Die Evangelie volgens Lukas: Ellende vir die onboetvaardige dorpe (Luk 10:13-16) – Francois Malan

10:13-14. Lukas plaas die gedeelte hier as terugblik op Jesus se arbeid in Galilea wat nou afgesluit is. Die drie stede lê in ’n driehoek: Gorasin 3 km noord van Kapernaum en Betsaida oos van Kapernaum in die gebied van Filippus aan die oorkant van die Jordaanrivier wat in die see van Galilea vloei. Jesus het die meeste van sy prediking en werke hier gedoen. Jesus se kragtige dade verwys na sy wonderwerke wat hulle gesien het, wat die tekens was van die teenwoordigheid van die koningskap van God by hulle. Terwyl sommige van die dorpe in Judea en Perea waarheen die 72 dissipels gestuur word Jesus moontlik gaan verwerp nog voordat hulle Hom gesien het, en daardeur vir hulleself  die nabyheid van die koninkryk ontsê, het hierdie drie dorpe die kragtige dade gesien en belewe, en Jesus tog nie aangeneem en as God se Seun erken nie. Die twee buurstede van Kapernaum word gestel teenoor die twee heidense kusdorpe Tirus en Sidon, wat in sak en as sou gesit en hulle bekeer het, soos Nineve van ouds op die prediking van Jona (Jona 3:5). Hoe groter die Here se genade wat verwerp word, hoe groter die straf.

Die wee-roep is ’n weeklag oor die hardheid van die stede se inwoners en die vreeslikheid van hulle einde (Luk 13:28). Van Jesus se wonderdade in Gorasin word nie verder in die Evangelies vertel nie, en wys na baie werke van Jesus wat nie in die Evangelies opgeteken is nie. (vgl Joh 20:30).

10:15 En dan word Kapernaum aangespreek met woorde op die stramien (basis) van die oorwinningslied oor die koning van Babel in Jesaja 14:12-15. Kapernaum is deur Jesus uitgekies as sy stad (Matt 4:13) en is daarom verhef tot die hemel, die woonplek van God, omdat die Seun van God in Kapernaum kom woon het. Kapernaum sal sink tot in die doderyk (hades die mense van die Bybelse tyd se idee oor die plek onder die aarde van die dooies), omdat hulle Jesus nie as God wat by hulle kom woon het, erken het nie. Hemel word hier gebruik as die hoogtepunt van glorie en die doderyk as die dieptepunt van vernedering.

10:16  Met die oordeel oor die stede waaruit Jesus die meeste van sy werk gedoen het, Gorasin en Kapernaum in Galilea en Betsaïda in Filippus se gebied, word sy onderrig aan sy volgelinge uit die twee streke afgesluit met die algemene uitspraak oor die getuieniswerk van sy volgelinge. Daarmee gee Hy sy gesag aan die 70/72 wat Hy uitstuur en aan al sy latere volgelinge. As sy gesante getuig hulle oor Hom, oor die koninkryk van God, namens Jesus en in sy Naam. Aangesien ’n gesant sy sender verteenwoordig, is ’n aanvaarding of verwerping van sy gesante ook ’n aanvaarding of verwerping van Jesus self, en daarmee ook van God, wat vir Jesus gestuur het. Hy stuur nou sy volgelinge uit met sy boodskap wat Israel terugroep na hulle ware roeping as God se heilige volk. Die stede en dorpies moet kies: óf hulle kies Jesus se nederige self-opofferende diens in God se koninkryk, óf hulle kies hulle Joodse selfregverdigende en trotse nasionalisme (vgl. Luk 18:9-14). Dié oordeel sluit aan by Luk 10:12 en by die oordeel oor Gorasin, Betsaïda en Kapernaum.

 

Die terugkeer van die 72 (Luk 10: 17-20)

10:17 Die onderrig van die dissipels word afgesluit met die vreugdevolle terugkeer van die 72 omdat selfs die demone hulle aan hulle onderwerp het op grond van Jesus se Naam. Die dissipels spreek Jesus aan as ‘Here’(kurios), wat die seggenskap het in God se koninkryk en selfs oor die demone, soos hulle dit, as sy gesante, self beleef het.

