Die Evangelie volgens Lukas: Jesus verskyn aan die dissipels (Luk 24:36-49) – Francois Malan
24:36 Terwyl die dissipels nog oor die dinge praat staan Jesus self tussen hulle en sê vir hulle: ‘Vrede vir julle.’ Die Jesus wat nou orals teenwoordig is, tree uit sy verborgenheid te voorskyn. Joh 20:19 verduidelik daarby dat die deure waar die dissipels vergader het daardie Sondagaand gesluit was en dat Jesus tussen hulle kom staan het met sy vredegroet (die gewone Joodse groet, sjalōm lekêm).
24:37 Verskrik en beangs dink hulle dat hulle ’n gees (van iemand wat gesterf het) sien. Dit ten spyte van die getuienis van Petrus en die twee Emmausgangers dat hulle Jesus self gesien het, en dat Hy vooraf gesê het dat Hy gaan opstaan. Toe Hy in die nag na hulle toe op die see geloop het, het hulle ook beangs geskreeu omdat hulle liggelowig gedink het hulle sien ’n spook (Mark 6:49).
24:38 Die gedagte van ’n gees kom uit ’n verwarde hart. Jesus vra ‘waarom is julle onder groot spanning en kom daar twyfel in julle harte op?’ Dit kom uit die skielike ontmoeting met die bo-natuurlike. Soos die Emmausgangers het hulle Jesus leer ken voordat hulle Hom herken het. Daarby het hulle nog geen idee van hoe die veranderde liggaam gaan wees nie – onsterflik, ’n geestelike liggaam in heerlikheid (1 Kor 15:42-44).
24:39 Aan sy hande en sy voete kan die merke van die kruisspykers gesien word – dit is Ek self (egō eimi ‘Ek is’ – Dit is ook sy identiteit, Hy is die teenwoordige God, vgl. Eks 3:14-15). Hy is God met die merktekens van die kruis. Dat Hy werklik gesterf en opgestaan het, word bewys dat aan sy liggaam (sarks) en bene gevat kan word (vgl. Joh 20:20,27; 1 Joh 1:1). Hy is nie ’n gees of ’n spook sonder liggaam nie. Hy het mens (sarks) geword (Joh 1:14), en na sy opstanding is Hy nog ’n mens, maar met ’n verheerlikte liggaam.
24:40 Na sy woorde wys Hy ook vir hulle sy hande en sy voete, om hulle te verseker dat dit Hy is, die gekruisigde, wat opgestaan het en nou hier by hulle is (vgl. Joh 20:20).
24:41-43 Van vreugde oor sy teenwoordigheid kon hulle dit steeds nie glo nie en was verbaas oor die wonder van sy opstanding. Die dissipels wat van droefheid aan die slaap geraak het in Getsemane (22:45) is nou van vreugde nog ongelowig. Oorweldig deur hulle vreugde is dit vir hulle te goed om waar te wees. Daarom vra Jesus vir iets om te eet. Voor hulle oë eet Hy van die vis wat hulle vir Hom voorsit, ook as bewys dat Hy liggaamlik opgestaan het uit die dood, en dat Hy werklik teenwoordig is by hulle. Hy het ook die dogtertjie van Jaïrus laat eet nadat Hy haar uit die dood opgewek het om te wys dat sy waarlik lewe (Luk 8:55).
24:44 Daarna gee Jesus aan hulle sy laaste reeks woorde, sy testament. Dit is sy heilige bemaking aan sy kerk wat hulle onveranderd moet onthou. Hy herinner hulle aan die woorde wat Hy aan hulle gerig het toe Hy ‘nog saam met hulle was’ – as aanduiding van sy aardse bestaan. Dit het ook verwys na die noodwendigheid van die vervulling van wat geskryf staan in die Wet van Moses (die eerste vyf boeke: Genesis-Deuteronomium) en die Profete (vroeëre profete: Josua-2 Konings (sonder Rut), die latere profete: Jesaja-Esegiël (sonder Klaagliedere) met die twaalf kleinere profete Hosea-Maleagi) en die Geskrifte (die eerste boek is Psalms en daarna Job, Spreuke, Rut, Hooglied, Prediker, Klaagliedere, Ester, Daniël, Esra, Nehemia, Kronieke – dit is die volgorde van die Hebreeuse Bybel). Vir Jesus en sy dissipels en ook vir die gemeente het dit besondere betekenis. Die Griekse vertaling daarvan was ook die Bybel van die vroeë kerk, voordat die geskrifte in die Nuwe Testament stelselmatig bygekom het om die Ou Testament vanuit Jesus se woorde, lewe, dood en opstanding as die vervulling van die Ou Testament uit te lê en toe te pas.
24:45 Ná sy verwysing na alles wat in die hele Skrif oor Hom geskryf is wat vervul moes word, open Hy die oë van hulle verstand, hulle manier van verstaan, om self te verstaan wat die Skrifte oor Hom en sy kruisdood en opstanding sê. In Efesiërs 1:17-18 bid Paulus ‘dat die God van ons Here Jesus Christus…vir julle die Gees van waarheid en openbaring wat in kennis van Hom bestaan, sal gee sodat julle geestesoë (letterlik: die oë van julle hart) verhelder kan word en julle kan verstaan…die hoop van sy roeping…die rykdom van sy erfenis…grootheid van sy mag.’ In Hand 16:14 vertel Lukas dat die Here die godvresende Lidia se hart oopgemaak het om ag te slaan op wat Paulus oor Jesus Christus gesê het. Die gemeente voer hulle verstaan van die Skrif terug na die Paasgebeure. Soos Jesus die harte en verstand van die Emmausgangers geopen het om die Ou Testament reg te verstaan (Luk 24:31-32), doen Hy dit nou vir die hele groep wat hier vergader is, sy kerk (die woord ‘kerk’ kom van die Griekse kuriakê, ‘wat aan die Here behoort, die Here s’n’).
