Die Evangelie volgens Lukas: Die koninkryk van God (Luk 17:20-37) – Francois Malan

image_pdfimage_print

17:20 Die Fariseërs het Jesus op ’n keer gevra wanneer die koninkryk van God kom, want hulle het die genesing van ’n melaatse beskou as ’n opwekking uit die dood deur die Messias-koning wat hulle so dringend verwag. Jesus gee hulle egter ’n verbluffende antwoord: ‘Die koninkryk van God kom nie op so ’n wyse dat dit fyn dopgehou kan word nie (paratērēseōs, fyn dopgehou kan word nie/nie met duidelik waarneembare tekens nie).’ Die koninkryk kom nie met tekens wat uit die hemel afgelees kan word nie.  

 17:21 Net so min as wat die koms van die Here se koninkryk aan ’n tyd of ’n teken gebind is, so min is dit lokaal vas te pen. Daar is nie ’n gebied op aarde waar dit vervul word nie. Daar is twee redes hiervoor: die eerste rede word in vers 21 gegee en die tweede in vers 24. (1) ‘want die koninkryk van God is in julle midde (entos humōn).’ Jesus is die koning van God se koninkryk en Hy is nou in hulle midde as die verlossende en oordelende Koning (Luk 11:20). Vir dié wat in Hom glo is Hy hulle Verlosser, en Hy is die Regter vir dié wat Hom en sy verlossing verwerp (vgl. Joh 3:36).

 17:22 Vir sy dissipels, sy volgelinge, sê Jesus dat daar vir hulle ’n tyd van verdrukking voorlê waarin hulle sal verlang na die tyd toe Jesus self by hulle was en sal verlang dat Hy weer sal kom. ‘Julle sal begeer om een van die dae te sien’ -daarmee word die swaar verdrukking en die dringendheid van hulle verlange uitgedruk. Die Seun van die Mens verwys na Daniël 7:14 se voorspelling van die seun van die mens (menslike wese) aan wie God die ewige heerskappy, eer en koningskap gee sodat al die volke, nasies en taalgroepe Hom sal dien.

 17:23 Verleiers sal in die tyd van verdrukking en smart die gelowiges mislei met allerhande voorspellings oor die tyd of plek van Jesus se verskyning, of hulle sal na ’n ander sogenaamde messias as die goddelike Messias verwys wat sou gekom het. Jesus waarsku teen alarmmakers wat die gelowiges mislei met hulle oorredende woorde: ‘Kyk hier’ of kyk daar.’ Jesus sê: ’Moenie gaan nie en moenie agter hulle aanloop nie.’

 17:24 ‘Want (tweede rede) die Seun van die Mens sal op sy dag verskyn soos ’n onverwagte weerligstraal wat die hemel van eenkant tot die anderkant verlig. Hy sal so skielik en universeel vir almal sigbaar wees dat daar geen tyd sal wees vir profesieë of beskrywings daarvan nie.

 17:25 Maar die ewige seun van die mens van Daniël 7:13-14 is ook die lydende Kneg van die Here van Jesaja 53, wat eers baie moet ly en deur hierdie geslag verwerp word, soos in Luk 9:22 deur Jesus voorspel is en in Luk 9:31 deur Moses en Elia bevestig is. Hy moet die pad van lyding loop omdat dit deur God so bepaal is en in die Skrifte oor Hom geskryf is  (Luk 24:26-27).

 17:26-27 Die dae van Noag word vergelyk met die dae van die Seun van die Mens, wat met sy aanstaande lyding vervul word. Die geslag wat hulle sonder God in hulle daaglikse beroep versink, lewe vir die bevrediging van hulle elementêre behoeftes soos honger, dors, en trou. Vir so ’n geslag het die sondvloed as ’n fatale verrassing gekom. Die wagtende en voorbereide Noag word gered, en die onvoorbereides wat nie ag geslaan het op Noag, die boodskapper van geregtigheid nie (2 Petr 2:5), kom om (Gen 7:20-23). So het dit ook gegaan met die genooide gaste na die fees, wat verskonings aanbied oor grond, osse, huwelik (Luk 14:18-20).

 17:28-29 Soos in Noag se dae, was dit ook in die dae van Lot. Mense het ook met hulle daaglikse lewe voortgegaan, met eet, drink, koop, verkoop, plant, bou, sonder om te let op die lewe van die regverdige Lot (2 Petr 2:6-8); totdat Lot uit Sodom vertrek het, en God vuur en swawel laat reën het om almal te vernietig (Gen 23:24-25). Die katastrofe met die sondvloed en die vuur word langs mekaar gestel as onvoorsiene en onverwagse gebeure.

