Die Evangelie volgens Lukas: Jesus stuur 70/72 dissipels uit (Luk 10:1-12) – Francois Malan
Slegs Lukas vertel van hierdie uitsending wat baie ooreenkom met Matteus 9;37-38; 10:7-15 en dit ná die berig in Luk 9:1-6 van die sending van die twaalf deur die hele Galilea. Hier word meer besonderhede gegee oor die sending. Waarskynlik word hierdie groep gestuur na die suidelike deel van Palestina, na Judea en oorkant die Jordaan in Perea, om sodoende die hele gebied van Israel te bereik met die boodskap oor Jesus en die koningskap van God wat aangebreek het.
10:1 Die getal 72 kom in sommige manuskripte voor (bv. Vaticanus, ongeveer 350 v.C., en papirus 75 uit Alexandrië), terwyl ander die getal 70 het (bv. Sinaïticus, wat ‘n bietjie jonger is as Vaticanus, en papirus 45 deels ’n Alexandrynse en gedeeltelik Westerse teks). Volgens Eksodus 1:5 het Jakob na Egipte toe gegaan met 70 afstammelinge tydens die sewe jaar droogte, terwyl Josef reeds daar was; volgens die Hebreeuse teks van Genesis 10 was daar 70 volke wat uit Noag se seuns ontstaan het; volgens die Griekse vertaling daarvan was daar 72). Volgens Numeri 11:16-17,24-30 het Moses 70 leiers op die trek deur die woestyn gehad en twee het in die kamp gebly; daar was 70 lede van die Sanhedrin).
Jesus stuur 72 van sy ‘ander’ volgelinge (benewens die twaalf) twee-twee voor Hom uit na elke dorp in Judea en moontlik Perea, dele wat Hy nog wou besoek, om Hom en sy boodskap bekend te maak. Die grootte van die getal wys hoe wyd Jesus nog voor sy dood die vernuwing van Israel deur sy verkondiging van God se koningskap oor hulle lewe wou bekendmaak. Die 72 was gekies uit die skare wat Jesus gevolg het, wat na sy prediking geluister het en die wonders gesien het wat Hy uit barmhartigheid aan mense gedoen het. Dit was hulle opleiding.
10:2 Die rede vir die uitsending is die oes wat ingesamel moet word. Dit is die Here se oes waarvoor Hy mense as sy werkers gebruik (vgl. Joh 4:35-38). Sy werkers se eerste taak is om tot die Here te bid dat Hy werkers sal stuur vir sy oes, sodat die mense in ’n dorpie wat tot geloof gekom het, sal voortgaan met die verspreiding van die evangelie onder die ander mense in hulle dorp, nadat die twee lede van die 72 wat daar gewerk het van hulle dorpie af vertrek het.
10:3 Hulle taak is verder om te gaan in die wete dat Jesus hulle uitstuur, as ’n weerlose prooi, soos lammers onder wolwe; onder hulle eie landgenote wat ’n verwagting van die Christus het wat heeltemal van hulle sal verskil; dit is asof Hyself in die hande van die ‘wolwe’ oorgelewer gaan word. Die 72 moet teenstand en verwerping verwag, selfs bedreiging van hulle lewens, deurdat hulle hulleself verloën, hulle kruis elke dag opneem en Jesus volg (Luk 9:23). Maar kyk! gee besondere aandag hieraan! Hy stuur hulle. Hy sal hulle lei, hulle as sy getuies gebruik en hulle versorg.
10:4 Die reis moet haastig aangepak en deurgevoer word, sonder voorsiening in hulle eie behoeftes, nie eers ’n paar sandale nie, kaalvoet? (vgl. 10:11). Hulle moet dadelik vertrek op die sending en nie eers daarvoor gaan voorberei nie. Dit wys hulle armoede en ook hulle algehele afhanklikheid van die Here se versorging op die reis (vgl. Luk 22:35). Dat hulle niemand langs die pad moet groet nie, verwys na die haas van die uitvoering van hulle taak – die Jode se seremonies met die begroeting kon ’n lang proses wees, en dit sal hulle lank op hulle reis kan vertraag (vgl. 2 Kon 4:29). Dit beteken nie dat hulle die huise waar hulle gaan bly sonder ’n beleefde groet moet binnegaan nie (Luk 10:5). Die haas hang saam met die reis van Jesus na sy dood in Jerusalem, sodat elke dorpie ook in Judea van Hom en sy booskap sal kennis neem, die besondere voorreg om van die Seun van God se teenwoordigeheid in hulle land te hoor.
