Die Evangelie volgens Lukas: Jesus as gas by Marta en Maria (Luk 10:38-42) – Francois Malan
Die verhaal kom slegs in Lukas voor.
10:38 Anders as die Samaritaanse dorpie wat Jesus nie wil ontvang nie, ontvang Marta van ’n sekere dorpie’ Hom (waarskynlik in Betanië; Johannes 11:1 en 12:1). Die naam Marta ‘Meesteres’ is die vroulike vorm van die Aramese Mar ‘Here.’ Jesus is nog op reis na Jerusalem, besig om sy dissipels in te lei in die lewenswyse volgens die wil van God. Na die verhaal oor die man wat deur rowers oorval is, die manlike priester en Leviet wat anderkant verby gegaan het, en die manlike Samaritaan wat hom versorg het, vertel Lukas van Jesus se ontmoeting met twee vroue in ’n huislike omgewing. Jesus maak nie onderskeid tussen mans en vroue nie. Hy is ook aanwesig in gewone huislike omstandighede.
10:39 Marta se suster Maria gaan sit aan die voete van die Here, soos ’n leerling van ’n rabbi (vgl. Hand 22:3). ’n Rabbi sou egter nooit ’n vrou in sy klas opgeneem het nie, maar die Here doen dit wel in sy nuwe bedeling wat Hy gebring het. Baie vroue het Hom reeds gevolg en na Hom geluister (Luk 8:2-3), iets wat teen die Joodse gebruik is. Maria luister na sy woord – wat elke volgeling van Jesus behoort te doen.
10:40 Marta was egter oorlaai en bekommerd (perespao) oor die baie bedieningswerk (pollen diakonian). Marta staan en sê vir Jesus: ‘Here, pla dit U nie dat my suster my alleen los om te bedien nie? Sê vir haar om my te kom bystaan.’ Want daar was baie gaste saam met Jesus, wat goed bedien moes word.
10:41-42 Die Here sien dat Marta haar kwel en ontstel oor baie dinge; maar een is noodsaaklik; Maria het die goeie deel uitgekies, wat nie van haar weggeneem sal word nie, naamlik haar afhanklikheid van Jesus. In die woord van Jesus ontvang Maria die woord van die lewe wat vir haar die ewige lewe laat beërf (vgl. Luk 10:25). Jesus veroordeel nie Marta se werk nie, maar wys haar kritiek op Maria se keuse om na Hom te luister simpatiek af met ‘n liefdevolle aanspreekvorm: Marta, Marta’ (vgl. ‘Simon, Simon’ in Luk 22:31). Die baie aardse dinge waaroor Marta haar kwel, gaan verby. Wat Maria gekies het word aan haar vir ewig gegee.
Op verskillende maniere ontvang die twee susters vir Jesus: die een deur vir Hom te sorg, die ander om na Hom te luister. Jesus ontvang altwee: Hy spreek tot Maria, en praat met Marta, nie oor wat Hy van haar nodig het nie, maar wat sy van Hom nodig het. Lukas dui die onderskeid aan deur die houding van die twee vroue: die een gaan sit aan die voete van Jesus, die ander een is besig met baie dinge en kom ’n oomblik by Hom staan om ’n kritiese opmerking oor haar suster te maak, en om haar suster, wat net oë vir Jesus het, van Hom af weg te neem omdat sy, Marta, nie oë het vir die houding van Maria teenoor Jesus nie.
Na die verhaal van die diensbereidheid van die Samaritaan, plaas Lukas die verhaal van die diensvaardigheid van Marta. ’n Onderskeid word ook getref waartoe verskillende mense hulle onverwags deur God geroepe voel, en besluit om Hom op verskillende maniere te dien, maar dikwels nie sonder ’n tikkie selfwaardering nie. Die selfwaardering maak dat jy van ander ook verwag dat hulle soos jy moet optree. Jesus wil egter self besluit wat Hy aan elkeen opdra. Marta is te besig met die voorbereidings vir Jesus om na Hom te luister, te besig met haar eie diens aan Hom soos sy dit sien. Maria neem tyd om na Jesus te luister en ontvang kinderlik wat Hy aanbied. Marta kyk na die plig wat sy haarself oplê; Maria kyk na Jesus alleen. Marta kry ’n vriendelike teregwysing van Jesus. Sy moet leer dat onselfsugtige diens en selfs om jou op te offer, bederf kan word deur selfbejammering; dat goeie werke sonder dat jy jouself verloën, vir jou sleurwerk kan word, en ’n las, of ellendig kan word, en ’n tirannie word vir ander. Jesus keur nie haar voorbereidings af nie, maar wel haar klag teen haar suster se keuse.