Die Evangelie volgens Lukas: Die vroue wat Jesus gevolg het (Luk 8:1-15) – Francois Malan

8:1 Soos in 4:44 en 5:12 sit Jesus sy reise deur die land voort om die vreugdeboodskap mee te deel (euangelizo), die koninkryk van God te verkondig (kerusso) en aandag aan persone te skenk. Hy is ’n gas by feesmale waar Hy vir dié wat in Hom glo, hulle sonde vergewe. Van stad tot stad en van dorp tot dorp verkondig Hy die koningskap van God en roep dit uit as ’n vreugde- en oorwinningsboodskap; as vreugde in God se bemoeienis met die mens en die mens se oorwinning oor sonde en selfsug. Die twaalf wat Hy uit die dissipels uitgekies het en as gestuurdes/apostels aangestel het (6:13), vergesel Hom op die reis deur die land, en help Hom waarskynlik met die verkondiging.

8:2 Dat Jesus ook vroue saam met Hom op sy reise neem is uitsonderlik. Die Jode het ’n vrou saam met kinders en slawe gereken. Hulle hoef nie die shema-belydenis op te sê, of danksegging by etes te doen nie, en word nie in die wet onderrig nie. En nou vergesel die vroue vir Jesus op sy reise saam met die twaalf apostels, hoor en sien alles wat Jesus sê en doen. Daarmee ken Jesus aan die vroue volle menswaardigheid voor God en die mense toe en neem hulle dankbaarheid aan.

Onder die baie ander vroue wat saam met Jesus was, word drie se name genoem: eers Maria van Magdala (‘Die Toring’), ’n stadjie naby Tiberias en aan die see van Tiberias/Galilea. Jesus het haar verlos van sewe demone (’n besondere graad van besetenheid, wat gewoonlik met sielsiektes geassosieer is).

8:3 Tweede: Johanna, die vrou van Gusa, ’n bestuurder van Herodes. In Tiberias was een van Herodes Antipas se paleise. Moontlik het Johanna Jesus leer ken deur sy prediking in Tiberias, en dat Hy Maria Magdalena daar genees en bevry het van haar demone.

Susanna – van haar en van Johannes hoor ons niks verder in die Nuwe Testament nie.

Saam met baie ander vroue het hulle, uit hulle besittings, vir Jesus en die twaalf met kos en drank versorg (diakoneo)

 

Die gelykenis van die saad (Luk 8:4-8)

 Hier gebruik Lukas vir Markus 4:1-9 as bron. Die inleiding word verander, sekere woorde en sinsnedes ook. Die onderrig langs die see, van Markus 4:1, val weg.

8:4 Die skare kom uit die dorpe waarheen Jesus gestap en gepreek het (Luk 8:1). Jesus leer die skare deur middel van ’n gelykenis (parabole ’n korterige verhaal met simboliese betekenis, soms om net een saak te illustreer, soms allegories waar meer elemente van die verhaal simbolies is). Lukas verkort Markus se verhaal stilisties en bied dit aan in vier gelyke dele om die plekke waar gesaai is aan te dui met vier verskillende voorsetsels: langs (para) die pad,  op (epi) ’n klipbank, tussen (en mesoi) die dorings, in (eis binne in) die goeie grond; met twee onderafdelings om die lot van die saad en die vrugbaarheid van die verskillende plekke waar die saad gesaai is, aan te dui.

8:5 Markus en Matteus sê net dat ’n saaier uitgegaan het om te saai. Lukas voeg by om te beklemtoon dat hy sy saad gesaai het. Daarom is Lukas se verhaal die gelykenis van die saaier se saad en die lot van sy saad wat hy gesaai het, en nie slegs van die saaier soos in Markus en Matteus se begin nie. Maar by die verklaring van die gelykenis vertel Markus en Matteus ook van die lot van die saad.

