Die Evangelie volgens Lukas: Die gelykenis van die weduwee en die regter (Luk 18:1-8) – Francois Malan
Na aanleiding van die vrae oor die koms van God se koningsheerskappy, sluit Lukas die gesprek oor die koms van die Seun van die Mens af met twee gelykenisse om dit te verduidelik. Soos Jesus se gebedsonderrig in Lukas 11:1-4 verduidelik word met die twee gelykenisse van die man wat in die nag brood by sy vriend gaan vra, en ’n pa wat nie vir sy kind ’n slang sal gee nie (Luk 11:5-13), volg die gelykenisse van die weduwee en die regter en die tollenaar en Fariseër op sy onderrig oor die die koms van die Seun van die Mens. Die eerste gaan oor aanneming van Jesus se volgelinge, en die tweede oor die voorwaardes vir aanneming deur God. Lukas vul graag ’n woord oor mans aan met ’n Jesuswoord oor vroue. Die twee gelykenisse kom slegs in Lukas voor. Dit is gelykenisse van kontras. God is so heeltemal anders as die onregverdige regter, en reageer lynreg teenoor die verwagting van die Fariseër.
18:1 Die ‘hulle’ verwys na dieselfde groep van sy dissipels as in 17:22. Om gereed te wees vir die dag van die Here
is dit noodsaaklik dat hulle voordurend bid (pantote, altyd, te alle tye, by elke geleentheid) om nie moed te verloor nie, nie hulle motivering te verloor nie (sommige rabbi’s het bepaal dat ’n mens slegs driemaal per dag, soos Daniël, behoort te bid en nie die Here vermoei nie; ander rabbi’s het gewens ’n mens kan deur die dag bid om sodoende niks te verloor nie). In 17:22 het Jesus al voorspel dat daar ’n tyd kom wanneer hulle sal begeer om één van die dae van die Seun van die Mens te sien, maar dit nie sal sien nie, ’n uitsien daarna dat die Here alles sal regmaak, al die verkeerde waarin hulle en ons moet lewe. Daarom is dit nodig om voortdurend te bid om nie moed te verloor nie.
18:2 Die onregverdige regter het geen ontsag vir God nie en steur hom aan geen mens se opinie nie. Hy is goddeloos en selfsugtig, terwyl die Here regters juis aanstel om die reg en God se wet te handhaaf, en dat hulle geringes en die armes uit die mag van die goddeloses moet red (vgl. die Here se aanklag teen en opdrag aan regters in Ps 82:1-7; vgl. ook Eks 23:6; Deutr. 16:18-20; Jes 10:1-2). Die onregverdige regter is die teenbeeld van die Here, die regverdige Regter. ’n Christen behoort ook net die teenoorgestelde van hierdie regter te wees (2 Kor 8:21).
18:3 In die Ou Testament is ‘n weduwee die beeld van ’n persoon wat ’n helper nodig het om aan haar reg te verskaf (Eks 22:22-24; Jes 1:17,23; Jer 7:6; Jak 1:27). Hierdie weduwee kom soek haar reg by die regter. Die imperfektum van die werkwoord (êrcheto) dui aan dat sy aangehou het om na hom toe te kom met haar versoek om reg. Sy het ’n saak met ’n opponent (’n antidikos kan ’n teenstander wees wat gedurig vyandig teenoor jou is, of iemand wat jou aankla).
18:4-5 Na ’n geruime tyd het die regter ook ’n gesprek met homself (soos die verlore seun, 15:17) waarin hy aan homself erken dat hy geen ontsag vir God het om rekenskap te gee van sy regterlike funksie nie, en hom nie aan enige mens se opinie oor hom en sy uitsprake steur nie. Toe kry hy tog redes waarom hy sy werk om reg te spreek terugkry om aan die weduwee reg te laat geskied. ‘Omdat sy vir my moeite gee (kopos, moeite, moeilikheid, ’n omstandigheid wat pla), sal ek tog aan haar reg laat geskied.’ Dit gaan oor homself, oor sy omstandighede. Sy maak dit vir hom moeilik met haar aanhoudende geneul. ‘Sodat sy nie aanhou kom en op die ou end my gedaan maak met haar aanhoudende geneul nie (hupōpiazō gedaan maak, is die figuurlike gebruik van die letterlike ‘blou-oog slaan ’). Die ‘my’ aan die einde van die Griekse sin, dra klem. Dit gaan oor ‘my,’ nie oor wat God vereis of wat die mense van hom dink nie. Soos die onregverdige bestuurder word die onregverdige regter gedryf deur sy gemak en selfsugtigheid (Luk16:8; in albei gevalle gebruik Lukas die woord adikia, ‘onreg, dit wat nie reg is nie,’ vgl. Luk 13:27).
