Die Evangelie volgens Lukas: Jesus en Beëlsebul (Luk 11:14-27) – Francois Malan

11:14-15 In hierdie gedeelte gaan dit vir Lukas nie soseer oor die genesing nie, maar oor die mense se teenstand teen Jesus. Dit gaan vir hulle om sy mag/gesag. Kortliks word vertel dat Jesus die stomme duiwel uit die man gedryf het. Die ou Joodse opvatting was dat demone die gesondheid van die mense ondergrawe. Toe die duiwel uitgedryf is, het die stom man begin praat, tot verwondering van die mense (Matteus 12:22 sê hy was ook blind). Hulle begin praat oor waar Jesus sy mag om te genees vandaan kry.

Sommige uit die skare, Jesus se teenstanders, maak dit af met ’n snedige opmerking dat Hy dit deur Beëlsebul gedoen het (Mark 3:22 sê dit was die skrifgeleerdes van Jerusalem wat so gesê het; Matteus 12:23-24 sê: dit was die Fariseërs wat die opmerking gemaak het, juis omdat van die mense begin vra het of Jesus nie die verwagte seun van Dawid is nie).

Die naam Beëlsebul word verskillend verklaar: (1) as ’n verkeerde uitspraak van Beëlsebub (Baäl zebub), die heer/god van Ekron (Filistyne; 2 Kon 1:2,3,6), ‘die god van (bees)mis’ = van afgodsoffers, of spottenderwys as ‘die heer/god van die vlieë’ (vgl 2 Kon 1:2,3,6). (2) Beëlsebul (Baäl zebul), ‘heer van die huis’, wat in die besetene woon, of ‘die heer van die hemelse woning.’ (3) Beëlsebul (van Beël debab af), ‘die heer van vyandskap.’ Hy is in Jesus se tyd as die regeerder oor die duiwels/demone se huis/koninkryk beskou. Met die minagtende naam wou die teenstanders by die Jode twyfel in Jesus wek.

11:16 Ander mense wou vir Jesus toets. Hulle is nie oortuig deur die genesing van die stomme nie, want van hulle mense dryf ook duiwels uit. Daarom vra hulle om ’n teken uit die hemel, soos bv. Elia se vuur uit die hemel (1 Kon 18:38; 2 Kon 1:10,12), of ’n teken aan die son of die maan of die sterre (vgl. Jes. 7:10), moontlik ’n sonstilstand soos Josua (Jos 10:20) of Hiskia (2 Kon 20:11) gevra het (hierdie vers kom slegs in Lukas voor. Jesus antwoord daarop in 11:29-32).

11:17-20 Jesus het egter hulle gedagtes en beredeneringe agter hulle miskenning en twyfel geken. Hy antwoord met drie argumente en spreek die skare toe (vgl. 11:23):

(1) Die duiwel is nie so ’n dwaas om ’n oorlog tussen sy eie dienaars te stook nie. Geestes- en liggaamlike siektes is deel van die duiwel se  beheer oor die lewe van mense, en daar kan nie van die duiwel verwag word om te sorg dat die lyding versag word nie (vgl. Job).

(2) Daar is ander duiweluitdrywers (letterlik: ‘julle seuns’ – volgelinge), wat weet dat Satan se trawante slegs deur die krag van God oorwin kan word. Hulle weet dat die minagting van Jesus en sy werk ’n godslasterlike geskinder is.

(3) Dié wat Jesus so afkraak behoort te weet dat die enigste mag wat die Satan se mag kan verbreek is ‘die vinger van God’ (Eks 8:19; Ps 8:4). Dit is ’n metafoor vir die krag van God  (Mat12:28 sê: dit verwys na die mag van die Heilige Gees van wie in Luk 1:13 gepraat is). Jesus sê: ‘As Ék deur die vinger van God demone uitdryf, dan het die koninkryk van God julle bereik.’ In Eks 8:19 is dit die Egiptiese towenaars wat die wonders wat Moses doen, beskryf as ‘die vinger van God.’ Soos die Here deur Moses vir Israel uit die slawehuis verlos het, so het Jesus gekom om mense uit die slawehuis van die Satan te verlos. Met sy koms het die koninkryk van God gekom. Hy is die koning van God se koninkryk wat die mense uit die duiwelse koninkryk kom verlos. Ps 8:4 sê :”U hemelruim is die werk van U vingers.” Paulus sê in 1 Kor 8:6: ‘Vir ons is daar één God, die Vader, uit wie alles is en ons vir Hom, en één Here, Jesus Christus, deur wie alles is en ons deur Hom’ (vgl. Joh 1:3). Die gevolgtrekking wat hulle behoort te maak is dat Satan se koninkryk ingeneem is deur die koninkryk van God wat by hulle is in die persoon van Jesus.

