Die Evangelie volgens Lukas: Jesus en die sondige vrou (Luk 7:36-50) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Lukas het nie die salwing van Jesus se voete in Betanië deur Maria(waarskynlik die suster van Lasarus) ses dae voor die Pasga, soos in Joh 12:1-8 nie, maar ’n ander salwing van Jesus; in Markus 14:3-9, wat opgeneem word in Matteus 26:6-13, word die een wat Hom salf se naam nie genoem nie, sy giet baie kosbare reukolie oor Jesus se kop uit. Die naam van die huiseienaar in Markus en Matteus is Simon die melaatse. Lukas beskryf egter hierdie salwing van Jesus se voete deur ’n slegte vrou, in die huis van Simon die Fariseër, waarskynlik nog in Galilea (die Roomse kerk identifiseer haar as Maria Magdalena van Lukas 8:2, wat geensins seker is nie). Die gedeelte volg op Lukas 7:34 met die Seun van die Mens wat beskou is as ‘n vraat en suiplap en ’n vriend is van tollenaars en sondaars. Hier vier Hy fees met ’n Fariseër en ’n slegte vrou. Vir Lukas gaan dit om die sondares en die oordeel van die Fariseër.

7:36 Dat Jesus die Fariseër se uitnodiging tot ’n feesmaal aanneem, wys dat Hy gekom het vir alle mense, vir sondaars en ook vir die godsdienstige Fariseërs. Lukas beskryf ook nog ander geleenthede waar Fariseërs Jesus uitnooi na ’n feesmaal (11:37, 14:1), en vertel ook van ander maaltye van Jesus: ná die Sabbatsdiens by Petrus aan huis (4:38-39); saam met die tollenaars (5:29-30). Hier beklemtoon Lukas die Fariseër, deur hom viermaal so te noem voordat sy naam Simon in vers 40 genoem word. By feesmaaltye het mense destyds hulle skoene uitgetrek as hulle ‘n huis ingaan en het op hulle sye gelê (kataklino) en eet langs ’n lae tafel.

7:37 Die gedeelte begin met ‘En kyk!’ om aandag te vra vir ’n belangrike gebeurtenis: ‘’n vrou wat in die stad ’n sondares was’ – wat as sondares in haar stad bekend was, waarskynlik ’n prostituut, ‘en gehoor het dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was (kataklino), kom met ’n albastefles duur parfuum (muros welriekende en duur salfolie)…’ ’n Gastemaal het vir toeskouers oopgestaan – om die roem en aansien van die gasheer te verhoog.

7:38 Die vrou gaan staan by Jesus se voete en huil, bewus van haar sondige lewe. Haar trane maak Jesus se voete nat en sy doen die ongehoorde ding vir ’n Joodse vrou om haar hare in die openbaar los te maak en sy voete daarmee af te droog, sy voete te soen, en met die parfuum te salf. Dat sy sy voete salf en nie sy kop soos gewoonlik nie, is teken van haar nederigheid voor Jesus. Die salwing is in elk geval ’n teken van haar diepe dankbaarheid teenoor Jesus. Deur die woorde en optrede van Jesus waarvan sy gehoor het, waarskynlik as een van die skare wat na Hom kom luister het (6:17,27,37) is sy tot berou gelei oor die skande en skuld van haar sondige lewe, en is sy deur sy prediking getroos. Deur haar bekering en koms na Jesus, doen sy wat Johanes die Doper verkondig het. So skakel hierdie gedeelte met die vorige gedeeltes oor Johannes die Doper.

7:39 Die Fariseër skryf Jesus af. Hy kan nie ’n profeet wees wat God se woord aan die volk bring nie, omdat Hy nie kon insien dat die vrou ’n sondares is nie. Hoewel die vrou in sy huis kon inkom, sou hy nie aan haar raak en daardeur onrein word nie, maar Jesus laat die onrein vrou toe om Hom met haar trane, hande en hare aan te raak (die Vaticanus-teks lees hier ‘die profeet’ wat verwys na die verwagte Messias/Gesalfde profeet van Deutr. 18:15, wat dan sou beteken dat die Fariseër in sy hart Jesus afskryf as die langverwagte Messias). In die Fariseër se denkwêreld kan ’n egte profeet ’n sondares uitken en aanraking met ’n sondares vermy.

7:40 Dat Jesus Simon se gedagtes ken, is egter bewys dat Hy ’n profeet is.wat hóm deurskou. Simon spreek Jesus tog as Meester (didaskalos) aan om iets van sy waardering vir Jesus se lering te wys en waarom hy Hom genooi het, hoewel hy Jesus tog wou beoordeel.

