eer verduidelik die verlossing wat Simeon gesien het (1:30). In Jesaja 42:6 sê die Here van Kores wat Israel laat teruggaan Palestina toe ná hulle ballingskap: ‘Ek maak jóú my verbond met my volk, my lig vir die nasies. Die Here se verlossingsplan sluit die ganse mensdom in. Simeon verbind die belofte in Jesaja 42:6 aan die baba in sy arms. Deur Hom word die nasies se duisternis verlig (Luk 1:77-79), die duisternis van hulle onkunde, sonde en ellende. Lig is die simbool vir lewe, groei, kennis en vreugde. Die baba bring ook eer aan die volk van die Here, vir Israeliete wat in die baba glo en almal wat deur geloof in die baba deel word van die volk van die Here.