11:21-22 Jesus teken die duiwel as die heer van ’n versterkte kasteel, wat sy besittings wat hy onwettig verkry het, veilig bewaak, totdat hy oorrompl word deur iemand wat sterker as hy is (vgl. Luk  3:16). Daarom moet ons die wêreld beskou as ’n gebied wat deur die vyand beset is. Dit behoort na regte aan God, maar deur die mens se sonde het die wêreld onder die tirannie van die Satan gekom, wat die wêreld vashou in ’n greep wat geen mag van ’n mens kan verbreek nie. Die goeie nuus van die evangelie is dat die Leier van die invalsmag wat die wêreld kom bevry, die Koning van die koningskap van God, reeds die Satan se fort oopgebreek het (Jes 49:24-26).

11:23 Die twee koninkryke staan teenoor mekaar in ’n oorlog wat geen wapenstilstand of neutraliteit toelaat nie. Wie nie vir Jesus kies nie, kies vir Satan. Wie nie veg vir Jesus se magte van eenheid en bymekaarmaak nie, veg vir die magte van verbrokkeling en verstrooiing. Jesus versorg sy kudde en maak die lammers in sy arms bymekaar (Jes 40:9-11; Eseg 34; let op 34:5-6). Wie nie by die herder Jesus aansluit en hom aansluit by die ander skape van Jesus nie, begin dwaal op sy eie pad. Skaars 40 jaar na Jesus se woorde het die Romeine die Jode in 72 n.C. oor die aarde kom verstrooi en het hulle eers in 1948 weer ’n eie staat Israel gekry.

 

Die terugkeer van ’n onreine gees (Luk 11:24-26)

Die gedeelte kom ook in Matteus 12:43-45 voor. Dit wys op ’n gemeenskaplike bron vir Matteus en Lukas.

11:24 Die gelykenis van die leë huis verduidelik dieselfde boodskap as die twee huise van vers 23. Die hart van ’n mens is soos ’n huis wat ’n inwoner moet hê. En die enigste manier om te verseker dat die huis nie deur berugte plakkers soos Mammon ingeneem word nie, is om God, wat die mens gemaak het, sy hart te laat vul. Jesus se waarskuwing aan sy teenstanders word afgesluit met die beeldryke voorstelling van demone, wat bekend was in die ou Ooste en in die Jode se gedagtes. Hoewel die woestyn bekou is as die woonplek van die demone (vgl. Luk 4:1; 8:27) het hulle geglo dat die demone daarna verlang om by mense woning te maak. Die mens is die woning óf vir die demone óf vir die Heilige Gees (1 Kor 3:17; 6:11,19). Iemand uit wie die duiwel uitgedryf is en nie die Heilige Gees toegelaat het om sy leë hart te vul nie, maar verkies om neutraal te bly, staan in die gevaar. Die demone wat uit die mens uitgedryf is, verlang daarna om terug te kom na die mens waar hulle uitgeskop is, om hulle buit met die hulp van sewe slegter geeste te herower, want hulle aard is om oor mense te heers.

11:25-26 Jesus waarsku teen ’n leë skoongemaakte huis sonder inwoners. Die Jode het gepraat van sewe geeste wat deur Belial gestuur word (Deutr 13:12-13 praat van  ‘kwaadstokers,’ 1957-vertaling: ‘deugniete,’ Hebreeus: ‘kinders van Belial;’ Rigt 19:22;  20:13; 1 Sam 2:12; 10:27; 25:17,25;30:22; ens. vgl. 2 Kor 6:15). Die Joodse duiwelbesweerders los hulle geneesde pasiënte leeg, om self te probeer lewe volgens die wet van God. Die Christus-gelowige word vervul met die Heilige Gees om te lewe vir goeie dade, waarvoor God ons bestem het (Ef 2:10). Die verwondering van die mense oor Jesus se uitdrywing van die stom gees, is nie voldoende om hulle te vrywaar van die aanslae van die Bose nie. Daarvoor moet jy deel word van Jesus se leërmag wat die duiwel bestry, deur die Heilige Gees wat in jou kom woon. Jesus se bevryding van iemand uit die mag van die duiwel word slegs tot seën as dit gevolg word deur die persoon se toewyding aan Jesus.