Die Evangelie volgens Lukas: God se vreugde oor die bekering van die sondaar (Luk 15:1-10) – Francois Malan

Die drie gelykenisse oor die groot vreugde oor verlorenes wat gevind word, het ’n onderbou uit Jeremia 31:10-20:

  •             Die verlore skaap, vgl. Jer 21:10-12 oor die Here as wagter van sy trop skape wat Hy verlos het.
  •             Die verlore penning, vgl. Jer 21:13-14 die jongmeisies wat sonder kommer sal dans van blydskap.
  •             Die verlore seun, vgl. Jer 21:15-25 Rachel treur oor haar kinders wat weg is, die Here sê: jou kinders, wat  weggedwaal het, sal terugkom, hou jou oog op die grootpad. Die  Here skep iets nuuts.

15:1-2 Die drie gelykenisse sluit aan by die groot feesmaal van Luk 14:15-24, waar die onaanvaarbares aansit omdat die genooides verskonings het. Luk15:1-2 sluit daarby aan met die skrifgeleerdes en Fariseërs wat onder mekaar gemor het omdat Jesus tollenaars en sondaars ontvang en saam met hulle eet. Al die tollenaars en sondaars is ’n opsommende uitdrukking om te sê, oral waar Jesus kom, kom die sondaars en tollenaars van die dorp na Hom luister (vgl. Luk 5:30). Die skrifgeleerdes en Fariseërs mor soos hulle voorvaders in die woestyn (Eks 16:2,7,8 1983 vertaal murmurering met ‘verset’). Jesus ontvang sulke mense vriendelik. Die tollenaars en sondaars is bly dat Hy hulle so ontvang en dat Hy saam aan hulle feesmale aansit. Jesus verteenwoordig die sondaarsliefde van God, sodat ons sondaars met Hom gemeenskap verkry met die God van geregtigheid. Deur Jesus se liefde, wat Hom vir die sonde van die wêreld laat sterf, word ons sondaars se verhouding met God reggestel. Dit staan teenoor die ‘regverdiges’ wat meen dat hulle hulle téén Jesus kan beroep op die God van geregtigheid. Daarom roep Jesus die morrende ‘regverdigdes’ op met die drie gelykenisse tot vreugde oor een sondaar wat hom bekeer. Jesus regverdig sy optrede teenoor die uitgeworpenes deurdat God se liefde nie wag vir die sondaar se berou oor sy sonde nie, maar dat Hy die inisiatief neem om die skaap tot herstel te bring.

Tollenaars is deur die Jode, en veral deur die godsdienstige leiers, verwerp, o mdat hulle beskou is as verraaiers wat in diens staan van hulle onderdrukkende Romeine, en hulleself verryk ten koste van hulle landgenote. Sondaars was mense met losse sedes en oortreders van God se wet, wat beroepe beoefen wat strydig is met die wet. Daarom mag ’n Jood nie omgang met hulle hê of by hulle of by heidene besoek aflê  nie (vgl. Hand 10:28;). In 14:35 het Jesus gesê: wie ore het om te hoor, moet luister. Die sondaars en tollenaars het Hom duidelik gehoor en hulle daaroor verheug, terwyl die skrifgeleerdes en Fariseërs oor sy optrede mor.

 

Die gelykenis van die verlore skaap (Luk 15:1-7)

15:3-6 Die skaapwagter dink net aan die een skaap wat verlore geraak het, en los die 99 daar in die woestyn. Jesus stel dit as ’n vraag aan sy teenstanders om te oordink. Die vraag is so gestel dat hulle dit positief sal antwoord: wie van julle…?  Elkeen van hulle sal sy verlore skaap gaan soek, gedryf deur die verlies van sy verlore besitting. Die 100-tal verteenwoordig eintlik die hele Israel, wat die dwalendes insluit. Die herder aanvaar nie dat sy skaap verlore is nie, soos die ‘regverdiges’ met die sondaars van Israel doen nie, maar soek hom bergop en bergaf, en dra hom met blydskap terug, vertel vir sy vriende daarvan en saam is hulle bly daaroor.

