Die Evangelie volgens Lukas: Uitsprake van Jesus om sy volgelinge oor diens te leer (Luk 17:1-10) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Die tweede gedeelte oor Jesus se reis na Jerusalem (13:22-17:10) word afgesluit met drie segginge van Jesus en ’n gelykenis. Die eerste twee spreuke gaan oor sonde, wat jy aan ander doen en wat ander aan jou doen.

 17:1 Jesus waarsku sy volgelinge: Dit is onvermydelik dat (anendekton onmoontlik dat daar nie)  daar struikelblokke kom (skandala wippe; aanstoot of  struikelblokke; dit wat ander laat sondig – verleidings/misleidings). Die sonde word hier spesifiek as struikelblokke vir ander beskryf, dit wat ander kan mislei om hulle geloof prys te gee (soos die Fariseërs met hulle verlossingsleer van goeie werke om jou verlossing te verdien, 16:16:15), en om ander mense te verlei om sonde te doen (soos bv. die egskeier, 16:18).

 Jesus waarsku sy dissipels oor hulle optrede teenoor mekaar, teen die gevaar dat hulle voorbeeld, woorde, houding of nalaat van hulle roeping, ander mense verkeerd kan beïnvloed.  Daar is soveel misverstande tussen mense dat dit onvermydelik is dat ons mekaar kan mislei. Maar daarom moet ons steeds ons eie optrede beoordeel in die lig van Jesus se nederige liefdevolle voorbeeld as maatstaf. Jesus spreek ’n ‘o, wee’ uit om die erns van die saak en sy droefheid daaroor uit te druk. Ellende wag vir die een deur wie die struikelblok kom.

 17:2 Dit sou vir die verleier/misleier  beter wees om te sterf. Die sterwe word met ’n beeld beskryf as ’n gewelddadige dood. Dit sou vir hom beter gewees het as ’n maalklip (die boonste groot maalklip, met ’n gat in die middel waar die koring ingegooi word, en deur ’n donkie in die rondte gedraai word op die onderste klip) om sy nek gehang word  en hy in die see gegooi word sodat hy nie weer kan uitkom nie. Dit is wat met die onbarmhartige ryk man gebeur het, sodat hy nie weer uit die vlam kon kom nie (16:24).

 Eerder die dood as dat iemand ‘een van hierdie geringes laat struikel.’  Die persone wat tot struikeling gebring kan word, word hier die ‘geringes’ (mikrōn onbelangrikes) genoem, in Markus 9:42 word gepraat van een van hierdie geringe gelowiges, en in Matteus 18:6 een van die geringe gelowiges in My (wat in Jesus glo). Dit gaan om ’n mede-volgeling van Jesus. Sy volgelinge moet nie mekaar tot struikeling bring nie. Die koninkryk van Jesus is juis vir geringes (Luk 7:28; 10:21).

 17:3 Die tweede spreuk gaan oor die optrede van ’n gelowige as teen hom/haar gesondig word, oor hoe om ’n geskil op te los. Dit word ingelei met ’n waarskuwing om op hulle hoede te wees (prosechō waaksaam wees) wanneer jou broer, jou mede-gelowige, sondig (hamartanō om teen die wil en wet van God op te tree). Dan moet jy hom teregwys (epitimaō,  om sterk afkeuring uit te spreek). Moenie ’n grief dra, of hom haat, of vir hom kwaad wees nie, maar gaan konfronteer die oortreder daaroor en los die geskil op met sy berou en jou vergifnis. As hy berou het (metanoeō, om ‘n lewenswyse te verander as gevolg van ’n totale verandering van siening en houding oor sonde en die regstelling van die verhouding met God), vergewe hom (afiemi, die verkeerde wat hy gedoen het word nie uitgewis nie, maar sy skuld oor sy verkeerde optrede word hom kwytgeskeld). So word gemeenskap met hom weer herstel.

 17:4 Die sewe maal per dag beteken eintlik onbeperk vergewe as daar berou is ( In Matt 18:22 sê Jesus: 70×7). Daar is geen perke aan vergewe nie, soos God ons onbeperk vergewe telkens as ons na Hom toe kom (vgl Matt 6:14-15). In die wêreld word iemand wat sewemaal per dag vergifnis kom vra, nie aanvaar nie.Vir die gelowige is vergifnis sy daaglikse roeping voor sy Vader wat al die sondeskuld van jou hele lewe vergewe as jy in geloof en berou na Hom toe kom (vgl. Luk 5:20; 7:44-50). Vir Jesus is dit baie belangrik dat sy volgelinge in berou en vergifnis met mekaar sal saam lewe. Dan word sy gemeente bewaar teen verderf.

