Die Evangelie volgens Lukas: Johannes die Doper vervolg (Lukas 3:7-20) – Francois Malan
3:7-9 Johannes se oproep tot bekering
3:7 Lukas praat van ’n groot skare mense wat gekom het om deur Johannes gedoop te word. Oor hulle motiewe spreek hy hulle aan as ‘addergeslag’ (volgens Matteus 3:7 word slegs die Fariseërs en Sadduseërs so aangespreek). Hulle het die gesindheid van hulle vader, die duiwel, wat vir Eva as ’n sinkse slang verlei het. Hulle wil net die dreigende oordeel ontkom, en besef nie dat God hulle tot bekering wil bring nie, deur sy goedheid (vgl. Rom 2:4-5).
3:8 Johannes verkondig bekering (metanoia) ’n verandering van lewenswyse as gevolg van ’n totale verandering van denke en gesindheid teenoor sonde en geregtigheid) ’n lewenswyse wat die vrug van bekering dra. Die Joodse skare glo dat hulle die uitverkore volk van God is deur die Here se verbond met Abraham en sy nageslag (vgl. Joh 8:39). Hulle vertrou op hulle ritusse, wette en wetswerke, en nie op God en sy verlossing nie.
Johannes se3 vir hulle: ‘God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek.’ So het God So het God uit Sara se moederskoot , wat reeds dood was, vir Abraham ’n nageslag verwek (Rom 4:19; Gen 17:17). So is Johannes gebore uit die ou ‘onvrugbare’ Elizabeth (Luk 1:36). So kan die Here ook uit die ander nasies kinders vir Abraham verwek (Rom 4:5,11; 16:18; Gal 3:6-8,14). In Aramees, at Jesus gepraat het, is hier ’n woordspel tussen klippe (abnajja) en kinders (benajja).
3:9 Die byl van God se oordeel is alreeds teen die wortel van elke boom aangelê. Die passiewe werkwoord beteken dat God die byl/oordeel aangelê het met sy koms in Christus na die mensdom. Die maatstaf waarvolgens God oordeel is of die mens vrug dra deur bekering van jou denke en lewenswyse. Elke boom wat nie vrug dra nie, word in die vuur van God se toorn gegooi.
3:10-14 Die vrug van bekering.
Die gedeelte kom slegs in Lukas voor.
3:10 Die skare vra ’n uiteensetting van wat die vrugte van volledige bekering tot God behels. Johannes antwoord met drie voorbeelde wat deur elke mens gevolg moet word, in hulle lewe en beroepe. Om die Here te dien beteken dat jou bekering daagliks voor God uitgelewe moet word, in jou huis, werksplek en ontspanning.
3:11 Vir Johannes gaan dit nie om die Jode se wet en gebede en offerandes nie, maar oor God se wil oor verhoudings tussen mense. Bekering gaan oor raaksien van behoeftige mense, oor sy gebrekkige klere in die koue en jou tweede kledingstuk; oor die mededeling van die kos wat jy gebring het vir die lang reis om deur Johannes gedoop te word; om aan ander te gee van die gawes wat jy van die Here ontvang het; oor jou liefde vir jou naaste.
3:12-13 Selfs ryk tollenaars het gekom om gedoop te word. Hulle was tol- en belastinggaarders vir Rome en vir hulle eie sak. Hulle spreek Johannes aan as ‘leermeester’ (didaskalos). Hulle word nie deur Johannes beveel om hulle beroep te verander nie, of bloot weggewys soos die Fariseërs met hulle doen nie. Maar hulle word gewaarsku teen inhaligheid en korrupsie, om nie meer in te vorder as wat aan hulle voorgeskryf is nie.
3:14 Vir die Fariseërs is tollenaars en soldate sondaars, vanweë hulle beroepe wat hulle gedurig in kontak met heidene bring, en omdat hulle in diens is van Rome. Johannes sluit hulle nie uit nie, maar waarsku hulle om nie hulle posisie te misbruik om hulle medemens met geweld te beroof nie, en nie hulle misbruik van mag te verontskuldig met valse beskuldigings nie. Die vrug van bekering tot God lei tot goeie en regte optrede in die konkrete situasie van die lewe en van jou beroep, en tevredenheid (arkeomai) met jou loon.
3:15-17 Die belofte van Hom wat kom
3:15 By baie van die volk was daar ’n gespanne verwagting oor die koms van die Messias. Baie het begin wonder of Johannes nie die beloofde Gesalfde van God is nie. Johannes gebruik die geleentheid om dié valse verwagting onder die volk en onder sy volgelinge reg te stel.
