Die Evangelie volgens Lukas: Jesus laat die storm bedaar (Luk 8:22-25) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Lukas neem Markus 4:35-5:43 se berigte op, oor die wonders wat Jesus voor sy groep getroue volgelinge gedoen het, as openbarings deur hulle Meester van die geheimenisse van God (8:10) wat vir ongelowiges ’n geheimenis bly.

8:22 Hier begin ’n nuwe fase na die lang onderrig deur Jesus in hoofstukke 6-8 (Markus verbind dit ook met die voorafgaande). Hulle vaar oor die meer (limne) van Galilea (Markus 4:39 noem dit die see, thalassa, van Galilea), waar Hy aan hulle, afgesonder van mense, sy herskeppingsmag kan toon, en so hulle geloof in Hom versterk.

8:23 Jesus raak aan die slaap terwyl die stormwind opsteek. Die stormwind swiep dikwels uit die woestyn oos van die Jordaan oor die berge neer op die meer wat 700 voet onder seespieël lê. Die onstuimige see en die onherbergsame oorkant van die meer herinner aan die skepping se woes en leeg (Gen 1:2). Die Ou Testament skilder die onstuimige see as simbool van al die vyandelike magte wat teen God se beheer woed. So word die wonders van die stilmaak van die storm en die genesing van die besetene (Luk 8:26-39) ’n herskepping van die natuur en van die mens: die chaos van die woeste see word kalm en die chaos in die lewe van die besetene kom tot bedaring deur Jesus se magswoord. Ps 65:8 loof die God van Sion wat die gedruis van die oseane stilmaak, die gebulder van die golwe en die rumoer van die volke (vgl. Ps 89:9-10;  46:1-4). Albei is voorbeelde van Jesus se gesag oor die chaos in die natuur en in die mens, as gevolg van die mens se sonde. Met die skepping het God die beheer oor die skepping aan die mens as sy verteenwoordiger opgedra (Gen 1:26-27, Ps 8:6-9). Maar in plaas van na God te luister, luister die mens na God se skepsel (Gen 3:1-6; Rom 1:23). Daarom het God die skepping ook aan die nietigheid/verganklikheid oorgegee (Rom 8: 19-22; vgl. Gen 3:18). En nou wag die skepping met vurige verlange na die verlossing van die mens (Rom 8:19) wanneer die wolf en die lam saam sal lewe en die woestyn soos ’n roos sal blom (Jes 11:5-9). Jesus se wonders is almal wonders van die koninkryk van God, tekens dat God se heerskappy besig is om deur te breek in die verwarde wêreld.

8:24 Die dissipels roep Jesus wakker met ‘Meester, Meester (epistata leier met hoë status; Mark 4:38 didaskalos leermeester; Matteus 8:25 kurios Here) ons vergaan! Vir geharde vissers is dit ’n onverwagte woord. Die wind en die golwe  moes so groot gewees het dat hulle daarvoor bang geword het. Waarskynlik is dit ’n aanduiding dat die duiwel daarmee vir Jesus uit die weg wou ruim? Of die Here wat dit beskik het om die dissipels se geloof te beproef (Ps 107:23-32).

Lukas en Matteus  8:25 laat Markus 4:38 se verwyt uit: Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie? Al drie vertel dat Jesus die wind en die watergolwe (Markus en Matteus: die see)  bestraf het, en alles het bedaar en kalm geword (soos die Here die Rietsee beveel het en dit het droog geword Ps 106:9). Jesus se optrede getuig dat Hy die Here is (Ps 65:8; 89:10; 107:23-32). Soos met sy versoekings in die woestyn waar Jesus telkens die duiwel antwoord, bestraf Jesus die wind en die golwe om sy misnoeë met die optrede van die natuur uit te druk.

8:25 Jesus vra: waar is hulle geloof in Hom, hulle leier epistata. Juis in die lewensbedreigende omstandighede word hulle vertroue op hulle Leier beproef (1 Petr 1:5-7).

Die dissipels begryp nog nie wie Jesus is nie, en vra verwonderd en met ontsag/vrees vervul, vir mekaar wie Jesus werklik is. Die gelowige hoef nie te vrees nie, want selfs die hare op julle kop is almal getel (Luk 12:7).

image_pdfimage_print

You may also like...