Die Evangelie volgens Lukas: Inleiding – Francois Malan

Die skrywer

Lukas se naam is waarskynlik reeds in die eerste helfte van die tweede eeu skriftelik aan hierdie Evangelie verbind. Die oudste getuienis daarvan kom van Ireneus, biskop van Lyon in 178-180 n.C. in sy Weerlegging van die Dwalings (Contra Haereses) dat Lukas, die metgesel van Paulus, die evangelie wat Paulus verkondig het, neergeskryf het. Die Kanon van Muratori uit dieselfde tyd sê:  ‘Die derde Evangelieboek volgens Lukas. Hierdie dokter Lukas het dit ná die hemelvaart van Christus onder sy naam geskryf volgens die algemene opinie, omdat hy Paulus se weg aanvaar het. Maar hy het ook nie die Here na die liggaam gesien nie’.

Lukas word drie keer in die Nuwe Testament genoem: Kol 4:14, Lukas die geliefde dokter, wat groete stuur vir die Kolossense; Filem 24; 2 Tim 4:11: ‘Net Lukas is nog by my.’ In Handelinge, Lukas se tweede werk, dui die ‘ons’ gedeeltes, 16:10-17; 20:5-15; 21:1-18; 27:1-28, op Lukas as metgesel van Paulus op dié dele van die reise wat daarin genoem word (Lukas se Evangelie en Handelinge is saam meer omvattend en langer as elkeen van die ander NT skrywers se totale werke (meer bladsye as al Paulus se briewe saam, ook meer as al die Johannese geskrifte saam).

Die anti-Marsionitiese proloog tot die Derde Evangelie (160-180 n.C.) sê dat Lukas van Antiogië in Siriē afkomstig is. Hy was nie ’n Jood nie (hy is die enigste nie-Joodse skrywer in die Nuwe Testament) en sy goeie Grieks suggereer ’n Griekse afkoms. Daar is heelwat Semitiese elemente in sy taal waar die Griekse vertaling van die Hebreeuse Ou Testament, die Septuaginta, aangehaal word, wat aandui dat hy, meer as die ander Evangelies die Septuaginta aanhaal om die besondere band met die Ou Testament te bewaar.

 

Tyd van ontstaan

Omdat Lukas waarskynlik vir Markus gebruik as een van sy bronne, is ’n datum ná Markus, wat moontlik in die vroeë sestiger jare n.C. geskryf is, waarskynlik. Die tempel was toe waarskynlik nog nie deur die Romeine in 70 n.C. verwoes nie. Die groot vuur in Rome was in 64 n.C. Nero het die skuld daarvoor op die Christene gelê en hulle kwaai begin vervolg. Lukas is waarskynlik voor 64 n.C. geskryf. Handelinge 28:30-31 sluit af met Paulus na twee jaar onder bewaking in sy gehuurde huis in Rome as ’n vergunning (Hand 28:16; 30). Paulus was volgens Handelinge  24:27 vir twee jaar gevangene in Sesarea (Junie 56 – September 58 n.C.) en twee jaar in Rome (Maart 59-61 n.C.). Lukas kon moontlik gedurende Paulus  se gevangenisskap in Sesarea sy stof versamel en opgeteken het en gedurende die twee jaar in Rome die Evangelie en Handelinge geskryf het.

 

Indeling van die boek

  •  1:1-4 Inleiding (proloog of voorwoord)
  •  1:5-2:52 Geboorteverhale van Johannes die Doper en van Jesus.
  •  3:1-4:13 Voorbereiding vir Jesus se openbare bediening
  •  4:14-9:50 Jesus se bediening in Galilea
  •  9:51-19:27 Op pad na Jerusalem
  • 19:28-23:25 Jesus se bediening in Jerusalem
  • 23:26-49 Die kruisiging van Jesus
  • 23:50-24:53 Begrafnis, Opstanding, Hemelvaart.

Tradisioneel word die volgende simbole aan die vier Evangelies gegee:

  • Markus die Mens omdat hy die mens Jesus realisties uitbeeld
  • Matteus die Leeu wat Jesus uit die stam van Dawid skets;
  • Johannes die Arend wat die verste sien en hoogste vlieg;
  • Lukas die Kalf, met Jesus as die offerkalf wat geslag word vir die sonde van alle nasies.

Lukas beklemtoon Jesus as die Verlosser, wat verlossing vir alle nasies bewerk, ook vir gevallenes en mense wat uitgeskuif is, soos tollenaars en sondaars. Hy beklemtoon dissipelskap, gebed, met 9 gebede van Jesus teenoor 2 in die ander Evangelies; die werk van die Heilige Gees; die armes in teenstelling met die rykes, vreugde en lofprysing, die wil en plan van God, vroue en kinders.