 17:5 Die derde spreuk van Jesus is’n antwoord op die apostels se versoek om hulle geloof te vermeerder (prostithemi, om te gee, te voorsien, of om by bestaande by te voeg). Waarskynlik nie slegs geloof vir hulle taak as apostels nie, maar veral om daagliks te kan vergewe en nie ’n struikelblok vir ander te wees nie. Geloof kan ’n mens nie self verskaf nie, dit is ’n gawe van Jesus aan sy mense. Volgens 1 Kor 12:9 is geloof ’n gawe wat deur die Gees in ’n mens gewerk word; vgl. Ef 2:8” Dit (geloof) kom nie uit julleself nie; dit is die gawe van God (vgl. Luk 22:32).

 17:6 Die apostels se vraag gaan oor meer of minder geloof. Jesus se antwoord gaan oor die egtheid van jou geloof, nie die grootheid van jou geloof in God nie, maar om jou geloof in die grootheid van God. Die mosterdsaadjie is spreekwoordelik klein, en die moerbeiboom kan tot 6 meter hoog groei. Dat die boom homself in die see sal gaan verplant op jou woord, is onmoontlik. Die beeld wat Jesus hier skilder van die boom wat homself verplant, sê eintlik dat die onmoontlike by God moontlik is. Egte geloof in God kan vermag wat ondervinding en menslike rede sal ontken, maar wat uitgevoer kan word as dit die wil van God is.

 17:7-9 Die gelykenis waarmee Lukas die tweede deel van Jesus se onderwysing van sy volgelinge op pad na Jerusalem afsluit, volg op ’n vraag wat Jesus aan hulle stel om hulle te laat dink. Die verhaal kom slegs in Lukas voor. Jesus skilder ’n voorbeeld uit die alledaagse lewe. ’n Boer wat ‘n slaaf het sal hom tog nie aan die einde van ’n werksdag nooi om by ‘n tafel te kom aanlê nie (soos die Jode destyds by ’n lae tafel met rusbanke rondom geëet het). Gewoonlik word die slaaf beveel om die ete vir sy eienaar reg te maak en te bedien. Hy word ook nie eers bedank vir die ete nie, maar kan eers daarna self gaan eet. In die koninkryk van Jesus is dit egter nie so nie. In 12:37 bedien die eienaar sy getroue slawe met ’n ete, en in 22:27 sê Jesus, Hy doen dit anders as die gewone mense; tussen sy volgelinge is Hy soos iemand wat dien). 

 17:10 In die toepassing van die gelykenis vergelyk Jesus sy volgelinge egter met die slawe wat hulle eienaar ná werk moet bedien sonder om ’n dankwoord te verwag. Dit was die posisie van slawe in die antieke tyd. Hulle dagtaak agter die vee of op die land het ook die aand se tafelbediening ingesluit. ’n Slaaf werk nie vir homself nie, nie vir sy eie sake nie. Sy hele lewe is in diens van sy eienaar. Dit is die posisie van ’n apostel, geheel aan Jesus Christus verbind. In die koninkryk van ons Skepper, wat ons mense juis geskep het om vir Hom te lewe, en vir die verlossing van ons sonde aan ’n kruis kom sterf het om ons terug te koop met sy bloed (1 Kor 6:20), kan ons nie aanspraak maak op loon nie, maar slegs in dankbaarheid Hom liefhê en dien (Rom 12:1-2). Ons moet onsself sien as slawe wat nie besondere lof verdien het nie (achreios sonder verdienste, sonder om lof te verdien; egter nie waardeloos, nikswerd nie), maar wat dankbaar en bly is oor die voorreg dat Hy ons toelaat om Hom te dien. Iemand wat in geloof ’n wonder laat geskied (Luk 17:6), is in die versoeking om daaroor te roem. Jesus vra, met die toepassing van die algemene gebruik van eienaars wat slawe het, dat sy volgelinge altyd nederig sal bly in sy diens, een van sy geringstes sal bly (Luk 17:2). Ons beste werke gee ons nie enige aanspraak voor God nie. Hy sal ons werk beoordeel, of dit goed en getrou was (Luk 19:17; vgl. 1 Kor 3:5-9). 

image_pdfimage_print

You may also like...