’n Deel van die saad val langs die pad waar dit vertrap word (’n byvoeging van Lukas) en die voëls van die hemel (byvoeging van Lukas) het dit kom opvreet (katesthio heeltemal opeet). Die Palestynse saaiers het eers die saad gesaai en daarna ingeploeg. Daarom kan hulle nie vooraf sê hoe die grond onder lyk nie.

8:6 Die tweede deel van die saad val op die rots waar dit groei, waarskynlik bedek met ’n dun lagie grond (soos Markus 4:5 sê) en verdroog sonder vogtigheid (Markus en Matteus: sonder wortels). Lukas verkort Markus se weergawe.

8:7 Die derde deel van die saad val tussen die dorings (Markus in die dorings, Matteus: op die dorings). Die dorings groei saam (met die saad) en verstik die plant. Die veronderstelling is dat daar doringsaad in die grond was, wat opgekom het, soos Markus sê).

8:8 Die vierde deel van die saad val in die goeie grond (Matteus: op die goeie grond) en het gegroei en honderdvoudig vrug gedra (Markus en Matteus het ook nog dertig- en sestig-voudig), wat die oorvloed vrug beklemtoon.

Nadat Hy die dinge vertel het, roep Jesus uit: wie ore het om te hoor, moet luister! Daarmee word die erns van die gelykenis onderstreep as verkondiging van die heerskappy van God wat besig is om te kom.

Die gelykenis verseker die volgelinge van Jesus dat die verkondiging van die evangelie ’n ryke oes sal oplewer, ten spyte van alle terugslae, frustrasies en teleurstellings. Dit is ook ’n waarskuwing aan alle mense dat die egte kwaliteit van hulle lewens duidelik word uit hoe hulle die woord van God aanvaar of nie.

 

Die doel van die gelykenisse (Luk 8:9-10)

 Lukas verkort Markus 4:10-12. Matteus voeg Jesaja 6:9-10 by.

8:9 Sy dissipels (mathetai volgelinge of leerlinge) verwys in Lukas na al Jesus se volgelinge, nie slegs na die twaalf apostels nie (vgl. Luk 6:13). Hulle vra Hom wat hierdie gelykenis beteken (Markus 4:10 en Mat 13:10 praat van gelykenisse).

8:10 Hy het gesê: aan julle is gegee (die passief verwys na God wat dit aan hulle gee) om die geheimenisse (musteria) van die koninkryk van God te ken/verstaan (ginosko), maar vir die ander in gelykenisse sodat, terwyl hulle kyk, hulle nie sal sien nie, en terwyl hulle hoor, hulle nie sal verstaan/begryp (suniemi) nie, soos die Here reeds in Jesaja 6:9 gesê het.

Gelykenisse openbaar en verberg tegelyk, want Jesus se gelykenisse gaan oor die geheimenisse van die koninkryk van God, waarvan Jesus God se openbaarder aan die mens is. Vir die mense wat in Jesus en sy woord glo, gaan die geheimenisse van God oop. Die gelykenisse is juis bedoel om die geheimenisse van God vir kinders en eenvoudige mense te verduidelik en hulle tot ’n beslissing vir Jesus se nuwe lewenspad te lei.

Maar die mense wat Hom en sy woord en sy verlossingswerk verwerp, het geen idee van die geheimenisse van God se verlossingplan vir sy wêreld nie. Vir hulle bly die gelykenissse blote stories. Jesus is egter self die geheimenis van God, dat God self al ons sonde op Hom kom neem en ons verhouding met God regmaak. Hy is aan ons gegee sodat ons anders sal lewe as kinders van God in sy koninkryk op aarde.

 

Verduideliking van die geheimenis van die saad (Luk 8:11-15)

Die verduideliking beklemtoon dat die lig van God se woord, wat in die lewe van ’n mens opgaan, moet skyn tot voordeel van ander mense. God se openbaring begin as ’n persoonlike ontdekking wat uitloop op die vertroue van die mense wat met jou in aanraking kom (Luk 8:16). God se lig was aan Israel toevertrou om ’n lig te wees vir die heidene (Jes 49:6); maar in plaas daarvan dat hulle die lig laat skyn het, het hulle al hulle pogings gekonsentreer om te keer dat die vlam vir hulle uitgedoof word. Die lig van ’n lamp is juis bedoel om lig te maak in die donker (vgl. Lk 8:16).

