Die Evangelie volgens Lukas: Die waaksame bestuurder (Luk 12:35-48) – Francois Malan

image_pdfimage_print

In Lukas 12:35-59 word die volgelinge van Jesus al meer ingelei in die toekoms van die koninkryk van God, en meer spesifiek na Jesus as die Seun van die Mens en sy wederkoms (vers 40). Hy is die koning in God se koninkryk. Jesus se volgelinge sal daarvoor gereed wees as hulle hulle lewe rig op dit wat daarbo, ‘in die hemel,’ is (12:33). Die Vader gee sy koninkryk, waar Jesus as koning regeer, ook aan Jesus se volgelinge (12:32). Op aarde kan ons koninklik lewe, deur ons Vader versorg, koninklik uitdeel aan behoeftiges, as heersers oor versoekings en selfsug.

12:35 Die gelykenis van die waaksame bestuurder (12:35-38) is ’n oproep aan Jesus se volgelinge om konstant waaksaam te wees, om te lewe in afwagting van die Here se koms. Dit versterk Jesus se onderrig oor die regte gebruik van besittings wat tydelik is, en die wederkoms van Jesus wat seker is. Die Jode het lang jurke gedra, wat met ’n gordel opgebind moes word wanneer hulle handewerk verrig. Dit het ’n spreekwoord geword vir gereedheid om te werk, vgl.  1Petr 1:13 wat letterlik lui: ‘omgord die lendene van julle verstand,’ om verstandelik paraat te wees. Vir die tweede spreuk: ‘en julle lampe aan die brand’ vgl. die gelykenis van die tien meisies in Matt 25:1-13. Die inleidende spreuke wys op die bereidheid van die dissipels vir hulle Heer, terwyl Hy nog by hulle is, en veral wanneer Hy van hulle weggeneem gaan word.

12:36 Hulle moet soos mense wees wat wag op die terugkoms van hulle heer van huwelike/onthale af. Die diensknegte staan gereed vir wanneer hy terugkom. Die lampe in die huis brand nog teen middernag (Luk 12:38) – is dit nie ’n beeld van die kerk wat die lig in die donker wêreld moet wees nie (Matt 5:14)?  Die huwelik word gebruik as beeld van die messiaanse vreugde (Matt 22:2; Mark 2:19; Joh 3:29; Openb 19:9). Hier word dit ’n beeld van Jesus se terugkoms aarde toe van sy hemelse vreugdefees af.

12:37 Die verrassende en buitengewone gebeur in die koninkryk van God. Hierdie heer gord hom aan en bedien sy getroue dienaars as sy vriende aan tafel met ’n feesmaal. In Luk 22:27 word dit juis aangewys as Jesus se grootste diens aan sy volgelinge, soos Jesus met ’n linnedoek om sy lyf die voete van sy dissipels gaan was, in Johannes 13:5. Dit gaan nie om ’n aardse beloning nie. Hierdie Heer maak Homself die Kneg van sy knegte, wat volgens Matt 26:26 sy liggaam aan hulle gee om te eet.

12:38 Die tyd van sy wederkoms is egter onbekend. Hy word deur die hele nag verwag tot in die tweede of derde nagwaak. Onder die Jode (en Grieke) is die nag vir die wagte ingedeel in drie nagwake van 4 uur elk (Rigt 7:19 praat van die middelste nagwaak); die Romeine het hulle nag van 6nm tot 6vm in vier nagwake van 3 uur elk ingedeel

(Mark 13:35: sero aand, media nocte middernag, galli canu hanekraai, mane vroegoggend). Die diensknegte wat tot laat nag nog in gereedheid wag op hulle heer, word deur Jesus ‘geseëndes’ (makarioi) genoem.

12:39-40 Om dringend altyd in gereedheid op Jesus se koms te wag, word met ’n gelykenis beklemtoon: ’n huiseienaar weet nie wanneer ’n dief ’n gat in sy huis se muur, wat van grond gemaak is, gaan grawe nie. As hy sou geweet het wanneer die dief kom, kon hy nog gewag het tot daardie tyd om die diefstal te keer. Maar omdat hy nie weet nie, moet hy altyd gereed wees vir enige gebeurlikheid. As hy egter nie voordurend op wag is nie, word hy deur die dief verras en beroof. So sal die mens, wat nie gereed is vir die koms van die Seun van die Mens nie, wat nie in Hom glo of Hom gehoorsaam nie, ’n onherroeplike verlies ly. Die koms van die Seun van die Mens sal vir hom ’n ewige verdoemenis bring (Dan 7:9-27; 1 Kor 16:22). Daarom moet ’n gelowige in konstante gereedheid lewe vir sy koms, want Hy kom onverwags, soos ’n onverwagte dief in die nag (1 Tess 5:2; Openb 16:15 ). Gereedheid beteken dat gelowiges saam (vgl.’julle’) sal lewe in sy teenwoordigheid (2 Petr 3:10-13; Rom 13:11-14).