24:46 Hier gee Jesus die kern van sy boodskap aan al sy volgelinge deur die eeue, die dubbele raaiselagtige gebeure van die Seun van God (Luk 1:35; Rom 1:3-4). Christus, die Joodse verwagte Messias, ‘moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan.’ Dit gaan teen alle messiasverwagtings en alle menslike denke in. Dit word die sleutel tot die Skrif en word deur die Skrif verhelder. Paulus noem dit in 1 Kor. 15:1-5 die wesenlike van die evangelie, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte (Jes. 53:8-9): Hy is begrawe en op die derde dag opgewek volgens die Skrifte (Ps. 16:10; soos in Hos. 6:2; Jona 1:17), en Hy het aan Sefas verskyn en toe aan die twaalf…’
24:47 Die geskiedenis van Israel met die voorspellings/profesieë van die heilstyd, met ander woorde die Ou Testament as profesie oor Jesus waarna Lukas verwys, is die eerste tyd. Die tyd van Jesus wat in die Evangelies beskryf word is die middel van die heilsgeskiedenis. Die tyd van die kerk se getuienis en sending onder leiding van die Heilige Gees wat in Handelinge begin beskryf word, is die derde tyd. (Hand 1:1 verwys na die Evangelie van Lukas as sy ‘eerste boek – logos’). Jesus het die eerste lede van sy kerk op sy opstandingsdag bymekaar laat kom en aangestel as verkondigers van Hom wat gely en opgestaan het (anístamai). In Jesus se Naam moet aan alle nasies verkondig word om hulle te bekeer tot vergewing van hulle sondes deur geloof in Jesus se soenoffer vir die sonde. Metanoia ‘bekering’ beteken om jou lewenswyse te verander as gevolg van ’n totale omkeer van jou siening en houding oor sonde en hoe om jou saak met God reg te stel, dat jy nie op jou eie goeie werke vertrou nie, maar geheel en al op die werk van Christus se sterwe aan die kruis vir die sonde van die wêreld.
Die opdrag om na alle nasies te gaan is ’n vervulling van God se belofte aan Abraham in Genesis 12:3 ‘In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.’ Simeon het reeds by Jesus se geboorte geprofeteer dat die baba ’n lig is wat vir die nasies tot openbaring dien (Luk 2:32a). Johannes die Doper het Jesaja 40:5 aangehaal: ‘Dan sal alle vlees sien hoe God verlossing bring’ (Luk 3:6). Daarmee word alle nasies opgeroep om deur geloof in Jesus tot die volk van God te behoort.
Met die uitvoering van die opdrag moet hulle in Jerusalem begin. Dit wys dat God nie Israel verwerp het nie, maar vir hulle ’n deur na Hom toe oopgemaak het om deur Jesus na Hom toe te gaan. Simeon het ook gesê dat die baba in sy arms eer bring aan die Here se volk Israel (Luk 2:32b).
24:48 ‘Julle is getuies van hierdie dinge.’ Hulle is getuies van Jesus se kruisiging en sy opstanding uit die dood en die betekenis daarvan. Hulle is getuies van sy Naam, dit is van sy persoon en van sy werke. Hulle wat weer in die gemeenskap met Jesus opgeneem is nadat hulle Hom verlaat het, is getuies van hulle bekering en sondevergewing deur Jesus. So is hulle getuies van Jesus se vergewing van sonde wat hulle self beleef het. Die woord martus ‘getuie’ is ook die woord vir martelaar, bloedgetuie, wat sy lewe gee vir die getuienis oor Jesus, selfs as dit hulle lewe sou kos, soos vir die diaken Stefanus en die apostel Jakobus (Hand. 7:59-60; 12:2) en baie martelare vir Christus deur die eeue.
24:49 God het belowe om hulle toe te rus vir die opdrag. Sy gawe is die Heilige Gees wat in ons kom woon om ons te lei en te versterk in die geloof. Daaroor wei Lukas later uit in Handelinge 2. Die tyd van die kerk begin met Jesus se hemelvaart. Dan sal Hy sy gemeente toerus met krag uit die hoogte. Hy gaan self met sy werk voort deur sy getuies in die wêreld, deur in hulle te kom woon. Sagaria het al geprofeteer dat, danksy God se innige ontferming, die môreson uit die hoogte oor ons opkom, om te skyn oor diegene wat hulle in die duisternis en in die skaduwee van die dood bevind, en om ons voete op die pad van vrede te plaas (Luk 1:78). Die gemeente ontvang die ‘krag uit die hoogte’ soos ’n kleed waarmee ons beklee word (endusêsthe passief) as beeld van die Heilige Gees wat in ons kom woon (Hand 1:4). Die Gees sal ons bekwaam maak vir ons getuienistaak. Hy kom ons verander om soos Jesus te word, vol liefde, vreugde, vrede, vriendelikheid, geduld, goedheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal 5:22).