Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se vraag oor die Seun van Dawid (Luk 20:41-44) – Francois Malan
Voor die paragraaf oor die Seun van Dawid, plaas Markus 12:28-34 die vraag van ’n skrifgeleerde oor die grootste gebod in die wet. So ook Matteus 22:34-40 wat dit ’n vraag maak van die Fariseërs, nadat Jesus die Sadduseërs se mond gesnoer het. Lukas 10:25-28 plaas egter die opsomming van die wet in die mond van die skrifgeleerde by die verhaal van die barmhartige Samaritaan.
20:41 Jesus het vir ‘hulle’ gevra, waarskynlik die ‘sommige skrifkenners’ van 20:39 en die ‘hulle’ van 20:40 wat ‘sommige Sadduseërs’ van 20:27 insluit. Volgens 20:45 het die hele volk daar op die tempelterrein na Hom geluister. Jesus vra: ‘Hoe sê hulle dat die Christus die seun van Dawid is?’ Die Christus is die Jode se verwagte Messias wat gesalf sal word tot koning, soos sy voorvader Dawid, volgens die belofte van die Here aan Dawid in 2 Sam 7:16 (vgl. Amos 9:11 wat die vervalle hut van Dawid weer moet oprig). So het die blinde by Jerigo Hom reeds aangeroep: Seun van Dawid ontferm U oor my (Luk 18:38-39), en het die skare met groot verwagting Hom in die Dawidstad ingelei met uitroepe dat Hy die Koning is wat in die Naam van die Here kom (Luk 19:37-38). Die engel Gabriël het al vir Maria gesê ‘die Here God sal aan Hom die troon van sy voorvader Dawid gee (Luk 1:32).
20:42-44 Jesus wys met ’n aanhaling uit Ps 110 op ’n skynbare weerspreking in die Skrif, want in die struktuur van die antieke groot familie was dit onmoontlik dat ‘n seun die heer oor sy vader kan wees. Die psalm sê dat God vir Jesus hoër as sy voorvader Dawid stel, Jesus as Here, teenoor Dawid die mens. Jesus vra aan die skrifkenners en die volk om mooi te dink oor die implikasie van Ps 110:1. Dawid noem Hom (Jesus, die Seun van Dawid) dus Here. Hoe kan Hy dan Dawid se seun wees?
In dié Psalm sing Dawid, die koning van Israel, in die jaar 1000 v.C.:
‘Die Here,’ kurios, Jahweh, die Ek is van Gen 3:14-15 waaroor die vorige paragraaf oor die opstanding handel, ‘het vir my Here’ (Dawid se kurios, Adonai, nl. Jesus wat hier by die tempel voor sy volk staan) ’gesê:’ “Sit aan my regterhand,” die ere posisie aan God se regterhand om as God oor die ganse heelal te regeer, dit wys heen na Jesus se hemelvaart en ontvangs van sy koningskap (vgl. Luk 19:12).‘totdat Ek,’ God die Vader, ‘u (Jesus se) vyande ’n voetbank vir u (Jesus se) voete gemaak het’ – ’n teken van onderwerping van die heelal aan sy koningsheerskappy, en van wat gaan word van die Jode en van enige mens wat sy koningskap teenstaan – vgl. Luk 19:27; 1 Kor 15:25: Want Christus moet as koning regeer totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Openb 1:7: elke oog sal Hom sien, selfs hulle wat Hom deurboor het.
Eintlik kan ‘Seun van Dawid’ ook ’n bewys wees van Jesus se nederigheid. Flp 2:6-8: deurdat Hy ‘wat in die gestalte van God was…Homself prysgegee het en aan mense gelyk geword het’ as Seun van die nederige Dawid, wat van homself gesê het: ‘maar ek is ’n wurm en nie ’n mens nie, deur die mense bespot en verag deur die volk (Ps 22:7).