 17:30 Die vergelyking tussen Noag en Lot met die dag waarop die Seun van die Mens geopenbaar gaan word, beklemtoon die verrassende oordeel wat onverwags kom, en die skeiding tussen mense, met slegs enkeles wat gered word. Die Fariseërs het gevra wanneer die koninkryk van God sal kom, en Jesus het gewaarsku dat daar nie duidelik sigbare tekens vooraf sal wees nie (17:20). Oor die skeiding tussen gelowiges en ongelowiges word verder uitgebrei in die volgende verse. Op die onverwagte dag van die groot wêreldoordeel sal die Seun van die Mens aan alle mense geopenbaar word in die heerlikheid van die voltooide koninkryk van God.

 17:31-32 Die persoon  wat op die oordeelsdag nog so aan sy besittings verknog is, kan sy verlossing verspeel. Moenie van die dak af die huis in hardloop om iets te gaan haal nie, of van die land af terugdraai huistoe nie (Luk 9:62). In plaas daarvan dat jy jou vir die komende koninkryk vry hou van jou besittings, is jy dan met sy koms verbonde aan wat vergaan. Lot se vrou het op hulle vlug uit Sodom haar redding op die laaste oomblik verspeel (Gen 19:26). Die gelowiges word  gewaarsku teen wêreldsgesindheid en verknogtheid aan jou aardse besittings, en word aangemoedig om te lewe met ’n verlangende uitsien na en gereedheid vir die koms van jou Heer. In Markus 9:14-16, Matteus 24:15-18 en Lukas 21:20-22 word, na aanleiding van Daniël 9:27; 11:31; 12:11, dieselfde waarskuwing gegee ten opsigte van die inname van Jerusalem (wat in 70-72 n.C. geskied het).

 17:33  Wie probeer om homself/sy eie lewe te red (peripoieomai om te red of te beveilig), sal dit verloor, maar wie dit verloor, sal dit aan die lewe hou/bewaar om te bly lewe (zōiogoneō). In die oomlik wanneer jy jou aardse lewe moet prysgee om jou ewige bestemming in te gaan, moet jy nie daarvoor terugdeins nie. Dieselfde woord is in Luk 9:24 gebruik vir die gelowige se alledaagse lewe in diens van sy medemens: ‘wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red. Die persoon wat volheid van lewe soek in aardse goed, gaan nie vreugde vind nie. Wie egter onselfsugtig homself offer vir Christus se eer in sy diens van mense, sal die ware lewe in sy volheid geniet al lyk dit vir die wêreld of hy sy lewe weggooi.

 17:34-35 Die dag van die Seun van die Mens is die oomblik van die groot skeiding tussen mense, tussen wie aan Hom behoort en wie nie. Dit gaan om die mense se persoonlike band met Jesus. In die nouste huis- en arbeidsgemeenskap, van man en vrou in daardie nag saam in die bed, en twee vroue voor sonop by een meul om die brood van die dag te kan bak, kom die skeiding tussen die ongelowige en die een wat vir Jesus volg (Matt 24:40 voeg by, die skeiding tussen twee mans wat saam op die land werk. Dit is in die 6e eeuse manuskrip uit Matteus hier ingevoeg as vers 36). Die Jesusvolgeling sal deur Jesus saamgeneem word (paralêmfthêsetai) en die ongelowige agtergelaat word (afethêsetai  agterlaat, verwerp word), agtergelaat vir die oordeel.

  17:37 Die geskokte hoorders vra vir Jesus waar verwerpte mense agtergelaat gaan word. Jesus antwoord met ’n harde spreekwoord: ‘Waar die liggaam/karkas lê (sōma word gebruik vir die lewende of dooie liggaam van mens en dier; Matt 24:28 het ptōma wat verwys na ’n dooie liggaam van ’n mens, ’n lyk, of na ’n dier se karkas), daar sal die aasvoëls ook vergader.’ Die gedagte is dat orals waar mense ookal op die dag van die Seun van die Mens is, kan sommiges saamgeneem en sommige agtergelaat word. Die oordeel van God strek oor die ganse wêreld, ‘nie hier of daar nie’ (vgl. 17:23). Waar ook al die ‘geestelik dooies’ gevind word, sal daar onvermydelik geoordeel word, so vinnig as wat die aasvoëls om ’n karkas saamtrek.

image_pdfimage_print

You may also like...