Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se klag oor Jerusalem (Luk 13:31-35) – Francois Malan
13:31 ‘Juis op hierdie tydstip (letterlik: op hierdie uur)’ – Lukas plaas hierdie deel van Jesus se reis onderweg na Jerusalem deur groot en klein dorpe (13:22) blykbaar in Perea, in die gebied van Herodes Antipas. Sommige van die Fariseërs kom Jesus waarsku oor Herodes se planne om Hom uit die weg te ruim. Herodes was blykbaar ’n man wat nie moeilikheid in sy gebied wou hê nie (die Joodse geskiedskrywer Josefus sê Herodes was ’n man ‘wat gehou het van ongestoorde rustigheid en gemak’(Antiquities of the Jews 18:7:2). Volgens Luk 9:9 het Herodes erken dat hy Johannes die Doper onthoof het, en dat hy probeer het om Jesus te siene te kry, waarskynlik om die skares wat Jesus gelok het en wat hy as ’n bedreiging vir vrede in sy land gesien het, stop te sit. Jesus stuur ’n boodskap na Herodes terug, waarskynlik saam met die Fariseërs wat die boodskap gebring het, wat eintlik aandui dat hulle ook vir Jesus uit hulle gebied wou weg hê, waar hy deur die dorpies die mense anders geleer het as wat hulle die mense leer (vgl. 12:1). Of dat hulle wou hê dat Jesus na Judea toe moet uitwyk waar hulle groter gesag kon uitoefen deur die Sanhedrin. Of was hulle opreg bekommerd oor Jesus se veiligheid?
13:32 Jesus noem Herodes ’n jakkals, geslepe en listig om Hom met ’n draai deur ander mense skrik op die lyf te jaag; die jakkals is die klein roofdier in Israel teenoor die leeu as die groot roofdier. Herodes was slegs tetrarg, wat regeer het oor ’n kwart van sy pa se gebied en dit by grasie van Rome, die groot leeu, wat deur Pilatus verteenwoordig is. Maar Jesus kom met ’n hoër gesag wat vandag en môre duiwels uitdryf en siekes gesondmaak; en op die derde (Vaticanus voeg in ‘dag’) sal Ek klaar wees en my hele sending suksesvol voltooi. Die werkwoord ‘voltooi’ is passief wat daarop dui dat dit God is wat Jesus gestuur het en sy sending sal afsluit. God, en nie Herodes nie, sal besluit wanneer Jesus gaan sterf en op die derde dag opstaan. Nou gaan Hy nog voort om die evangelie met woord en daad te verkondig.
13:33 Jesus moet (dei, volgens die plan van God wat Jesus se lewe en bewegings dra en lei. Jesus is God se plan wat besig is om te gebeur) vandag en môre en die volgende dag verder gaan met sy reis om die werk waarvoor Hy gekom het voort te sit. Die eindpunt van sy reis is Jerusalem waar die profete doodgemaak word (vgl. Luk 11:51; Jer 26: 20-23; 2 Kron 24:20-22; Josefus sê Hiskia se seun Manasse was so boos dat hy elke dag profete doodgemaak het tot Jerusalem vol bloed was (Ant. of the Jews 10:3:1). Jesus is beskou as ’n profeet (vgl. Luk 4:24; 7:16,39; 24:19). Nie Herodes nie, maar Jerusalem sal Jesus doodmaak. Daar word die verhore teen profete deur die Sanhedrin verhoor. Daar sal die houding van Israel teenoor Jesus finaal gevorm word en waar sy dood God se doel met sy Messias volbring sal word (Joh 19:30 Dit is volbring!). Juis deur sy dood sal Hy almal na Hom toe trek (Joh 12:32-33).
13:34 Die afsluitingswoord oor Jerusalem is ’n profetiese uitspraak. Dit is as profeet wie se woord verwerp word deur Jerusalem dat Jesus in Jerusalem sal sterwe. Die dubbele uitroep ‘Jerusalem, Jerusalem’ maak die oproep tot die stad soveel dringender en intiemer, ’n betoning van Jesus se liefde vir die stad en sy mense wat hulle dringend waarsku (vgl Luk 22:31); die Heilige Stad aan wie die Here toegewy is. Hulle wat die profete wat God se woord aan hulle bring, gereeld doodmaak, en die mense wat die Here na hulle toe stuur gereeld stenig (die teenwoordige deelwoorde dui daarop dat dit telkens geskied). Hulle bring die oordeel oor hulleself deurdat hulle die boodskappe verwerp, wat hulle tot gemeenskap met God sou bring. ‘Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke’ – Jesus is die toevlug wat ’n mens by die Here het, soos Boas vir Rut gesê het: Mag jy ’n welverdiende beloning ontvang van die Here die God van Israel, onder wie se vleuels jy kom skuil het (Rut 2:12; vgl. Dawid se gebed in Ps 17:8 verberg my in die skadu van U vleuels; Ps 36:8: die troue liefde van God maak dat mense in die skadu van U vlerke kom skuil; vgl. Ps 57:2; 61:5; 63:8; 91:4; soos ’n arend sy kleintjies op sy vlerke dra Deutr 32:11). So het Jesus vir Israel die toevlug tot God oopgemaak, soos sy gelykenis van die verlore seun en oudste broer aan die Fariseërs en skrifkenners verduidelik (Luk 15:11-32). Maar die aanbod wat Jesus dikwels aan hulle gemaak het, wat wys na meer kere wat Jesus daar was as wat in die Evangelies beskryf is (of deur die eeue, Jer 22:5-9), word afgewys: ‘maar julle wou nie.’
13:35 Jerusalem word aan die oordeel van God oorgelaat sonder ’n toevlug of beskutting. ‘Jou huis’ verwys na die tempel in Jerusalem waarin God woon. ‘Kyk! jou huis word vir jou verlaat’ – die Godsnaam word deur die passiewe vorm van die werkwoord in die sin verberg, dit beteken: God gaan julle tempel verlaat (vgl. Jeremia 12:7; 22:5).
Die laaste seënwoord is vir Jode wat hulle in Jesus se arms kom werp (Rom 11:23-24), maar dié wat nie in Hom glo nie, sal op die oordeelsdag teen hulle wil moet erken: Geseënd is Hy, Jesus, wat kom in die Naam van die Here (Ps 118:26; Fil 2:9-11). Die huiseienaar sal egter sê: Ek ken julle nie (Luk 13:28).