8:11 Die uitleg van die gelykenis beklemtoon die woord en geloof. Die saad is die woord van God. Jesus is die woord van God en wat Hy verkondig is die woord van God. In afgeleide sin is die lewe en getuienis van Jesus se volgelinge ook die woord van God wat deur hulle spreek. Soos saad is die woord wat van God kom werksaam deurdat Jesus deur sy volgelinge werk. Geloof vertrou dat die woord van God bewerk wat dit sê (Ps 33:4).

8:12 Die duiwel wil die geloof in die woord van God verhinder sodat die mense nie daardeur tot verlossing kom nie. Die saad wat langs die pad val is mense wat die woord wel hoor, maar voordat die woord kan ontkiem, voordat die woord ’n verandering in hulle denke en lewe kan bewerk, kom die duiwel en neem dit uit hulle harte weg sodat hulle nie tot geloof in Jesus kom nie (Markus 4:17: wanneer hulle hoor neem Satan dit dadelik weg; Mat 13:19: die Bose roof wat in die hart gesaai is van iemand wat dit hoor en dit nie verstaan nie). Die geheim van die koninkryk van God is dat daar waar God werk die duiwel ook werksaam is. Die koms van die koninkryk van God is ’n stryd wat in die harte van die hoorders woed. Die reaksie op die woord van God kom vanuit die mens se hart, of hy hom heelhartig aan die Here wy, en of die wêreld sy hart wen.

8:13 Die saad wat op die klipbank val is ’n beeld van die mense wat die woord met blydskap aanneem as God se genadewoord. Maar wanneer hulle op die proef gestel word, sak hulle uit, soos saad wat nie wortel kan skiet op die rots nie. Hulle laat nie dat die woord hulle hart, hulle denke en lewenswyse verander nie.

8:14 Die saad wat groei maar tussen die dorings verstik verbeeld die mense wat die woord van God hoor, maar die bekommernis, rykdom en plesier van die lewe verdring die woord (Mark 4:19 spesifiseer: die bekommernisse van hierdie wêreld, die verleiding van rykdom, die begeertes na allerlei dinge), en daar is geen volkome ryp vrugte nie (In die Nuwe Testament is dit slegs Lukas wat die woord telesforeo ‘om volkome ryp vrugte te produseer,’ gebruik). Wanneer bekommernis styg oor te min gawes en besittings, word die geloofsvertroue in die beheer van die Vader verstik. As die begeerte na meer gawes en besittings as wat die Vader gee in ‘n mens opkom, word die oë blind en die hart ongevoelig  vir die heerskappy van die Vader. Wanneer die gejaag na wêreldse plesiere (hedone verwys na die begeerte na fisiese en ander plesier, ook seksuele plesier) opbruis, word die lig van die koninkryk wat besig is om te kom, verduister en God se plante verstik. Mense vul hulle lewe met so baie dinge dat daar geen ruimte is vir geestelike ryping nie, naamlik om al meer nederig en sagmoedig soos Jesus te word (2 Kor 3:18).

8:15  Maar God se woord kom nooit leeg terug nie! (Jes 55:11). Baie saad val in goeie grond en dra baie vrug (Luk 8:8 ’n honderdvoudige oes). Dié wat die woord met ’n goeie en opregte hart hoor, dit vashou en vrug dra, word vergelyk met die goeie grond wat die saad ontvang.

Vrug dra in die koninkryk beteken dat as God sy lig in die lewe van ’n mens laat skyn, dit ander mense sal verlig. Die ryk oes van God se woord word gelewer deur gehoorsaamheid aan die wil van God om in liefde te lewe vir Hom en ander mense, selfs vir jou vyande (Matt 5:43-48).