Die Evangelie volgens Lukas: Jesus word gearresteer (Luk 22:47-53) – Francois Malan
Lukas se weergawe is korter as dié van die ander Evangelies, maar het ook materiaal wat net in Lukas voorkom: die vraag van die dissipels (49), die genesing van die oor (51), die verwysing na die gesag van die duisternis (53).
22:47 Jesus se waarskuwing aan die slapende dissipels word skielik ’n werklikheid terwyl Hy nog praat: ‘Kyk, ’n menigte, en die man genaamd Judas, een van die twaalf, lei hulle.’ Die naam wat Jesus nie genoem het nie, toe Hy gesê het ‘die hand van die een wat My gaan oorlewer, is saam met My aan tafel’ (Luk 23:21), maar wat Lukas in 22:3 noem: ‘Satan het in Judas, wat Iskariot genoem word, een van die twaalf, ingevaar.’
Judas staan nader om Jesus te soen. Dit was die ou manier om naby verbondenheid uit te druk, en nie ongewoon tussen mans nie (1 Tess 5:26; Die soen is ook deur Joab verraderlik misbruik om Amasa dood te steek (2 Sam 20:9-10). Lukas verwys met ’n wrang smaak na Judas as ‘een van die twaalf.’ Judas, ’n vorm van Juda, ‘loof die Here,’ (Gen 29:35), is die kroon van Jakob se twaalf seuns (Gen 49:8-12). Daarop deel Lukas Jesus se laaste woord aan Judas mee:
22:48 ‘Judas, lewer jy die Seun van die Mens oor met ’n soen?’ Jesus sien deur die bedoeling van Judas. Om Hom in die maanskyn aan die menigte uit te wys is onnodig. Jesus sal Hom nie aan die arrestasie onttrek nie, maar gee Homself oor. Eintlik is Jesus se vraag ’n laaste beroep op Judas om te besin oor waarmee hy besig is, ’n laaste uitnodiging aan Judas om homself aan Jesus oor te gee, ’n herinnering aan die ellende wat wag op die man wat die Seun van die Mens verraai (22:22).
22:49 is slegs in Lukas. Toe dié wat saam met Hom was (die 11 dissipels) sien wat gaan gebeur, sê hulle: ‘Here sal ons met die swaard aanval (patassō)? Die dissipels het waarskynlik onthou toe Jesus gesê het dié wat nie ’n swaard het nie, moet een koop (22:36). Hulle is dadelik bereid om Jesus se arrestasie te verhinder, maar vra sy toestemming.
22:50 En iemand uit hulle val toe die slaaf van die hoëpriester aan (patassō) en het sy regteroor afgekap.’ Hy wag toe nie vir Jesus se toestemming nie. Lukas en Mattheus volg Markus se berig daaroor. Johannes sê egter dit was Petrus wat gekap het en noem die naam van die slaaf, Malgus. Lukas en Johannes sê dit was die regteroor.
22:51 Jesus stop die ontbranding van die geveg tussen die twee groepe en beantwoord die dissipels se vraag met ’n streng teregwysing: ‘Stop dit!’ – Hou op hiermee! En die Heiland heel die oor van die hoëpriester se slaaf. Slegs Lukas, die geliefde dokter volgens Kolossense 4:14, vertel van die wondergenesing. Jesus stel sy wondermag ten toon, maar gebruik dit nie vir Homself nie. Sy gevangeneming sal ’n selfoorgawe wees. Dit bewys Jesus se onskuld, sy onpolitiese bediening as Verlosser (2:11) en bevestig die helende doel van sy koms. Vir sy volgelinge is Jesus se optrede ’n voorbeeld van hoe om teen jou vyande op te tree, om nie na die wapen te gryp nie, maar eerder aan hulle goed te doen (Rom 12:19-20; Matt 5:44-45).
22:52-53 Jesus se optrede laat die leiers van die menigte wat teen Hom opgetrek het na vore kom, en Hy konfronteer hulle: Hy was (die afgelope 5 dae, Luk 19:47; 20:1-2; 21:37-38) daagliks saam met hulle in die tempel, sonder dat hulle ’n hand op Hom gelê het. Maar nou het hulle in die donker met swaarde en knuppels teen Hom uitgetrek soos teen ’n rower (lêstês ’n rower, wat met krag en geweld mense beroof, soos in Luk 10:30, ook gebruik vir ’n rebel, soos Barabbas, Joh 18:40).
‘maar hierdie is julle uur en die eksousia mag/seggenskap van die duisternis.’ Hoewel hulle daagliks by Hom in die tempel kon leer, het hulle uur nou aangebreek, waarop hulle geheime gedagtes en besluite uitgevoer kan word (Luk 6:11; 11:54; 19:47; 20:19). Hulle uur is ook die uur van die mag van die duisternis wat oor Jesus toesak, en hulle is die werktuie van die mag van die duisternis. Die duisternis is die gebied van die duiwel, en sy werktuie doen hulle besigheid in sy ure. Dit is juis waarvoor Jesus as die môreson gekom het om te skyn oor diegene wat hulle in die duisternis en in die skaduwee van die dood bevind, en om hulle voete op die pad van vrede te plaas (Luk 1:67). Hulle uur word deur sy uur beëindig, en die mag van die duisternis word gebreek deur sy oorwinning. Daarvoor gee Hy Homself oor in die hande van die werktuie van die duisternis (vgl. Luk 9:21), om die mag van die duisternis van sonde en dood te oorwin deur sy sterwe aan die kruis en sy opstanding uit die dood