Die aanhaling uit Ps 110 bevestig ook dat Jesus se gesag van die Here God kom, van Jahweh, die ewige teenwoordige God. Die aanhaling uit Ps 110 is Jesus se antwoord op die vraag na sy gesag (Luk 20:1-2). Na die vorige gesprek oor die opstanding uit die dood, gaan hierdie gesprek oor Jesus se hemelvaart tot aan die regterhand van die Vader, vanwaar Hy as koning oor die hele skepping sal regeer (vgl. 1 Kor 15:20-28; Rom 8:34 en vir ons intree; Kol 3:1 sodat ons sal streef na dit wat daarbo by Hom is; Hebr 1:3,8-9 waar Hy sit op sy ewige regverdige troon, gesalf met vreugde-olie – om ons die pad van die lewe te wys met oorvloedige vreugde in sy teenwoordigheid (Ps 16:11).
Markus en Lukas het geen reaksie van die mense op Jesus se vraag nie. Matteus 22:46 sê: Niemand kon Hom ’n woord antwoord nie. En van daardie dag af het niemand ooit weer gewaag om Hom te ondervra nie.
Jesus waarsku teen die skrifkenners (Luk 20:45-47)
In Luk 11:37-54 het Jesus die Fariseërs en die wetskenners in Galilea gewaarsku dat daar ellende vir hulle wag oor hulle lewenswyses. Daarna het Jesus sy dissipels in die besonder, en die skare, gewaarsku teen die ‘suurdeeg,’ die skynheiligheid van die Fariseërs. Hier in 20:45-47 waarsku Jesus sy dissipels ten aanhore van die hele volk teen die lewenswyse van die skrifkenners.
Matteus het ’n lang hoofstuk 23 oor Jesus se waarskuwing aan die skare en sy dissipels teen die Fariseërs en skrifkenners. In Mark 12:38-40 waarsku Jesus sy hoorders teen die skrifkenners, soos hier in Lukas.
20:45 Ten aanhore van die hele volk wat vir die paasfees na die tempel in Jerusalem toe gekom het, waarsku Jesus sy dissipels teen die eersug en huigelary van die Joodse skrifkenners. So skemer hier reeds iets deur van die onderskeid tussen die Jesusvolgelinge en die volk Israel wat deur hulle skrifkenners mislei word, tussen kerk en sinagoge. Later ontwikkel dit in ’n skeiding tussen die twee wat reeds begin het met die uitbanning uit die sinagoge van die blindgeborene wat deur Jesus genees is (Joh 9:22,34).
20:46-47 Wees deurentyd op julle hoede vir die skrifkenners! Drie kenmerke van hulle lewenswyse word uitgesonder:
Die eerste wys na hulle begeerte om deur die mense raakgesien en vereer te word: lang stolas is ’n simbool van waardigheid en hoë status. Dit wys dat jy nie handewerk hoef te doen nie, want so ’n lang rok sal net daarvoor ’n hindernis wees; hulle hou daarvan om op die markpleine eerbiedig deur die mense begroet te word, om voor in die sinagoge en op die eresitplekke by die feesmaaltye te sit, waar almal hulle kan sien. Hulle wil so graag deur mense geëer word, maar wat die Here van hulle dink, is nie vir hulle belangrik nie.
Hulle onderrig oor die Skrif was gratis, maar leerlinge se gawes aan hulle leermeesters is as verdienstelike goeie werke aangeprys. Blykbaar het hulle weduwees aangemoedig om bo hulle vermoë gawes aan die Here by die tempel te gee, en dit dan vir hulleself geneem het om hulle leefstyl te handhaaf. Die skrifkenners het met hulle skyn vroomheid die weduwees se vertroue in hulle misbruik om hulleself te verryk. Die woord katesthiō opeet, word figuurlik gebruik vir roof, om die eiendom van iemand op oneerlike manier te bekom.
Hulle lang gebede tot God was uiterlike skyn sonder egte verootmoediging voor God, soos die gebed van die Fariseër in Luk18:11-12.
Die skrifkenners se eersug, oneerlikheid en geveinsde vroomheid lei tot ’n swaarder oordeel vir hulle. Hulle besondere verantwoordelikheid om die Skrif vir die volk uit te lê as die aanwysigings van die Here, plaas hulle onder die swaarder oordeel van die Here (Jak 3:1). Jesus se aanval op die skrifkenners lyk amper na ’n tweede, ’n geestelike tempelreiniging.