Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se gebedstryd by die Olyfberg (Luk 22:39-46) – Francois Malan
22:39 Onder die paasfees se volmaan vertrek Jesus en sy dissipels uit die stad, loop deur die Kedronspruit en gaan soos gewoonlik na die Olyfberg, oos van die stad. Anders as Markus en Mattheus noem Lukas nie die Hebreeuse naam Getsemane (oliepers) van die plek vir sy Griekse lesers nie. Johannes praat slegs van ’n tuin oorkant die Kedronspruit. Net Lukas noem die Olyfberg, en dat Jesus gewoonlik daarheen gegaan het (vgl. Luk 21:37). Jesus vlug nie vir sy gevangeneming nie, en Judas sou weet waar om Hom te kry. Jesus gee Homself oor op ’n plek wat die minste oproer in die stad sou veroorsaak en dit vir die Joodse leiers die maklikste sou wees om Hom stilweg te arresteer (vgl. Mark 14:2).
22:40 Vir sy elf dissipels herhaal Jesus sy waarskuwing van Luk 21:36: ‘Bid sodat julle nie in versoeking kom nie’ (Letterlik: in versoeking ingaan nie). Die groot oomblik van versoeking om van Jesus af weg te vlug en Hom te verlaat, het gekom. God is magtig om jou daardeur te dra. Deur jou tot Hom te wend in gebed, kan die versoekings vermy en oorwin word. Dit gaan Jesus nou doen terwyl sy dissipels aan die slaap gaan raak en deur die Satan soos koring gesif gaan word (Luk 22:31). Daarom word die waarskuwing in vers 46 herhaal, net voor Jesus se arrestasie.
22:41 Jesus trek Homself terug (apospaō) van die dissipels af, ongeveer ’n klipgooi ver, binne roep- en hoorafstand van die dissipels af. Daar gaan Hy op sy knieë en bid. Hoewel die Jode gewoonlik gestaan en bid het (Luk 18:11,13) kniel Jesus in nederigheid en dringendheid voor sy Vader, soos Esra (Esra 9:5; 10:1).
22:42 ‘Vader, as U wil, neem die beker van My af weg,’ ’n idioom vir: laat die lyding by My verbygaan). Die beker is ’n teken van dankbaarheid en vreugde in Ps 16:5; 23:5, en van straf en bitter verlies in Ps 11:6; 75:9; Jer 49:12.
‘Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied.’ Jesus gee Homself heeltemal oor aan die wil van sy Vader, soos blyk uit die herhaling van ‘u wil’ in die twee dele van die teks en die prysgee van sy eie wil in die tweede deel (vgl. die derde gebed in die Onse Vader van Matt 6:10).
22:43-44 Dié twee tekste kom slegs in Lukas voor. In meeste van die ou manuskripte makeer die twee tekste, bv. in papirus 75 vroeë derde eeu; kodeks Vaticanus uit die helfte van die vierde eeu; ens. Maar dit kom wel voor in kodeks Sinaiticus ook uit die vierde eeu n.C. moontlik ’n raps ouer as Vaticanus. Daarom is dit in die Griekse teks tussen hakies ingevoeg.
22:43 ‘Daar het ’n engel uit die hemel aan Hom verskyn om Hom te versterk.’ Dit word aangebied as die hemel se antwoord op Jesus se gebed. Dit herinner aan die engel wat saam met die drie vriende van Daniël in die vuuroond rondbeweeg het (Dan. 3:25). In Daniël 18:18-19 word Daniël versterk deur iemand wat soos ’n mens gelyk het. Lukas se Evangelie begin met engele wat die geboorte van Jesus aankondig aan Sagaria en aan Maria, en sluit hier af met die engel wat Jesus kom versterk in sy grootste versoeking. In Lukas en Handelinge kom engele dikwels voor. Die Griekse woord angelos beteken eintlik ‘boodskapper,’ en word ook gebruik vir ’n bonatuurlike wese wat ’n bonatuurlike owerste wese bedien en optree as sy boodskapper; as ’n dienaar of boodskapper van God (Ps 103:20-21), ook dienaar of boodskapper van die Duiwel (Matt 25:41). Die engel kom vir Jesus versterk op die kritieke oomblik van sy lewe. In Joh 12:28-30 kom die Vader se stem uit die hemel, ter wille van die skare.
22:44 Ons kry ’n klein kykie in die intensiteit van Jesus se gemoed, dat sy sweet op die grond afgeloop het soos groot druppels (thromboi klonte of druppels) bloed tydens sy ernstige gebed, toe Hy deur angs oorval is (vgl. Joh 12:72: Nou is my siel ontsteld’). Angs (agōnia) verwys na ’n groot geestelike en emosionele droefheid en angs. Op Jesus wag die verskriklike dood waardeur Hy selfs van sy Vader verlaat word (Mark 15:34) om God se doodstraf op die sonde van die hele wêreld in hulle plek aan die kruis te dra. 2 Kor 5:21: ‘Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God sonde gemaak ter wille van ons, sodat ons in Hom voor God geregverdig kan word.’
22:45 Na Jesus se worsteling in sy gebed tot die Vader, en sy berusting in die wil van sy Vader, vind Hy sy dissipels aan die slaap, ‘oorweldig deur droefheid,’ ’n byvoeging van Lukas by die Markusberig. Hulle is skynbaar bedroef omdat Jesus hulle gaan verlaat soos Hy tydens die nagmaal gesê het (vgl. Luk 22:15 voor ek ly; v16 Ek sal dit beslis nie weer eet nie; v18 Ek sal dit beslis nie weer drink nie; v19 doen dit ter herinnering aan My; v20 my bloed wat uitgegiet word; v34 vandag sal jy my driemaal verloën; v37 Ek sal saam met wetteloses gereken word). Sy dissipels was onbewus van sy worsteling, en hulle slaap in plaas van saam met Hom en vir Hom te bid, ten spyte van sy oproep in vers 40 om te bid dat hulle nie in die versoeking kom nie, nie in versoeking ingaan nie.
22:46 Jesus vra vir die dissipels: ‘waarom slaap julle?’ Besef hulle nie wat hier aan die gang is en nou op hulle wag nie? As hulle Leier gevang en verwerp word, word hulle saam met Hom deur die mense verwerp, en sal hulle moet besluit of hulle langer aan Hom verbind gaan bly of nie. Daarom sluit Jesus sy worsteling en oorwinning oor sy eie wil in die gebed tot sy Vader af met ’n herhaling van sy waarskuwing aan sy dissipels: Staan op (uit die slaap) en bid sodat julle nie in versoeking ingelei word nie. As Jesus self die gesprek met sy Vader nodig het vir sy selfoorgawe aan die wil van die Vader – hoeveel te meer het sy volgelinge die gebed nodig om hulle trou aan hulle Heer te bewaar, wanneer hulle sien hoe Hy Hom vrywillig oorgee in die hande van sy teenstanders.
Slegs in gebedskontak met die Vader en oorgawe van onsself aan sy wil vir ons, kan ons staande bly teen die versoekings van ons eie hart en van die wêreld. In Luk 18:1 het Jesus reeds vir hulle ’n gelykenis vertel oor hoe nodig dit is om altyd te bid en nie moed te verloor nie (mê engkakeō om nie jou motivering te verloor om ’n geldige doel uit te voer nie).