Die Evangelie volgens Lukas: Jesus kies twaalf apostels (Luk 6:12-19) – Francois Malan

6:12 Lukas gee nie aandag aan ’n presiese tydsaanduiding nie – hier begin hy slegs met : ‘op ’n keer.’ Met die groeiende vyandigheid teen Hom, veral van die Fariseërs, vertel Lukas dat Jesus nou moes besluit hoe Hy gaan optree. Daarvoor het Hy sy Vader se leiding nodig. Hy gaan nou die ou bedeling van Israel se 12 stamme vervang met ’n nuwe bedeling vir die nuwe Israel met 12 apostels (Luk 22:28-30). Daarvoor is Hy ’n hele nag op die berg in gesprek met sy Vader. Lukas beskryf Jesus as ’n bidder (vgl. ook 3:21 na sy doop, toe die Gees op Hom neergedaal het; 5:16 Hy gaan gereeld na afgeleë plekke om te bid; 9:28-31 Hy gaan die berg op met drie apostels om te gaan bid, en vir die gesprek met die Ou Testamentiese getuies oor sy eksodus/uittog wat Hy in Jerusalem tot vervulling sal bring). Hier word dit beklemtoon dat Hy die hele nag voor die kiesing van sy 12 apostels in gebed tot God was om die nuwe bedeling in te lei. Dit beklemtoon die belangrikheid van sy keuse van mense wat Hy kan uitstuur om namens Hom op te tree, veral nadat sy vyande Hom doodgemaak het (6:11). Hy doen alles volgens die wil van sy Vader. Deur die gesprek met sy Vader kom Jesus tot ’n besluit wat verder in die hele geskiedenis van die wêreld sy gevolge sal wys.

6:13 Teen dagbreek roep Jesus sy dissipels nader (op die berg). In Lukas word die woord dissipel/leerling gebruik vir al die volgelinge van Jesus (vgl. bv. 24:33). Die twaalf wat uit die volgelinge van Jesus gekies is, word apostels genoem. Die Griekse woord apostolos verwys na ’n spesiale boodskapper/gestuurde. Die term ‘apostel van Jesus Christus’ verwys daarna dat Christus aan die persoon ’n opdrag vir ’n spesifieke taak gee. Lukas sê nie wat die taak is nie, maar noem hulle net gestuurdes. Markus 3:4-5 sê: Hy het hulle as apostels aangestel om by Hom te wees, en sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek en om met volmag demone uit te dryf. Matteus het ’n hele hoofstuk 10 oor hulle opdragte.

6:14-16 Lukas bied die 12 name paarsgewys aan. Die eerste drie pare was:

  •             Simon en sy broer Andreas. Vir Simon gee die Here ’n nuwe naam by: Petrus (Sefas in Hebreeus: rots);
  •             Jakobus en sy broer Johannes, seuns van Sebedeus & Salome. In Markus 3:17 noem Jesus hulle Boanerges, dit is ‘seuns  van die donder;’ wat die Samaritaanse dorpie wat Jesus nie wou ontvang nie, met vuur uit die hemel wou vernietig (Luk 9:54-55);
  •             Filippus (‘perdeliefhebber’) en Bartolomeus, ‘Bar(seun van)Tolmai,’ moontlik is hy Natanael van Joh 1:45.
  •            Matteus (in 5:27 genoem Levi) en
  •            Tomas wat ook Didimus (‘tweeling’) genoem is (Joh 11:16);
  •            Jakobus (die seun van Alfeus om hom te onderskei van die seun van Sebedeus) en
  •            Simon met die naam Seloot (iemand wat hom in die besonder vir ’n saak beywer; ’n Joodse nasionalis);
  •            Judas die seun van Jakobus (wat ook genoem word Taddeus, Matt 10:3) en
  •            Judas Iskariot, ‘man van Keriot’ ’n dorpie in Judea (Josua 15:25), die enigste apostel wat soos Jesus uit Judea kom, wat later Jesus se verraaier geword het.

 

Die eerte vier was gewone ongeletterde vissers (vgl. Hand 4:13); Matteus ’n ryk geleerde maar gehate tollenaar wat vir die Romeine werk; Simon die Seloot is daarenteen ’n Joodse vryheidsvegter wat die Romeine se juk wil afgooi; Filippus bring mense na Jesus toe (Joh 1:43-46; 12:20-22); Jakobus/Taddeus wat vra hoe Jesus Hom aan hulle sal openbaar en nie aan die wêreld nie (Joh 14:22); Tomas die pessimis ((Joh 11:16) en twyfelaar wat eerste vir Jesus ‘my Here en my God’ noem (Joh 20:28); Judas Iskariot, die tesourier van die apostelgroep (Joh 12:6; 13:29) wat Jesus vir 30 silwerstukke (’n maand se vergoeding vir ’n arbeider) verraai (Matt 27:3). Mense uit al die lae en groeperings van die samelewing word die simboliese nukleus van Jesus se nuwe volk van God, as voorbeeld vir sy kerk in die toekoms. Die mees teenoorgestelde persone soos Matteus die tollenaar en Simon die Seloot word verenig in Jesus se groep ‘gestuurdes,’ maar die groep sluit ook die man in wat die Seun van die Mens met ’n soen van noue vriendskap oorlewer (Luk 22:48).

 

Jesus genees baie mense (Luk 6:17-19)

6:17 Jesus klim met die twaalf van die berg af. Hiervandaan is Jesus nie meer alleen nie, maar omring van sy apostels wat die Vader aan Hom gegee het. Op ’n gelyk plek (Markus: by die see) naby Kapernaum (Matteus 5:1 plaas dit op die berg), waar baie mense bymekaar kan kom, gaan staan Jesus waarskynlik aan die voet van die berg, voor ’n groot groep van sy leerlinge/dissipels en ook ’n menigte mense uit die volk van Judea (wat Galilea en Perea insluit) en van die Joodse sentrum Jerusalem tot uit die aangrensende heidense Tirus en Sidon (Markus het ook Galilea en uit die gebied van die Jordaan, waarby Matteus die 10 Griekse stede, Dekapolis, byvoeg). Daar is drie kringe voor en om Jesus: 12 apostels, ’n groot menigte dissipels, en ’n groot groep mense uit die genoemde gebiede.

6:18 Die mense kom na Hom toe met twee doeleindes: om na Hom te luister en om genees te word van hulle siektes en onreine geeste; hulle kom vir Jesus se woorde en dade wat saam sy goeie nuus verkondig; sy woorde volg hier op die genesings.

6:19 Die skare kom om deur Jesus aangeraak te word deur sy kragtige hand wat almal genees het. In 5:17 sê Lukas ‘die krag van die Here het in Hom gewerk om mense te genees. Hier: daar het krag van Hom uitgegaan en Hy het almal genees. Na sy nag in gebed word dit nog duideliker dat Hy die groot Geneser van mense is, wat hulle van hulle onreinheid en onreine geeste kom bevry om met vreugde te lewe volgens sy heerlike evangelie.