12:41 Die tweede gedeelte bekyk die koms van die Here uit ’n ander hoek, die betroubare en verstandige bestuurder teenoor die onbetroubare bestuurders. Dit word ingelei met ’n vraag. Namens die dissipels vra Petrus, sy apostelnaam (vgl. Joh 1:42), oor die voorregte van die apostels bo alle gelowiges. Deur die eeue is die posisie van die leiers van die gelowiges ’n probleem (vgl. Eseg 34:2 vir die herders van Israel wat net vir hulleself sorg; 1 Petr 5:2-3 se waarskuwing aan ouderlinge om nie uit skandelike winsbejag en baasspelerig teenoor hulle kudde op te tree nie). Jesus antwoord op Petrus se vraag deur te wys op die besondere verantwoordelikhede van leiers. Dit raak nie alleen die leraars van gemeentes nie, maar enige persoon aan wie ’n taak opgedra word, ook gewone gelowiges in die kerk en in die wêreldlike lewe. Die bestuurder word in Luk 12:37,43 ’n slaaf genoem, ’n dienaar van dienaars.

12:42-44 Van die betroubare en verstandige bestuurder (oikonomos as bestuurder wat oor ’n huishouding aangestel is) wat deur die heer aangestel sal word (die werkwoord in die toekomstige tyd slaan op die tyd ná Jesus se hemelvaart) oor sy eiendom, word verwag om die huisbediendes (therapeias) hulle rantsoen (sitometrion volle hoeveelheid kos wat hulle toekom) betyds te gee. Anders as die waaksame slawe van Luk 12:35-36, word hier verwys na die leier se verantwoordelikheid teenoor mede-slawe. Die getroue bestuurder word gelukkig (makarios) genoem, en word van ’n kosuitdeler bevorder tot ’n opsiener oor al die eiendom van sy heer (vgl. Luk 19:17 oor die toevertroude muntstukke). Hier skemer deur dat die ewige lewe groter werksaamheid en verantwoordelikheid inhou in die koninkryk van ons God, wat steeds werk (Joh 5:17).

12:45-46 Die ontroue slaaf interpreteer sy heer se talm om te kom as ’n geleentheid om misbruik van sy mag te maak. Dit word duidelik deur sy omgang met die mense wat aan hom toevertrou is en die goed wat aan hom toevertrou is. Hy behandel die mense sleg en is nalatig met die goed aan hom toevertrou, deur dit vir sy eie genot te misbruik deur sy nagte in dronkenskap deur te bring. Hy leef homself uit ten koste van sy medeslawe omdat hy vergeet het dat hy altyd teenoor sy heer verantwoordelik is vir alles wat hy doen. Vir hom is die koms van sy heer ’n onaangename verrassing. Hy sal die slaaf middeldeur kap (dichotomeō  in twee sny soos die Persiese strawwe, in stukke sny, onthoof, baie swaar straf) en hom met die lot van die ontroues tref (vgl. Luk 13:25-28 die huisbaas sal sê: Ek weet nie waar julle vandaan kom nie).

12:47-48 Die gedeelte word afgesluit met Jesus se waarskuwing dat daar beslis straf wag vir die mense wat hulle plig versuim. Vir die slaaf wat weet wat sy eienaar wil hê, maar nie leef in die verwagting van sy terugkoms nie en hom daarvoor voorberei nie, sal swaar gestraf word. Die slaaf wat nie weet nie, en dinge doen wat straf verdien, sal gestraf word as sy eienaar terugkom, maar slegs liggies. Daar rus ’n verantwoordelikheid op mense wat baie ontvang het. (Amos 3:2). Mense word nie slegs gestraf vir wat hulle verkeerd doen nie, maar ook omdat hulle nalaat om te doen wat reg is (Jak 4:17). God se ewige krag en goddelikheid kan duidelik gesien word in sy skepping. Daarom het niemand ’n verontskuldiging nie (Rom 1:19-23), ook nie die heidene nie (Rom 2:14-16). Elke mens is voor God verantwoordelik vir hoe hy of sy lewe. Hoe beter jy God ken, hoe groter is jou verantwoordelikheid.

image_pdfimage_print

You may also like...