Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se eerste aankondiging van sy lyding, dood en opstanding (Luk 9:21-27) – Francois Malan
9:21-22 Die rede vir Jesus se opdrag om Hom nie as die Christus van God bekend te maak nie, word hier gegee met die aankondiging dat Hy, die Seun van die Mens, eers baie moet ly, verwerp word (apodokimazo na ondersoek as nikswerd of oneg verwerp word) deur die Joodse Raad met sy drie groepe: die oudstes (familiehoofde), die leierpriesters (die dagbestuur van die Raad wat slegs uit Sadduseërs bestaan) en die skrifgeleerdes (waarvan die meerderheid Fariseërs was); dat hulle Hom gaan dood gemaak en dat Hy op die derde dag deur God opgewek gaan word. Hy is die lydende Gesalfde van God. Die Ou Testament en die Jode verwag die koms van ’n Gesalfde van God – ’n profeet soos Moses, Deutr 18:17-19; veral ’n koning soos Dawid, 2 Sam 7:16 (vgl. 2 Sam 7:11-12), Ps 132;11; Rom 1:3; ’n priester vir altyd volgens die orde van Melgisedek, Ps 110:4 (vgl. Hebr 5:6; 6:20; 7:17). Die verwagting van ’n Gesalfde word nou deur Jesus verbind met die lydende kneg van die Here in Jesaja 52:13-53:12, en met die Seun van die Mens van Daniël 7:13-14. Eers deur sy lyding word Hy as die Messias van God geopenbaar. Dit is ’n ‘moet’ want sy messiaanse opdrag is om die dood en ellende van die skepping en van die mensdom te oorwin volgens God se raadsplan (vgl. Hand 2:23-31). Sy kruisdood is sy roeping.
Lukas laat die gedeelte in Markus 8:32-33 uit, oor Petrus se bestraffing van Jesus en Jesus se verwerping van die Satan se verleiding deur Petrus se woorde.
9:23 Jesus verwys na almal wat Hom wil volg – dit sluit mense deur alle eeue in. Almal moet weet die pad na verheerliking loop deur lyding. Die rabbynse Jodendom sien egter lyding as straf van God en kyk God se versoenende krag mis. Die lewe van die volgeling van Jesus word met drie begrippe geskilder: jouself verloën – (1) nie jou wil nie, maar sy wil, (2) jou kruis daagliks opneem – soos Christus teen die stroom op moes praat en optree, anders as die mense, om al minder te word, en nie al belangriker nie, en dan die smaad van die wêreld te dra. (3) Om Christus te volg is om soos Hy te dink en op te tree (vgl. 2 Kor 3:18 om al meer soos Christus te word); Hy is ons maatstaf (vgl. Flp 2:3-8). Dit is die wese van ons dissipelskap dat ons lewe sy liefde sal weerspieël (Matt 5:42-48).
9:24 Die volgende drie verse begin elkeen met ‘want.’ Daarmee word drie redes aangegee waarom ’n gelowige geroep word om soos Jesus te lewe en te ly: (1) Die paradoks van die lewe is: wie sy eie lewe wil red, verloor dit; wie sy lewe ter wille van Christus verloor sal dit red. Dié mens wat die beste in die lewe net vir homself toeëien, verloor dit omdat hy die sin van die lewe verloor, die doel wat die Here spesifiek vir hom/haar het is om soos Hy, ander mense te dien (Mark 10:42-45; Flp 2:4).
9:25 Die tweede ‘want’ volg negatief op die eerste. ‘wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of skade aandoen?` Jesus stel dit as ’n vraag waarop elke mens self moet antwoord, ook die onverskilliges wat te vol is van hulle eie sake, en die vraag laat verbygaan omdat hulle nie belangstel in Jesus of sy verskyning nie. Markus 8:37 voeg nog by: wat sou ’n mens gee as losprys vir sy lewe?
9:26 Die laaste ‘want’ is in die toekomstige tyd: Wie hom vir Jesus en sy woorde skaam, sal Jesus Hom ook skaam as Hy in sy heerlikheid kom… (Markus 8:38 sê: wie hom vir My skaam in hierdie owerspelige en sondige generasie…).
Deur sy lyding verkry Jesus sy heerlikheid. Sy lyding is sy heerlikheid; sy offer aan die kruis is die toppunt van sy liefde vir die wêreld deurdat Hy die sonde van die hele wêreld uit genade op Hom neem (Joh 12:32-33: ‘as Ek van die aarde verhoog word, sal Ek almal na My toe trek.’ Dit het Hy gesê om aan te dui watter dood Hy sou sterf). Sy liefdesoffer trek mense na Hom toe. Sy heerlikheid is ook niks anders as die heerlikheid van die Vader en van die heilige engele nie, wat intens betrokke is by sy lyding en sy genadige verlossing van mense se sonde.
Wanneer ’n mens hom tussen ander mense skaam vir Jesus en sy woorde, bang word vir homself, en ontrou word deur meegesleep te word, is dit ’n breuk met Jesus (vgl. Petrus by die vuurtjie tussen die soldate wat vir Jesus gevange geneem het, Luk 22:55). Vir wie egter ontrou bly, sal Jesus Hom skaam.
Hier rig Jesus hulle oë op die heerlikheid van die Seun van die Mens (Lukas se byvoeging by Markus 8:38), van die Vader en van die heilige engele. Op die skok van sy aankondiging van sy dood volg die aankondiging van sy koms in heerlikheid as regter, wat vir sommige mense gaan sê; Ek ken jou nie (Mat 25:12; 7:23), en vir ander: ‘Julle geseëndes van my Vader, kom beërf die koninkryk wat vir julle gereedgemaak is van die grondlegging van die wêreld af’ (Matt 25:34).
Oor die heilige engele sê Jesus in Matteus 25:31-32: Wanneer die Seun van die Mens in sy heerlikheid kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy glansryke troon gaan sit om die skape van die bokke te skei. In Lukas 2:13 het ’n hemelse menigte engele God geloof met die aankondiging van die geboorte van Jesus aan die herders.
9:27 Die koningsheerskappy van God is volgens Handeling 2:32-36 gesien en gehoor nadat Jesus gaan sit het aan die regterhand van God, die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, en die Gees uitgestort het. God het die Jesus wat die Jode doodgemaak het, Here (die Ek is, die teenwoordige God) en Christus (die Gesalfde Koning) gemaak. Die sigbare teken van die aanvang van die koningsheerskappy van God was die tonge asof van vuur, en was hoorbaar in die spreek in ander tale soos die Gees dit aan hulle gegee het (Hand 2:3-4). Hulle hoor oor die groot dade van God in hulle eie tale die boodskap, sodat hulle dit kan verstaan. Dit is die heerskappy van God se liefde, wat aan die kruis sy hoogtepunt bereik het met Jesus se sterwe vir die sonde van die wêreld (Joh 1:29). Nou word dit geglo, uitgeleef en verkondig deur sy kinders, sy getuies in die wêreld (vgl. Gal 2:20; 2 Kor 5:18-19; Luk 17:20-21: die koninkryk van God is in julle midde; Luk 11:20). Die eerste van die mense wat na hierdie belofte iets van die koningsheerskappy van God gesien het, was Petrus, Johannes en Jakobus, toe hulle saam met Hom op die berg van verheerliking was (Luk 9:28-36); daarna die groepe wat Jesus ná sy opstanding en met sy hemelvaart gesien het (o.a. Luk 24:1-53).