Die Evangelie volgens Lukas: Jesus waarsku teen skynheiligheid (Lukas 12:1-7) – Francois Malan

Dele van die gedeelte kom op verskillende plekke in Matteus voor, bv. Luk 12:1 in Matt 16:1 in die skuit saam met Jesus, soos in Mark 8:14-15.

12:1In Lukas 12:1-53 praat Jesus met sy volgelinge (mathêtai volgelinge/dissipels of leerlinge) ten aanhore van die skare, oor hoe ’n volgeling van Jesus in die wêreld moet lewe. Dit word in 7 paragrawe beskryf. Dissipels verwys nie alleen na die 12 dissipels/apostels nie, maar na almal wat Hom nie net uit nuuskierigheid volg nie, maar by Hom wil leer. Dit geskied egter ten aanhore van die ganse skare wat daar byeen is. Lukas verwys na duisende (muriades menigte of 10,000), so baie dat hulle mekaar vertrap. Van 12:54 tot 13:9 word die skare tot bekering opgeroep.

Na die ‘wee julle’ aan die Fariseërs (Luk 11:42-44), word hulle hier as ’n aanskouingsles gebruik. Daar het Jesus met die Fariseërs gepraat; hier oor hulle. Die gelowiges word gewaarsku teen skynheiligheid (hupokrisis om voor te gee dat jy sekere doeleindes en motiewe het, terwyl jy eintlik ander doeleindes en motiewe het). Die meeste Fariseërs se geveinsde lewe word as suurdeeg beskryf (Matteus 12:12 verwys na hulle leer as die suurdeeg). Suurdeeg deursuur die hele deeg. So het die Fariseërs se valse leer hulle hele lewenswyse vals gemaak. As die godsdiensleiers van die volk is hulle besig om die hele volk vals te maak met hulle voorbeeld en hulle leer. Hulle leer is om jouself heilig voor God te maak. Dit is voor God sinloos en selfbedrog. ’n Mens kan jouself nie voor God heilig maak nie. Die mens kan nie na God opklim nie. In sy genade soek die Here die mens, en roep hom tot bekering uit sy lewe wat op homself gerig is en nie op God nie. Die Fariseërs se haat teenoor Jesus word bedek deur hulle strikvrae en geheime beraadslagings oor Hom.

12:2 Daar is niks wat nie openbaar sal word nie en niks verborge wat nie in die openbaar bekend sal word nie. Die mens wat huigel kan sy rol nie volhou nie (in Matt 10:26 word bygesê: moet daarom nie vir hulle, die Fariseërs, bang wees nie. In Luk 8:17 is dieselfde spreuk gebruik vir die lig wat die duisternis verlig, soos in Mark 4:22). Jesus se openlike aanval op die Fariseërs ontmasker hulle huigelary. Dit is die krag van die waarheid. Hulle poging om hulleself heilig te maak voor God, geld nie vir God nie. Daarmee bedrieg hulle hulleself en ander. Selfheiliging is soos ’n suurdeeg wat deur die volk trek. Maar selfheiliging is voor God selfbedrog. Die mens klim nie op na God toe nie, maar in sy barmhartigheid kom God die mens soek om na Hom toe om te draai en die heil deur sy genade te ontvang, nie om dit te verdien of daarop ’n reg te verkry nie.

12:3 Waar Jesus se woord die inhoud van die volgelinge se boodskap is, is dit ’n krag wat na buite werk. Dit word met twee spreuke verduidelik: Alles wat julle in die donker sê, sal in die lig gehoor word; en wat julle vir mekaar in die slaapkamers (tameíois binnekamers, stoorkamers) in die oor gefluister het/ in privaatheid gesê het, sal op die dakke verkondig word. Wat as ’n geheime lering in die huisgemeentes gesê word (of in die katakombes gefluister word, sodat  die vyandige owerheid dit nie hoor nie), sal wyd en openlik verkondig word. Die dissipels moet hulle nie bekommer oor die kleinheid  en begrensdheid van hulle boodskap nie, dit is ’n wêreldwye aangeleentheid. Vir die Fariseërs se huigelary het dié twee spreuke die versekering, wat hulle in die geheim beplan sal geopenbaar word (Luk 6:11; 11:54; 20:20; 22:1-6; Matt 12:14; 22:15).

 

Vir wie ’n mens eintlik moet vrees (Luk 12:4-7)

12:4 Jesus spreek sy volgelinge aan as ‘My vriende.’ (vgl. Joh 15:14-16). In Luk 11:5-13 het Jesus reeds vertel wat ’n vriend vir sy vriend sal doen. Hulle sal egter op die proef gestel word deur hulle vriendskap met Jesus. Hy wil sy vriende se vrees vir mense wegneem. In die wêreld is Jesus se vriende in gevaar weens die haat van die wêreld teenoor Jesus. Maar mense kan slegs jou liggaam doodmaak as die uiterste vorm van hulle haat, en kan verder niks doen nie;  hulle mag strek nie verder as dit nie (Matt  10:28 voeg by: maar nie die siel kan doodmaak nie). As ’n mens jou doodmaak, bly jy nog in God se hand. In Lukas 20:38 sê Jesus: ‘God is nie ’n God van dooies nie. Wat Hom betref, is hulle immers almal lewendes,’ met verwysing na Abraham, Isak en Jakob (vgl. Luk 16:22-26).

12:5  Jesus verduidelik wie eintlik gevrees moet word. ‘Vrees Hom wat ná die doodmaak die mag het om in gehenna te gooi. Ja, Ek sê vir julle: Hom moet julle vrees. Gehenna is die Griekse vorm vir die Hebreeuse ge hinnom, die Hinnomdal buite die suide-muur van ou Jerusalem, waar kinders aan die vuurgod Molek geoffer is (Lev 18:21; Hand 7:43). In die Nuwe Testament se tyd was die Hinnomdal die vullishoop van die stad waar vuur dag en nag gebrand het. Dit word gebruik as beeld van die ewige oordeelsvuur van God (vgl Jer 7:3-32; 19:6-7). God het seggenskap oor die lewe, en dit is Hy wat elke mens en elke engel oordeel. Dié wat veroordeel word, word saam met die duiwel in die helse vuur gegooi (Matt 25:41; Openb 20:10,15).

12:6 Vir die skare is die mossie die kleinste en onaansienlikste voëltjie. Vyf van hulle word vir twee assarias verkoop. (Matt 10:29 twee mossies vir een assarion). ’n Assarion is ’n Romeinse kopermunstuk wat ’n sestiende van ’n dinarius werd is, ’n sent; ’n dinarius was die dagloon vir ’n arbeider. En nie een van die ou klein voëltjies word deur God vergeet nie! Matteus 10:29 sê dat nie een mossie op die grond sal val sonder ons Vader nie. Lukas beskryf egter nie die dood as God se werk nie. maar sien die geheimenis van God se teenwoordigheid in alles wat geskied. Hy sien alles raak en vergeet niks en niemand nie.

12:7 Selfs die kleinste deeltjie van die mens se liggaam, ‘n haar, is deur Hom getel en bekend. Daarom kan Jesus se gelowige vriende sonder vrees lewe want hulle het voor God ’n gans andere betekenis as baie mossies. God se blywende teenwoordigheid en onbegrensde mag is die rede waarom Jesus se vriende slegs  hulle Vader in liefde en eerbied moet vrees. Jesus se vriende kan sonder vrees in die wêreld lewe, in die wete dat hulle by God bekend is (vgl. Luk 10:20).