18:6-7 Lynreg teenoor die onregverdige regter en onregverdige bestuurder staan God as die regverdige Regter oor sy hele skepping. ‘Sal God dan nie reg laat geskied (ekdikêsis, dit waarvoor die weduwee gepleit het, 8:5) aan sy uitverkorenes wat dag en nag na Hom roep nie?’ Die Griekse sin suggereer ’n sterk positiewe antwoord op die retoriese vraag van Jesus. Sy uitverkorenes is dié mense wat deel is van sy koninkryk en onder sy koningskap lewe, deur sy uitnodiging na sy feesmaal aan te neem (Luk 14:15,21-23). Die mense wat soos die weduwee dag en nag na God roep, beleef die slegte omstandighede van Luk 17:22 sodat hulle verlang na die koms van die Seun van die Mens.
‘Sal Hy hulle lank laat wag?’ (makrothumei kan ook vertaal word as ‘en sal Hy lankmoedig oor hulle wees?’ waar ‘hulle’ na sy geduld met die ongelowiges of teenstanders kan verwys; vgl. 2 Petr 3:9). Dit kan ook soos hierbo vertaal word: ‘en sal Hy stadig wees om hulle te help? waar ‘hulle’ na die uitverkorenes verwys, dat Hy stadig is om aan hulle reg te verskaf deur die koms van die Seun van die Mens op die oordeelsdag. Luk 17:24 verwys na die oordeelsdag. In die huidige bedeling verwys die lank laat wag na die voorreg van sy uitverkorenes om saam met Hom te ly en saam met Hom verheerlik te word (Rom 8:17); ons word uitverkies om saam met Christus te ly!
18:8 Jesus verseker die dissipels dat God spoedig (en tachei met spoed) aan sy uitverkorenes reg sal laat geskied. Hoewel dit nie altyd dadelik sal blyk nie, is God ’n Regter vir weduwees (Ps 68:8) wat hulle nie in die steek sal laat nie. Dit gaan oor die koms van ons Vader se koningskap in die wêreld, waarvoor ons moet bid (Luk 11:2). Dat die Seun van die Mens kom, is gewis. Die vraag wat Jesus egter het, bly ’n ope vraag: Sal die Seun van die Mens, wanneer Hy kom, geloof op aarde vind? Sal sy mense onder die toenemende druk van die samelewing nog vertroue in Hom hê en Hom bely (Rom 10:10)? In Markus 13:13 sê Hy: Wie volhard tot die einde toe, sal verlos word, vgl. 2 Tim 4:8. Jesus wil sy volgelinge bewus maak dat Hy hulle in geen noodsituasie sal los nie, dat Hy self die pad van lyding moet loop (Luk 17:22), en dat hulle altyd moet bid en nie moed verloor nie (Luk 18:1), soos die weduwee (Luk 18:3). Wanneer dit God se tyd is, wat niemand voor die tyd weet nie, dan is daar nie meer sprake van uitstel nie, dan oordeel God onmiddellik en sal Hy reg laat geskied aan sy uitverkorenes (Luk 18:7; 17:26-37).
Die grondgedagte van die gelykenis is die ‘uitgestelde wederkoms’ (Lukas, ’n tweede geslag Christen, het met die vraag te doen waarmee 2 Petrus 3:8-13 ook sit). Maar wat is die stand van gebed 2000 jaar na Jesus se opstanding?