Die Evangelie volgens Lukas: Die gelykenis van die groot feesmaal (Luk 14:15-24) – Francois Malan
14:15 Die tafelgesprek eindig met Jesus se onderig na aanleiding van die opmerking wat een van die gaste maak oor wat Jesus gesê het van die opstanding van die regverdiges. Die gas het opgemerk dat wie ookal ‘brood eet’ (vgl. 14:1) in die koninkryk van God, is geseënd, dit wil sê: deur God geseën (vgl. Ps 22:27; Openb 19:9). Die Jode en veral die Fariseërs het gedink dit is vanselfsprekend dat alle gerespekteerde Jode in God se ewige feesmaal sal aansit by die opstanding van die regverdiges. Die man dink waarskynlik hy is een van die geseëndes. In die gelykenis wat Jesus vertel, breek Jesus die man se selfversekerdheid met die moontlikheid dat hy die seën kan misloop.
(Die gelykenis van die koning se bruilofsfees vir sy seun in Matt 22:1-14 het raakpunte met Lukas se gelykenis, maar daar is ook groot verskille tussen die twee).
14:16 Jesus antwoord die man se sekerheid met ’n beeld. Jesus beskryf nie die feesmaal nie, maar praat van die houding en optrede van die genooides. Dit verplaas die gesprek na die persoonlike keuse van elke mens. Die man in die gelykenis het ’n groot feesmaal (deipnon) voorberei en baie mense is daarna genooi.
14:17 In ’n tyd sonder whats-app en selfone word ’n slaaf gestuur om vir die gaste te gaan sê die feesmaal is gereed, hulle moet kom (in Matt 22:3 stuur hy sy slawe). Die enkele slaaf in Lukas kan verwys na Jesus, wat die Joodse volk kom uitnooi na die fees in die koninkryk van God.
14:18-20 Elkeen van die genooides het ’n verskoning waarom hulle nie nou na die feesmaal kan kom nie. Hulle is almal so betrokke by hulle sake in die wêreld dat hulle nie tyd het vir die groot feesmaal nie. Daar is ’n styging in die waarde van die verskillende verskonings van al die genooides: stuk grond gekoop, vyf paar osse moet uitgetoets word, ’n vrou getrou (vgl Deutr 20:5-8). Maar nie een van die verskonings hou water nie: die grond is klaar gekoop, die osse klaar gekoop en die vrou klaar getrou. Ten spyte van almal se verwagting van die koms van die Messias, is die Jode almal so verstrik in hierdie wêreld en in hulle eie belange, dat hulle nie Jesus en sy uitnodiging aanneem nie (Luk 8:14). Die koninkryk is nie ’n ander-wêreldse vooruitsig wat met skynvroom gedagtes en gevoelens bedink moet word nie, maar ’n huidige realiteit wat roep om ’n onmiddellike reaksie. Die feesmaal is nou gereed en volgens die Joodse gebruik gaan ’n slaaf die gaste roep. Die genooides wat die uitnodiging vergeet het en nou ander verpligtinge belangriker ag, verloor die geleentheid en hulle plek word deur ander gevul. Die gerespekteerde wetsgehoorsame Jode het hulle dowe oor na Jesus se prediking gedraai, en gewys dat hulle meer vir hulle eie godsdienstige sisteem omgee as vir die genadige roeping van God.
14:21 Die man word kwaad en stuur sy slaaf om die mense wat deur die Fariseërs en skrifgeleerdes toegang tot die tempel ontsê word (vgl. 2 Sam 5:8) te nooi; armes, kreupeles, blindes en verlamdes wat in die stad se arm buurte op die strate sit en bedel en in die stegies lê en verkluim, word ingebring in die feesmaal. Juis hulle wat nie kan terug uitnooi of iets betaal nie (14:13-14). Dit is die mense vir wie Jesus op eensame plekke kos gegee het en genees het. So is die tollenaars en sondaars, wat deur die Fariseërs met veragting behandel is, deur Jesus ingenooi in die feesmaal van sy Vader.
14:22-23 Daar is nog plek in die feeshuis en die eienaar stuur sy slaaf na die paaie en lanings om swerwers te dwing deur by hulle aan te hou om in te kom. So gaan Jesus uit na die heidene (Luk 8:26-33) en sit sy werk voort deur sy volgelinge (Luk 8:39), soos ook in Handelinge breedvoerig vertel word van Petrus se prediking by heidene en Paulus se sendingreise (vgl, Joh 10:16; 11:52; 12:32; ens.).
14:24 Die gelykenis verkondig duidelik die universele insluiting in die koninkryk van God, waar niemand uitgesluit word nie behalwe deur sy eie keuse. Die een sonde wat jou uitsluit is om jou eie belang en belangstelling aantrekliker te vind as vriendskap met God. Aan die einde sê Jesus vir hulle dit gaan in hierdie gelykenis om ‘my maaltyd.’ So antwoord Jesus die vraer se sekerheid oor sy deelname aan die groot feesmaal (14:15). Dit is God se besluit wie daar inkom. Die eerste genooides, wat nie opgedaag het nie, soos die Jode wat nie Jesus se uitnodiging en oproep tot bekering aangeneem het nie, sal nie in sy koninkryk se maaltyd toegelaat word nie. Dit verseker Jesus die mense wat saam met Hom aan die Fariseër se tafel sit. So ernstig is Jesus se oproep tot hulle om hulle te bekeer om aan sy feestafel te kom aansit.