Die Evangelie volgens Lukas: Jesus op pad na sy lyding in Jerusalem (9:51-62) – Francois Malan
Lukas 9:51-19:48 is ’n konstruksie van Lukas wat nie in die ander Evangelies voorkom nie. Soms maak hy van Markus gebruik, en heel dikwels van ’n gemeenskaplike bron met Matteus. Maar die grootste gedeelte kom slegs in Lukas voor. Agt maal sê Lukas dat Jesus op pad is na Jerusalem (9:51,53; 13:22,33; 17:11; 18:31; 19:11,28) en in 9:57; 10:1,38; 14:25 is aanduidings van ’n reis. Maar die reisplan kan nie gekonstrueer word nie. Van 9:51 af lyk dit of Jesus die kortpad volg deur Samaria na Jerusalem, maar in 19:1 gaan Hy deur Jerigo, wat die ompad deur Perea veronderstel. In 10:38 is Hy in Betanië net buite Jerusalem by Marta en Maria, maar in 17:11 is Hy weer tussen Samaria en Galilea. Dit lyk meer na omswerwings in Palestina. In hierdie tien hoofstukke is die Here, wat volgens God se wil gaan ly, besig om sy dissipels toe te rus vir hulle sending om die boodskap oor Jesus die Christus as Verlosser ná sy dood en opstanding te gaan verkondig. Die oproep aan die Galileërs en in die gebied van Filippus is verby. Jesus se lyding en sy eksodus/uittog waaroor Moses en Elia met Hom gepraat het, lê nou voor en Hy reis doelgerig daarheen, maar totdat dit kom, moet Hy voortgaan met sy toerusting van sy volgelinge.
Die Samaritane verwerp Jesus (Luk 9:51-56)
Soos Jesus se bediening in Galilea met sy verwerping in Nasaret begin, begin sy tog na Jerusalem met sy verwerping in Samaria.
9:51 Jesus se taak in Galilea is vervul/voltooi. Hy en die twaalf het al die dorpies en gebiede in die provinsie Galilea besoek. Dit word afgesluit saam met duisende van sy volgelinge met ’n feesmaal buite die grense van Galilea. Daarop volg sy verheerliking en gesprek op die berg oor sy uittog/eksodus (vgl. ook 2 Petr 1:16-18) en ’n laaste duiweluitdrywing. Sy volgelinge se geloof word in vier kort berigte getoets.
Toe die dae vervul was (sumplêromomai) van sy opneming (analêmpsis) (vgl. 2 Kon 2:10-11; in die hemel in; vgl. Luk 2:22) was Hy vasberade (to prosopon estêrisen – ’n Semitiese uitdrukking: om jou gesig vas te nael – om ’n vaste besluit te neem) om na Jerusalem te gaan. Soos Johannes 12:32 se woord ‘verhoging’ sluit Lukas se woord ‘opneming’ Jesus se sterwe, opstanding en hemelvaart in. Nou is Jesus vasberade om dit in Jerusalem te gaan vervul. Dit was die doel van sy koms as Verlosser van die wêreld. So word die belofte van God deur die verwagte Messias, die Christus/Gesalfde van God, vervul (Luk 9:20; Jes 53:10).
9:52-53 Die Samaritane was die nakomelinge van die Oosterse volke wat deur Assirië se koning hier geplaas is ná die wegvoering van die tien stamme van Israel, in 722v.C. (2 Kon 17:24-35). In 128 v.C. het die Judese koning Hyrkanus die tempel van die Samaritane op berg Gerizim verwoes (vgl. ook Deutr 27:12-13; 11:29; Jos 8:33). Die Samaritane het die Galileërs, wat die kortpad na Jerusalem toe gevolg het vir die jaarlikse feeste, verblyf geweier en hulle soms aangeval; die Jode het nie die Samaritane se godsdiens aanvaar nie (Esra 4:1-6; vgl. Joh 4:20). Jesus stuur boodskappers om vir Hom voor te berei. Die Samaritane van dié dorpie weier om Hom te verwelkom/ontvang (degomai – om iemand vriendelik te ontvang). Die verwerping van Jesus, soos Hy in Luk 9:22 gesê het, het reeds begin.
9:54-55 Jakobus en Johannes wil die inwoners van die Samaritaanse dorpie met vuur uit die hemel vernietig, soos die Here vuur uit die hemel op Elia se gebed op die brandoffer gestuur het (1 Kon 18:36-38) en vuur uit die hemel twee groepe soldate wat Elia kom haal, vernietig het (2 Kon 1:10-12). In Mark 3:17 noem Jesus hulle twee Boanerges, ‘seuns van die donder.’ Die Seun van die Mens het gekom om te red (Luk 2:11; 19:10), nie om te vernietig nie! Hy is nie dié soort Messias soos Elia, soos die twee broers meen nie. Jesus wys die twee broers tereg (epitimao, dui op sy sterk afkeur daarvan). Dit gaan om hulle soort denke te vernietig, oor hulle verkeerde denke oor Hom, oor die Samaritane en oor hulleself as volgelinge en gestuurders van Jesus (’n langer teks, soos in die 1933/53 vertaling, kom nie in die oudste papiri en manuskripte voor nie).
