Die Evangelie volgens Lukas: (Luk 7: 1- 10) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Lukas se berig is langer en met meer besonderhede as Matteus 8:5-13 en Johannes 4:46b-50 se berigte hieroor.

7:1-3  ‘Na Jesus al sy woorde tot die hoorders uit die volk voltooi het, het Hy in Kapernaum ingegaan.’ Die onderrig van die volk was op die vlakte buite Kapernaum. As grensdorp was daar ’n afdeling van Herodes Antipas se soldate aan diens in die stad. Die owerste oor die afdeling soldate se persoonlike slaaf, wat vir hom so baie werd was soos ’n kind, was dodelik siek. Aangesien die owerste nie ’n Jood is nie, stuur hy van die ouderlinge van die Joodse gemeente om Jesus te vra om die slaaf se lewe te kom red – die berig oor die genesings van Jesus op die vlakte buite Kapernaum het duidelik versprei tot in die Romeinse kamp (6:18).

7:4-5 Die Joodse leiers van Kapernaum kom met ’n ernstige en dringende versoek na Jesus in die lig van die dringendheid van die dodelike siekte, en die erns van die saak van die ryk soldaat wat dit werd is omdat hy lief is (omgee; agapao) vir ‘ons volk’  en ‘hy het uit sy eie vir ons die sinagoge gebou,’ waarskynlik met sy eie geld. Dit wys na die Jode se idee van verdienste voor die Here deur goeie werke; en na dié heidense soldaat se toegeneentheid teenoor die Joodse geloof en sedes, en na sy besorgdheid oor sy slaaf, alles dinge wat besonder en uitsonderlik was vir ‘n Romeinse leier van soldate. Die leiers gaan saam met Jesus na ’n heiden se huis, wat vir hulle en vir Jesus volgens hulle opvattings onrein sou maak, tensy hy reeds deur die doop en besnydenis ’n Joodse proseliet was, of nog sonder die doop of besnydenis as ’n ‘godvresende’ beskou sou word.

7:6-8  Jesus voldoen aan die ouderlinge se versoek en gaan saam met hulle na die hoofman se huis. Maar terwyl hulle die hoofman by Jesus aangeprys het dat hy dit verdien (axios werd is) dat Jesus dit vir hom doen, laat weet die hoofman vir Jesus dat hy homself nie werd ag (axioō) dat Jesus onder sy dak inkom nie. Eers het hy laat vra dat Jesus kom (7:3), maar nou, blykbaar by nadenke, laat hy weet dat hy nie waardig is dat Jesus kom nie. Die tweede gesantskap wat die nuus bring bestaan uit die hoofman se vriende. Hy het homself nie waardig geag om self na Jesus te kom met die eerste versoek nie, en spel sy nederige beskeidenheid nou nog verder uit deur sy vriende te stuur met sy nederige boodskap. Hoewel die hoofman daarmee die groot afstand van sy eie minderwaardigheid teenoor Jesus betoon, beskou Jesus Homself nie verhewe bo die nederige heidense man en sy versoek oor sy slaaf nie. Die hoofman is van die krag van Jesus se woord oortuig en vra van Jesus slegs ’n bevel oor die siekte, soos hy bevele van bo hom gehoorsaam, en van sy peloton verwag. Maar hulle aardse seggenskap kan nie ’n mens genees nie. Hier is die beperking van die mens se bevele. Soos sy bevelende woord egter gesag dra, glo hy in Jesus se baie groter gesagswoord oor die liggaam en gesondheid van ’n mens. Jesus se teenwoordigheid is nie daarvoor nodig nie, maar kan oor afstande en oor bonatuurlike magte heen werk. Soos Jesus gelykenisse gebruik om sy boodskap te verduidelik, gebruik die hoofman ook ’n beeld van sy eie gesag oor sy soldate en sy slawe, maar sy gesag kom van sy koning, Herodes Antipas, onder wie se gesag hy staan. So erken hy Jesus se groter gesag wat in die koninkryk van God geld.

7:9 Jesus verwonder Hom oor die heidense hoofman se groot geloof in sy woord, wat Hy tot dusvêr nie in Israel gevind het nie, van wie Hy dit juis sou verwag met hulle eeuelange kennis van die krag van hulle Here se woord. Maar by Israel kry Hy voorbehoude en wantroue (4:2,29 in Nasaret; 5:21 by die genesing van die verlamde; 6:7,11 en van die mense by die man met die gebreklike hand). Jesus het Hom na die skare, wat Hom volg, gedraai en dit tot hulle beskaming gesê, om hulle jaloers te maak, soos Paulus sê (Rom 10:19; 11:11,14). Die oes van die Here groei ook by die heidene deur wat die Here Jesus doen.

Dit was Joodse leiers wat die heidense hoofman se saak by Jesus kom bepleit en die kontak tussen Jesus en die godvresende heiden bewerk het. Die heiden kom by Jesus uit deur bemiddeling van die Jode. So kom die verlossing van die heidene deur die rol van die Jode, en kom die Nuwe Verbond van Jesus nie sonder die Ou Verbond met Abraham tot sy reg nie, en die kerk van Christus nie sonder Jode soos Jesus, Paulus. Johannes, ens. nie.

7:10 Lukas vertel nie dat Jesus ’n woord gespreek het, soos Matteus 8:13 vertel nie, maar dit word veronderstel deur die woorde van die hoofman. Die gestuurde vriende van die hoofman kry egter die slaaf tuis genees deur die helende woord van Jesus waarop die hoofman vertrou het. Hierdie is Lukas se eerste berig van Jesus se genesing van ’n heiden wat eintlik reeds in sy verweer in Nasaret geïmpliseer is met die voeding van die heidense weduwee van Sarfat en die genesing van Israel se onderdrukker Naäman. Daarby is dit die eerste genesing op ’n afstand sonder dat Jesus aan die sieke raak of direk aanspreek, soos by meeste van die vorige genesings. Die hoofman se nederigheid en sy vaste geloof in Jesus as Geneser word deur Lukas beklemtoon.

image_pdfimage_print

You may also like...