Die Evangelie volgens Lukas: Jesus loof die Vader en sê sy dissipels is geseënd (Luk 10:21-24) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Dié twee gedeeltes in Lukas (10:21-22 en 23-24) kom nie in Markus voor nie, maar Lukas se twee dele is op twee verskillende plekke in Matteus opgeteken (Mat 1:25-27 en 13:16-17). Dit wys na ’n gemeenskaplike bron vir Matteus en Lukas.

10:21 Ná Jesus se aanwysing van die ware rede vir blydskap vir sy volgelinge, dat hulle name in God se boek van die lewe opgeneem is as die mense vir wie Hy ken en as sy kinders versorg (Luk 10:20; 12:6-7) vertel Lukas van Jesus se eie groot blydskap, sy jubeling (agalliao om uitermate bly te wees, soos in Maria se loflied, Luk 1:47). Tipies van Lukas se klem op die Heilige Gees, is Jesus se jubelende blydskap in ( gemeenskap met) die Heilige Gees. Jesus loof en dank die magtige Here, die Skepper, Eienaar en Regeerder oor die hemel en die aarde, wat Jesus se goeie en barmhartige Vader is (Luk 2:49; 11:2 ). Die Vader, die Seun en die Heilige Gees is hier één, op só ’n wyse dat elkeen dit kan hoor en lees. Aan die aanwesiges en aan almal wat dit lees, word iets van die basis van Jesus se lewe en optrede geopenbaar, oor sy bestendige verbondenheid met sy Vader en oor sy lewenstaak. Waarmee God besig is, is nie die vrug van menslike denke nie, maar van God se bemoeienis met mense wat in eenvoud luister en soos kindertjies wat die boodskap wat hulle hoor aanvaar en glo; ‘Ja Vader, want so word dit voor U goedgevind.’

Die rede vir Jesus se blydskap is dat die Vader ‘die dinge’ vir slim en geleerde mense verberg het (apekrupsas) – eie wysheid (sofoi wyses) en insig/intelligensie (sunetoi verstandiges, intelligentes) maak nie dat God jou ken of erken nie; dit laat God nie jou naam in sy boek van die lewe opskryf nie (Luk 10:20). Maar aan die kindertjies (nepioi kindertjies van 3-4 jaar; ongeleerdes en onkundiges) het die Vader die dinge geopenbaar (apekalupsas; let op die woordspel tussen apokrupto verberg en apokalupto openbaar anders as Matteus se krupto verberg).

Die wyse man begryp die gedagtes waarvolgens hy sy lewe inrig, die verstandige begryp die dinge wat hy teëkom en albei ontwikkel deur hulle begrip van dinge die vermoë om sake reg te beoordeel en daarvolgens te handel. Maar omdat Jesus en sy optrede vir hulle bedek bly, is dit duidelik dat die mens die kennis van Jesus en die koninkryk van God nie uit homself kan verstaan of begryp nie. Dit moet as ’n geskenk uit genade ontvang word uit die hand van God, deur die werking van die Heilige Gees (Joh 16:8). Omdat hulle dit nie uit hulleself kan begryp nie, is dit vir die wyses en verstandiges ’n ergernis, wat hulle trots krenk. Maar vir die kindertjies wat dit as ’n geskenk aanvaar, word die geheim van God se koninkryk geopenbaar; nl. dat die kleinste en die nederigste (die kleinste in eie oë) juis die grootste en vernaamste is in God se koninkryk. Dit gaan om geloof en kinderlike vertroue op die Here, wat vir die wyses en verstandiges so moeilik is (Luk 1:52; 6:20; 1 Kor 1:18,25; Ps 8:3; 116:6).

10:22 Die Vader het alles aan die Seun oorgegee. Wat die ‘alles’ insluit is eerstens dat God sy Vader is, dié Vader van alles in die skepping. Die Seun het deelname aan al die mag van God en aan die goddelike lewe. Dit beteken dat Jesus self ook God is, soos Joh 1:1 sê, en die lewe is (Joh 1:4); dat die Vader aan Hom die koningsheerskappy toevertrou het in God se koninkryk (vgl. 1:33; 7:28; 8:1; 10:9,11 en dwarsdeur die hele Evangelie van Lukas). Op grond van die geheimenisvolle Vaderskap van God wat as die liefdevolle Vader en die magtige Here oor die hemel en die aarde regeer, bestaan die wederkerige verhouding tussen  die Vader en die Seun: niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun. Die  woord ‘ken’ (ginosko) het soos die Hebreeuse woord ‘jada,’ ’n wye betekenis wat ook ’n direkte persoonlike verhouding wat voortgaan uitdruk. Dit gaan nie om intellektuele kennis nie, maar om die noue persoonlike verhouding tussen twee persone. Hier gaan dit om ’n verhouding tussen die Vader en die Seun wat niemand anders kan begryp nie (1 Joh 4:8,16 sê ‘God is liefde’ om die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees te beskryf); vir Filippus sê Jesus: ‘Glo My dat Ek in die Vader en die Vader in My is’ (Joh 14:11).

Jesus maak die pad na dié besondere verhouding oop sodat dié mense aan wie Hy dit wil openbaar, God kan ken soos Hy is. Hulle kry ook deel aan, of word opgeneem in dié besondere liefdesverhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Omdat hulle aan die Seun van God, wat self ook God is, verbind word deur geloof in Hom, word hulle aangeneem as kinders van God. Aan dié persoon aan wie Hy wil, openbaar Jesus hoe God werklik is. Dit is ’n geskenk uit die genade van die Here. Dié geheimenis van die persoon van die Seun, nl. dat Hy God is, was deur min Jode aanvaar, en dat God is soos die nederige Jesus sy Vader  openbaar, was ook vir hulle onaanvaarbaar.

10:23 Dat die volgelinge van Jesus die openbaring oor die Vader deur die Seun ontvang, word duidelik gemaak deur hierdie seënuitspraak van Jesus, privaat aan sy groepie dissipels. Jesus sê: ‘Geseënd/gelukkig is dié oë wat sien wat julle sien.’ Hulle, hoofsaaklik ongeleerde vissers, is die bevoorregte mense wat die Seun van God self gesien het en met Hom gewandel het – vgl. Johannes se weergawe van hulle dissipels se bevoorregte posisie in 1 Joh 1:1-3. Hulle beleef die aanbreek van die koninkryk van God. Hulle het hulle eie idee gehad oor hoe God is en hoe Hy gedien moet word en moes die ander siening by Jesus leer.

10:24 Profete en konings het verlang om te sien en te hoor wat Jesus se eenvoudige dissipels beleef het (1 Petr 1:10-12). Profete en konings was draers van die belofte van God se Gesalfde (die verwagte Messias) ,’n Profeet soos Moses (Deutr 18:18-19) en ’n Koning soos Dawid (1 Sam 7:12-13) maar met baie meer glans en heerlikheid as Moses of Dawid. Die vrome Simeon het in die baba Jesus die vervulling van die beloftes gesien (Luk 2:29-32). Die dissipels was egter bevoorreg om ’n paar jaar metgeselle te wees van die Seun van God aan wie die Vader die seggenskap oor alles in die skepping gegee het (paradidomi). Hulle gaan ook die getuies word van sy kruisiging en sy opstanding en hemelvaart, en ontvangers van die Heilige Gees wat in hulle kom woon (Hand 2:4,en 2:17 – aangehaal uit Joël 2:28-32).

image_pdfimage_print

You may also like...