10:5 By die huis waarheen die Here hulle gaan lei om aan te klop vir die nag moet die inwoners eers gegroet word met ’n vredestoesegging: Vrede vir hierdie huis. Die Hebreeuse woord sjalom (Grieks êrene) verwys ook na die welwese van die huis se mense. Dit is die gewone Joodse groet, maar in gemeenskap met Jesus word dit die ewige heil van dié wat sy vrede aanneem (vgl. Luk 1:79; 2:14, ens.). Die Hebreeuse woord vir ‘groet’ en ‘vrede’ (sjalom) is dieselfde. Vir die ontvangs van Moses, vgl. Eks 2:20-21, en van Elia, vgl. 1 Kon 17:8-16. Al reis hulle as arm afhanklikes dra hulle die seën van God as toerusting vir hulle werk, die vrede wat in hulle gesprek sal deurstraal.
10:6 Die ontvangs van die vrede wat Jesus se gesante bring hang af van die ontvanger se reaksie daarop. As hy ’n ‘seun van vrede’ is – ’n man van vrede, wat vrede soek en ontvanklik is vir vrede, sal julle vrede op hom bly (epanapauomai voortgaan om op hom te bly). Dit spel sy tydelike en ewige vrede met God, ook in sy hart, en die meegaande vreugdevolle en geseënde lewe onder die hand van die Here (vgl. Num 11:25). Maar die seën van die groet sal nie bly by die mense wat nie die vrede soek en dit nie in geloof van God ontvang nie.
10:7 In dié huis waar hulle ontvang word, bly die twee dissipels wat Jesus na die dorpie gestuur het vir die hele tyd wat hulle die mense in die dorpie besoek met die boodskap van God se koninkryk wat in Jesus aangebreek het. Hulle eet wat hulle voorgesit word. So word hulle behoefte aan kos versorg. Die rede vir die vryheid om van die mense se gasvryheid gebruik te maak, is Jesus se volgende woord: die arbeider is sy loon werd. Hulle staan in diens van Jesus, wat hulle op dié manier deur ander laat versorg (1 Kor 9:9-11; 1 Tim 5:18; Deutr 25:4). Die verblyf in een huis wys ook op die haas waarmee hulle die taak moet aanpak, en nie van huis tot huis eers gesellig verkeer nie.
10:8-9 As die mense van die dorp hulle ontvang is daar drie dinge wat daarop volg: 1 hulle moet die mense se gasvryheid aanvaar, selfs in Perea waar daar ook baie nie-Jode woon en vir hulle kos kan voorsit wat nie volgens die Jode ‘kosher’ is nie (vgl. Hand 10:15). 2 maak die siekes gesond as teken van die heling wat Jesus bring en as bewys dat hulle deur Hom gestuur is; 3 sê vir die mense: die koninkryk van God, sy koningsheerskappy het naby julle gekom in die Persoon van Jesus. Hy is die koninkryk/koningskap van God wat na julle toe kom, na elke huis en stad. Die nabyheid van die koninkryk word juis geopenbaar deur die genesings deur Jesus se gesante.
10:10 In die dorp waar hulle nie ontvang word nie, moet hulle in die openbaar vir die inwoners in die strate sê dat hulle hulle heeltemal aan die dorp onttrek en aan hulleself oorlaat, soos Jesus in Nasaret en in die een Samaritaanse dorp gedoen het (Luk 4:30; 9:56).
10:11 Die onttrekking word met ’n profetiese simboliese gebaar sigbaar genaak: ‘selfs die stof van julle dorp wat aan ons voete kleef skud ons teen julle af.’ Dit is ‘n aanklag en teken van hulle onttrekking sonder om iets van die dorp met hulle saam te neem. Markus 6:11 sê dit dien as getuienis teen die dorp.
Daarby moet hulle ook sê: ‘Maar weet dit, dat die koninkryk van God naby gekom het.’ Dit is nie die boodskappers nie, maar die nabyheid van God se regering, sy genade, sy vrede, en daarmee die genadige God self, wat afgewys is.
10:12 Voor die vertrek van die 70/72 sê Jesus dat God se eindoordeel oor so ’n stad wat vir God verwerp het veel groter sal wees as dié oor Sodom, wat die engele/boodskappers van God wou verkrag (Genesis 19:1,5). Dit is nie so ’n dorpie wat die gesante van God afwys nie, maar hulle wys die koninkryk van God af, wat naby hulle gekom het; die nabyheid van God self by hulle, het hulle afgewys. Die afwysing van die evangelie en sy reddende krag (Rom 1:16) maak die oordeel van God onontwykbaar.