Die Evangelie volgens Lukas: Die vraag oor Jesus se gesag (Luk 20:1-8) – Francois Malan

image_pdfimage_print

20:1 Jesus gee daagliks onderrig aan die volk oor die koninkryk van God, met die goeie nuus (evangelie) van God se vergifnis van sonde (Luk 5:20; 9:6).  

20:2 Die godsdienstige en volksleiers staan voor ’n groot probleem. Hulle wil Jesus uit die weg ruim (vgl. Luk 19:47). Die getal van die volk wat elke dag na Jesus se goeie boodskap (evangelie) kom luister, is te groot vir ’n openlike konfrontasie as hulle Jesus laat arresteer. Daarom probeer die leiers om Hom in diskrediet by die volk te bring met hulle vraag na sy gesag. Waar kry Hy die gesag om die tempel te reinig van die priesters se onverdiende inkomste en van hulle roeping om vir die volk se sonde versoening te doen? Waar kom sy gesag vandaan om soos die skrifgeleerdes die volk te onderrig in die woord van God al is Hy nie as rabbi opgelei nie, en dan bring Hy ’n uitleg van die Skrif wat van hulle verskil? Wie gee Hom die reg  om die familiehoofde se leiding by die regspraak oor die volk by hulle oor te neem? Hulle aanvaar dat niemand gesag kan uitoefen sonder dat hy deur die regte kanale daarvoor opdrag gekry het nie. Hulle meen as Hy sou aandui dat Hy die verwagte Messias-Verlosser van sy volk is, kan die Romeine Hom kom gryp en doodmaak as ’n rebel en opstoker van rewolusie. Indien Hy egter sy Messiasskap sou ontken sal sy populariteit by die volk verdwyn.

20:3-4 Jesus trap egter nie in hulle strikvraag nie, maar stel ’n wedervraag aan hulle om hulle tot ’n persoonlike stellingname oor Hom te dwing; ‘Ek sal ook aan julle ’n vraag vra; sê julle vir My, was die doop van Johannes van die hemel of van mense?’ Iemand kan nie ’n opinie oor Jesus vorm sonder ‘n idee oor Johannes die Doper se bediening nie. Hulle twee se volmag kom uit dieselfde bron. Wie Johannes se boodskap geglo het, sal ook in Jesus glo, want Johannes het Jesus aangekondig as die verwagte Messias wat hulle met die Heilige Gees en met vuur gaan doop. Johannes het met die goeie boodskap die mense voorberei vir die koms van die Christus. Daarvoor het hy die volk tot bekering opgeroep (metanoia om jou hele lewenswyse te verander as gevolg van ’n totale verandering van gedagte en houding teenoor sonde en geregtigheid) en hy het hulle gedoop met die oog op die versoening van hulle sonde wat deur Jesus bewerk sou word (Luk 3:3-6,16,18). Was Johannes se boodskap en doop slegs uit menslike oorwegings, of was dit volgens die wil van God en op God se gesag? Volgens Luk 7:29-30 het die hele volk na Johannes geluister, saamgestem dat God reg gehandel het en hulle deur Johannes laat doop. Maar die leiers het die verlossingsplan van God vir hulle verwerp. Nou word die leiers uitgedaag om voor die volk te verklaar waar hulle staan ten opsigte van Johannes se gesag. Johannes was die stem wat in die woestyn roep om die pad vir die Here se koms gereed te maak, sodat die ganse mensdom sal sien hoe God verlossing bring (3:4-6). En soos Jesus se voorloper moes sterwe oor sy boodskap, moet Jesus ook sterf om God se verlossing vir die ganse mensdom te bewerk (Joh 1:29).

20:5-6 Die leiers hou eers ’n samespreking oor die voor- en nadele van hulle antwoord. Hulle is duidelik nie bekommerd oor die waarheid nie, maar konsentreer op die gevolge wat hulle antwoord kan inhou. Al drie die sinoptiese Evangelies vertel van hulle vrees. Lukas voeg ’n rede vir hulle vrees by, dat hulle gestenig kan word. Al drie sê dat die hele volk Johannes die Doper as ’n profeet van God se woord beskou, met ander woorde dat hy met goddelike gesag oor Jesus gepraat het. En as hulle uit vrees vir die volk sou erken dat Johannes met die gesag van God gepraat het, sou Jesus met reg kon vra waarom hulle Johannes dan nie geglo het en vir Jesus aanvaar het nie. Hulle besef hulle strikvraag aan Jesus het geboemerang.

 20:7 Hulle kan nie uit oortuiging die waarheid praat nie, en sê daarom hulle weet nie waar Johannes se gesag vandaan kom nie. Daarmee erken hulle voor die volk dat hulle nie bekwame geestelike leiers is in die lewensbelangrike geloofsvraag nie. Daarmee het hulle ook hulle reg verloor om Jesus uit te vra oor waar sy gesag vandaan kom. 

 20:8 Hulle weiering om ’n uitspraak te maak impliseer dat Hy hulle tog geantwoord het, en dat Hy oortuig is dat Hy en Johannes met goddelike gesag optree. En omdat hulle dit nie gewaag het om ’n geloofsuitspraak oor Hom en Johannes die Doper te maak nie, bly die geheim van Jesus se gesag vir hulle verborge met al die gevolge daarvan vir hulle en vir die volk. Deur hulle weiering om ’n uitspraak te maak, laat dit Jesus nie sonder magtiging vir sy optrede nie, maar het hulle hulleself blootgestel as onbekwaam om die geestelike lewe van die volk te lei.

image_pdfimage_print

You may also like...