9:56 Jesus en sy groep volgelinge gaan rustig na ’n ander dorp om sy sending voort te sit.
Hoe Jesus gevolg moet word (Luk 9:57-62)
Lukas plaas die drie kort gesprekke as teenstelling en toepassing van die voorafgaande verwerping van Jesus deur die Samaritaanse dorpie op sy pad na sy kruisdood toe, en Jesus se verwerping van sy twee dissipels se wraak op die dorpie uit lojaliteit teenoor Hom. Dit is anders geplaas as in Matteus 8:19-22 se insetsel oor dissipelskap tussen die reeks wonders van Jesus in Galilea.
9:57 Die ongenoemde man (‘iemand’) wat Jesus sal volg waar Hy ookal gaan, wil deel word van Jesus se dissipelkring. Die man praat met soveel selfvertroue want hy het geen idee oor Jesus se verwerping en kruisiging wat voorlê nie, en daarom ook nie van sy eie swakheid en onstabiliteit nie.
9:58 Jesus verwys na die diere wat vir hulleself gate soek en neste bou, teenoor die Seun van die Mens wat nie deur die mense van die Samaritaanse dorpie verwelkom is nie, nie sy eie huis besit nie, die brandarme wat juis van mense afhanklik is om vir Hom ’n plek te gee om sy kop neer te lê, selfs in sy dood (Luk 23:33; Mat 27:60). En as die mense Hom verwerp, sterf Hy sonder ’n draad klere aan, aan ’n kruis. Dissipelskap van Jesus is iets anders as om saam met Jesus op ‘n segetog te gaan, waaroor mense droom. Jesus kla nie oor sy lot nie. Hy wil die implikasie van dissipelskap uitstippel vir elkeen wat Hom wil volg. Daarom moet die koste bereken word om Jesus te volg waar Hy ookal mag gaan…tot in sy kruisdood?
9:59 In die tweede gesprek roep Jesus iemand om Hom te volg. Hierdie man was skynbaar besig om vir sy pa se begrafnis voor te berei, en hoewel hy gewillig is om Jesus te volg, vra Hy toestemming om eers sy pa te gaan begrawe, moontlik lê sy pa nie op sterwe nie, maar is net oud. Vir die Jode was dit ’n dure plig om jou ouers te begrawe, volgens hulle verstaan van Eks 20:12. Die rabbi’s het selfs die toestemming vir die priesters in Lev 21:1-2 tot ’n plig verander. Hulle het dit ook beskou as ’n liefdeswerk en daarom as ’n goeie werk in die oë van God. Die seuns se plig rondom die begrafnis het ook die bereddering van die boedel behels (Luk 12:13). Die man vir wie Jesus roep is nog te vol van sy eie sake, wil voorlopig nog sy bindinge handhaaf, en daarna is hy beskikbaar in die vertroue dat die roeping wel herhaal kan word. Maar Jesus is op pad na sy dood, en die geleentheid vir hierdie man om saam met Jesus te wees is verby. Om Jesus te volg behels ook gaan om te verkondig. In plaas van rou oor die dooie, staan die verkondiging van die vreugdeboodskap van God se koningskap oor die wêreld.
9:60 Vir die soort uitstel-mens het Jesus ’n harde woord oor sy familieverbondenheid. In plaas daarvan dat die man op die dood en doodsgebruike konsentreer, moet hy die koninkryk/koningskap van God gaan verkondig. Jesus het juis gekom as die oorwinnaar oor die dood, wat God as straf op die sonde vir die hele skepping en die mens opgelê het (Gen 3:19). Jesus kom die pad na die lewe aanwys, die verlossing uit die dood tot ’n ewige lewe (Luk 20:38). Jesus kom alle doodsgebruike deurbreek met sy opstanding uit die dood. Die dood is nou ’n oorgang na die lewe vir elkeen wat in Jesus glo. Laat die geestelike dooies die fisiese dooies begrawe.
9:61 Die derde man, wat net in Lukas voorkom, sal Jesus volg, maar vra Jesus se toestemming om eers van sy huismense afskeid te neem (apotassomai om totsiens te sê en te vertrek, of ook: totsiens sê en finale reëlings vir die vertrek te tref) soos Elisa toe Elia hom geroep het (1 Kon 19:19-21).
9:62 Jesus antwoord met die beeld van ’n boer wat ploeg en sy oog op ’n vaste punt oorkant die land vestig om ’n reguit voor te trek. Maar die boer wat loop en omkyk trek krom spore, omkyk help nie om vooruit te kom nie. So ’n mens is nie geskik (euthetos geskik om bruikbaar te wees) vir die koninkryk van God nie. Onder God se koningsheerskappy word algehele toewyding aan Hom en onvoorwaardelike getrouheid aan jou Here gevra: om jouself te verloën, elke dag jou kruis op te neem, Jesus te volg (Luk 9:23). Dit wat Hy van sy volgelinge vra, het Hy ten volle uitgevoer. Hy het selfs die band met sy moeder en broers verbreek waar dit nodig was om sy roeping te vervul (Luk 8:20-12). Soos ‘n boer vestig Jesus van hier af sy oog op Jerusalem waar die Joodse Raad Hom gaan verwerp en laat kruisig, en so sal Hy die verlossing van die mense bewerk.