7:41-42 Jesus gebruik ’n gelykenis wat die Fariseërs goed ken. Vir Jesus is dit tekenend van die basiese verhouding tussen God en die mens. Wat die mens besit, het God aan hom gegee en aan hom toevertrou. As die mens dit misbruik word hy skuldenaar teenoor God as skuldeiser. Altwee die skuldenaars kan nie terugbetaal nie. Aan altwee word hulle skuld afgeskryf as geskenk. So is God, nie ‘n hartvogtige skuldeiser nie, maar die vergewende Vader, wat Jesus verkondig. Hy skryf ons skuld genadiglik af, uit sy groot liefde vir die skuldenaars. Dit het die slegte vrou begryp, vandaar haar hartstogtelike toewyding aan haar Verlosser. Die een skuld 500 dae se dagloon, amper 2 jaar se loon, en die ander slegs vyftig, amper 2 maande se loon (’n denarius was die dagloon vir ’n arbeider). Jesus vra wie van dié twee die skuldeiser die liefste sal hê.

7:43 Versigtig antwoord Simon, ek veronderstel (hy is nie absoluut seker nie) die een vir wie hy die meeste kwytgeskeld het. Hy het nie besef dat hy daarmee sy eie oordeel uitgespreek het nie. Jesus bevestig Simon se oordeel oor die twee leners, en pas dit in die volgende verse op die Fariseër en die slegte vrou toe.

7:44-46 Jesus kyk na die vrou en praat met Simon, daarmee omvat hy altwee van hulle met sy blik en sy woord. Met haar groter skuld oortref sy die Fariseër met haar liefdesbetuiging. Jesus herinner die Fariseër aan sy optrede teenoor Hom. Hy het Jesus wel genooi vir die feesmaal, maar sy begroeting van Jesus getuig nie van ’n groot liefde vir Hom nie, in teenstelling met die vrou se optrede. Die gewone voetwassing na die stofpaaie van Palestina is nie gedoen nie, teenoor die vrou se trane waarmee sy sy voete gewas en met haar hare afgedroog het. Die Fariseër se groet was nie met ’n hartlike soen nie, maar vandat Jesus ingekom het hou sy nie op om sy voete te soen nie. Die verering om ’n gas se kop met olie te salf het Jesus nie van die Fariseër ontvang nie. Maar sy het sy voete gesalf. Teenoor die koue ontvangs wat Jesus van die huisheer ontvang het, staan die warm liefde van die vrou op wie neergesien is.

7:47 ‘Daarom (hou xarin)…’ die gevolgtrekking wat Jesus maak uit die optrede van die Fariseër en van die vrou: sonder om doekies om te draai, sê Hy dat haar sonde baie is, maar dit is reeds (deur God) vergewe en nou lewe sy as iemand wat deur God vergewe is (die perfektum vorm van die werkwoord afhiemi dui aan dat dit reeds vergewe is, en dat die gevolge daarvan nou voortduur). Daarom (hoti kan oorsaak/daarom, of rede/want, aandui op grond van ’n duidelike feit; in die lig van gelykenis, is die vergifnis die oorsaak van haar liefde) het sy baie liefgehad (aoristus), met haar optrede het sy haar liefde aan Jesus bewys. Dié een vir wie egter min vergewe word (teenwoordige tyd wat voortduur aandui), het min lief (teenwoordige tyd, wat voortduur aandui). Die Profeet wat die volmag het om te vergewe (5:20-21) sê: haar baie sondes is vergewe, daarom is sy tot groter liefde bekwaam. Die Fariseërs dink hulle het min of geen vergifnis van God nodig nie, omdat hulle dink dat hulle die wet vervul. Vergewing is die grond vir die liefde. God se vergifnis sit ’n beweging aan die gang wat tot liefde lei en in dade van barmhartigheid geopenbaar word (Luk 6:36-38). Die volle vreugde van gemeenskap met God groei slegs uit die dankbare ontvangs van God se genade. Maar sulke vreugde kan nie verkry word as iemand meen dat hy deur sy eie godsdienstge optrede sy pad na God kan oopmaak nie. Dit is ’n bewys van hoogmoed selfs teenoor God.

7:48 Jesus bevestig aan die vrou: jou sondes is vergewe (passief perfektum, daarom lewe sy voortaan as ’n mens wie se sonde deur God vergewe is). Jesus is die Profeet wat God se woord en wil verkondig en uitvoer. Die Fariseër het egter gedink Hy kan nie ’n profeet wees nie.

7:49 In die harte van sy tafelgenote wek Jesus se vryspraak aan die vrou vrae oor sy volmag om sondes te kan vergewe, want hulle glo dit is slegs God wat sonde kan vergewe (vgl. 5:21). Jesus beantwoord nie hulle vrae nie; dit het Hy reeds in 5:24 gedoen. Hy is met die vrou besig.

7:50 Vir die vrou sê Hy: jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Haar geloof in Jesus het haar gered uit haar sondige bestaan. Nou kan sy in vrede voor God en mens voortlewe. Dieselfde word gesê aan die vrou wat 12 jaar lank aan bloedvloeiing gely het en aan die soom van sy kleed kom raak het (8:48). Paulus het dié woord van Jesus opgeneem in Galasiërs 2:16 en Romeine 3:28. Deur Martin Luther het dié woord van Jesus die kosbare besit geword van die evangeliese Christendom.

image_pdfimage_print

You may also like...