3:16 Johannes antwoord dat hy die Doper is wat mense tot bekering roep en hulle doop om hulle voor te berei vir die Een wat kom. Hy is so nederig onderworpe as die slaaf van die Een wat aan kom is, dat hy nie eers werd is on die riempies van sy sandale los te maak nie (so ook in Mark 1:15; Mat 3:11 om sy sandale te dra nie). Teenoor Johannes se doop met water, sal Hy hulle doop met die Heilige Gees. Volgens Joh 14:16 verklaar Jesus dat die Vader die Heilige Gees sal stuur as die gelowiges se Parakleet (Helper, Advokaat, Trooster) wat by hulle sal bly. Hy sal hulle oortuig van sonde, dat Jesus hulle verhouding met God regmaak, en van oordeel vir diê wat nie in Jesus glo nie (vgl Joh 16:8). Johannes sê die Een wat kom sal ook met vuur doop, die oordeel van God oor dié wat nie in Jesus glo nie (vgl. vers 17).
3:17 Jesus word geskilder as ’n boer wat koring dors en daarna die koringkorrels van die kaf skei deur die getrapte koringare met ’n houtskopgraaf in die wind op te gooi. Die eintlike doel is om die koring gereed te maak om in God se skuur versamel te word. Die kaf word met ’n onblusbare vuur verbrand as teken van die ewige straf. Die mense wat Johannes se bekeringsprediking ter harte neem, sal geskei word van dié wat ’n uiterlike doop en godsdiens beoefen. Lukas gebruik wind en vuur as beelde vir die eindoordeel van die Here (Luk 3:9,16; 17:29-30; vgl. Jes 66:15). Die koring wat in God se skuur versamel word is ’n beeld van die hemel waar God is. Die koring wat met die skopgraaf in die lug gegooi word, veronderstel dat die wind die koring van die kaf skei. Die wind verwys na die werking van die Heilige Gees in die lewe van die gelowige om hom van die verkeerde af te skei.
3:18 Met baie ander ernstige oproepe (parakaleõ ernstig vra, uitnooi, bemoedig) het Johannes die goeie nuus aan die volk verkondig. Die goeie nuus is dat die Een wat kom, die mense wat hulle van hulle verkeerde lewenswyse tot God bekeer, salopneem in die koninkryk van God. Dit behels die vergewing en verlossing van hulle sondes (3:3,6), en die gawe van die Heilige Gees van God (3:16).
3:19-20 Soos Elia vreesloos teen Agab en die volk opgetree het (1 Kon 18:21; 21:17-29; ), krtiseer Johannes die openbare sede van sy tyd (sy opdrag is om krom paaie reguit te maak, 3:5), en wys Hy Herodes Antipas tereg oor al sy booshede.
Herodes die Grote het die seuntjies van Betlehem laat doodmaak om Jesus as ’n koning van Israel uit te wis (Mat 2:2,16). Sy seun, Herdes Antipas, is een van vier seuns wat ’n kwart van sy pa se ryk geërf het. Hy word in Rome deur die keiser aangewys as sy verteenwoordiger om te regeer oor die provinsies Galilea en Perea (oorkant die Jordaan). Hy ontmoet Herodias in Rome waar haar man Filippus, ’n halfbroer van Antipas, as gyselaar aangehou word. Sy oortuig haar inskiklike man om van haar te skei, sodat sy met ntipas kan trou. Antepas was toe nog getroud met die dogter van koning Aeetas van Arabië, van wie hy toe skei om met Herodias te trou. Aretas tree op teen Antipas en Antipas se leër verloor in die veldslag teen Aretas se starfekspedisie.
Johannes spreek Herodes Antipas aan oor sy huweliksake en al sy ander booshede. Herodes vrees Johannes se groeiende invloed onder die mense, en daarom sit hy Johannes slegs in gevangenis in sy bergvestig Magaerus aan die oostekant van die Dooie See nadat Johannes hom aangespreek het oor Herodias. Lukas vertel nie die besonderhede van Johannes se dood nie (soos Mark 6:17-29; Mat 14:1-12), Lukas vermeld hier slegs die einde van Johnnes se bediening deur sy opsluiting in die tronk. In Luk 9:9 verwys hy bloot na ’n woord van Herodes dat hy Johannes doodgemaak het (Luk 9:9). Met sy dood is Johannes ook die voorloper/voorspeller van Jesus se dood. Met sy prediking en dood het Johannes die pad in die woestyn vir die Here reguit gemaak (Luk 3:4).