15:7 Die skrifgeleerdes en Fariseërs is eintlik die herders van Israel wat hulle saam met God behoort te verheug oor elke verlore skaap wat hom bekeer, meer as oor die 99 ‘regverdiges,’ wat dit nie nodig het om hulle te bekeer nie. Die uitspraak van Jesus: ‘Ek sê vir julle’ kom met gesag oor wat in die hemel gebeur. Dit is met die gesag van sy Vader dat Jesus vertel wat God en wat Hy dink oor ’n sondaar wat tot bekering kom. En as die ‘regverdiges’ nie saam met God en Christus verheug is oor ’n bekeerde sondaar nie, is daar ’n vraagteken oor hulle ‘geregtigheid.’ God is wel verheug oor regverdiges wat nie bekering nodig het nie, maar is blyer oor die bekering van ‘n enkele sondaar. Dit is so anders as die Joodse spreekwoord: Daar is vreugde by God as dié wat Hom uittart uit die wêreld verdwyn. So het die

Jode God misverstaan en het Jesus gekom om te wys hoe God werklik is, soos Hy Hom 1200 jaar tevore reeds aan Moses geopenbaar het op die top van die berg Sinai (Eks 34:5-7). Die ironie is dat al die sondaars (verlore skape) na Jesus toe gekom het (enggizomai) en die herders van die skape, die Fariseërs, oor Jesus gemor het (diagogguzō) – Lukas speel met die twee Griekse woorde se ooreenklinkende klanke.

 

Die gelykenis van die verlore muntstuk (Luk 15:8-10)

15:8 Tipies van Lukas moet daar op die welgestelde herder wat sy een verlore skaap uit 100 gaan soek, ’n arm huisvrou volg, wat haar een muntstuk uit 10 verloor het (vgl. die gelykenis van een verlore seun uit 2). Die dubbele gelykenis oor die wil van God om sy verlore eiendom te herwin is ’n dubbele getuienis oor God se soeke na sy mense wat verlore raak. Die een van tien dragmas (’n Griekse silwermuntstuk gelyk aan die Romeinse dinarius wat ongeveer die dagloon van ’n arbeider is) verteenwoordig haar huisgesin se koste van een dag, of is een van haar kopbandjie se tien munstukke wat sy as bruid gekry het. Vir ’n arm vrou is dit in elk geval ’n kosbare besit. Met alle sorg word die huis deursoek na die kosbare munt. Die soektog na die verlore skaap vertel van die aanhou van die soeke. Die soektog na die verlore muntstuk beklemtoon die deeglikheid van die soektog.

15:9 Sy roep ook haar buurvroue om te deel in haar vreugde oor die muntstuk wat gevind is.

15:10 So is daar ook in die hemel blydskap onder die engele oor een verlore mens wat gevind is. Die engele wat die troon van God omring deel in God se vreugde. Soos die hemel in 15:7 is die engele in 15:10 ’n manier om na God, die Eienaar, se vreugde oor die vind van een van sy verlore mense, te verwys. Dit is Jesus se tweede oproep tot die skrifgeleerdes en Fariseërs om bly te wees oor die tollenaars en sondaars wat na Jesus toe kom. Jesus ondervind egter dat die vreugde in die hemel nog geen blydskap op die aarde is nie. Daarom is dit sy begeerte om hulle oë te open vir die koninkryk van God wat naby is en in Jesus geopenbaar word in wat Hy sê en doen. Maar die godsdienstige leiers is nie saam met Jesus, die Herder en die Eienaar, bly oor die verlorenes wat na Hom toe kom nie. Daarom sluit hulle hulle uit uit die vreugde van God en die hemelse skare van engele wat met Jesus bly is oor die bekering van ’n sondaar. Hulle sluit hulleself toe vir Jesus, die Herder van die kudde en Eienaar van die muntstukke, en vir die voorreg om saam met Hom en sy vriende daaroor bly te wees. Hulle onttrek hulle nie slegs van Jesus nie, maar ook van God.