10:18  Die naam vir die duiwel ‘Satan’ is afgelei van die Hebreeuse woord wat ‘teenstander’ of ‘aanklaer’ beteken, (vgl. sy aanklag en teenstand teen Job en teen alle gelowiges; Job 1:6-12; 2:1-7; Openb 12:7-12).  Sy blitssnel skielike val uit die hemel, soos ’n weerligstraal, beteken dat hy nie langer enige aanklag teen ’n mens aan God kan voorlê nie, want Jesus het alle aanklagte teen mense op Homself geneem en dit aan sy kruis gespyker (Kol 2:14). Met Jesus se koms na die wêreld, met sy menswording, het Hy as die Skepper-God Hom reeds met die mensdom kom vereenselwig, en toe Hy Homself in die hande van mense oorgegee het (Luk 9:44) het Hy, as die paaslam van God, die sonde van die wêreld deur sy offer weggeneem (Joh 1:29; 1 Kor 5:7; Hebr 2:9). God het sy offer aangeneem deur Hom uit die dood op te wek (Hand 3:15; 4:10; Hand 5:30-31; 10:40-43; 17:3). Hy moes ly en uit die dood opstaan (dei dui die noodwendigheid daarvan aan omdat dit God se raadsplan is waaroor die Vader en die Seun en die Heilige Gees saam besluit het). In Rom 8:33-34 vra Paulus wie sal die uitverkorenes van God aankla? God is die Een wat vryspreek. Wie sal ons veroordeel? Christus het gesterf – meer nog: Dit is Hy wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree (vgl. Ps 110:1). As God ons dan vrygespreek het, kan Satan ons nie meer by God aankla nie.

Deurdat die groot aanklaer uit die hemel uitgewerp is, kon die 72 dissipels die duiwels uitdryf en het die demone hulle aan die dissipels onderwerp op grond van Jesus se Naam, die Jesus wat al die versoekings van die Satan weerstaan het (Luk 4:1-13). Dit ten spyte daarvan dat die Satan, wat uit die hemel uitgegooi is, nou saam met sy engele op die aarde neergegooi is en sy heerskappy hier probeer uitoefen (Openb 12:9).

10:19 Psalm 91:13 sê dat die mens, wat by die Almagtige Here skuil, Hom aanroep en aan Hom toegewy is, sal op leeus en horingslange trap, en jong leeus en slange vertrap. Die volmag wat Jesus aan die twaalf gegee het (9:1) sê duidelik dat die Satan sy greep op die mens ten gunste van Jesus verloor het. Die nabyheid van die koninkryk van God in Jesus  se lewe en sterwe wys na die begin van die verwisseling van die Satan se heerskappy van geweld en bedrog op aarde met Jesus en sy bedeling van liefde en genade. In die woestyn het die Satan Ps 91:11 vir Jesus aangehaal om Hom te versoek, dat die engele Hom sal beskerm sodat sy voet nie oor ’n klip sal struikel nie (Lukas 4:10-11). Nou pas Jesus Ps 91:13 op die twaalf toe om hulle te versterk in hulle geloof in Hom as hulle bewaarder teen die slange wat hulle hakskeen sal probeer byt (Gen 3:15; Hand 28:3-5) en gee aan hulle die gesag (eksousia gesag om te heers, te beheer en te oordeel) oor al die mag van die vyande van Jesus.

Romeine 8:36-37 sê:  al word ons ter wille van God soos slagskape behandel (soos Ps 44:23 sê) is ons in alles selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet. 1 Kor 13:8 sê dat liefde nooit faal nie (pipto val, vernietig word, sterf, ophou, ontoereikend wees). Só, in liefde, word ons gesag in Jesus se Naam uitgeoefen.

10:20  In vers 17 was die feit dat die demone hulle aan die 72 onderwerp het, die rede vir hulle groot blydskap. Ware blywende vreugde kom egter nie van die uitoefening van gesag oor ander, selfs oor duiwels nie, maar in die onwrikbare wete dat God ons ken en ons name reeds in die hemel opgeteken het (Flp 4:3 in die boekrol van die lewe van die Lam wat geslag is; Openb 13:8). Nie die verjaagde duiwel nie, maar dat God daar is vir ons, maak werklik bly. Rom 8:31-32: ‘As God vír ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het – sal Hy nie ook saam met Hom alles aan ons skenk nie?’ Dit is ons blywende vreugde (vgl. 1 Petr 1;5-6).