Die Evangelie volgens Lukas: ’n Dringende maar ontydige gebed (Luk 11:5-13) – Francois Malan
Jesus skilder vir sy dissipels ’n humoristiese situasie om hulle te laat nadink oor hoe hulle sal optree in so ’n noodsituasie. Hy doen dit om hulle te leer hoe om hulle Vader vrymoedig in gebed te nader, en wat hulle Vader se houding teenoor sy kinders sal wees wat na Hom toe kom met hulle nood.
11:5-7 In ’n klein dorpie sonder winkels, bak elke Joodse gesin elke môre sy eie brood. ’n Man wie se voorraad brood vir die dag op is toe sy vriend middernag na ’n reis by hom opdaag, gaan sy buurman-vriend teen middernag opklop, terwyl die hele gesin saam in die huis se enigste kamer slaap. Die reisiger het waarskynlik in die namiddag begin loop om die kwaai hitte van die dag te vermy. Die gasheer gaan vra drie klein broodjies wat genoeg sal wees vir een maaltyd vir een reisiger (artos is ’n klein ronde broodjie wat meer soos ’n broodrolletjie is). Aangesien gasvryheid ’n heilige saak is, is dit ondenkbaar dat die man sy reisiger-vriend honger sal laat gaan slaap, en dat sy buurman-vriend sy versoek sal afwys. Dit terwyl dit vir die buurman ontydig is. Hy word wakker van die dringende geklop, loop tussen die slapendes deur om die deur se grendels los te maak en die deur oop te maak. Sy vrou en kinders word wakker, en waarskynlik nog ’n koei of wat, ook in die kamer. ’n Hele gedoente en dit alles vir die ontydige vriend en sy middernagtelike vriend.
Dit is ondenkbaar dat die buurmanvriend sou sê: Moenie my pla nie, die deur is reeds gesluit, my kinders is by my in die bed, Ek kan nie opstaan om vir jou iets te gee nie. Want gasvryheid is ’n heilige roeping (Rom 12:13; 1 Tim 3:2; Tit 1:8; Hebr 13:2; 1 Petr 4:9).
11:8 Jesus sê: al is dit nie uit gasvriendskap nie, sal die man opstaan omdat die vriend so onbeskaamd aanhou klop. Hy word nie skaam om aan te hou klop nie, want hy vertrou sy vriend en ken sy goedhartigheid. En hy sal aan hom nie slegs drie broodjies gee nie, maar wat hy ook al nodig het. In Joh 15:14-5 het Jesus aan sy dissipels gesê: Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. …Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.
Die gelykenis vertel Jesus pas nadat Hy die ‘Vader-’gebed aan sy dissipels geleer het. So behoort gelowige kinders van God onbeskaamd aan te hou om van hulle Vader in gebed te vra wat hulle nodig het. Hier gaan dit veral om iemand wat vir iemand anders wat in nood is, iets vra. Dit beteken dat ons nie moet speel in ons gebede nie, maar met groot erns ons nood oor iemand of iets voor die Here te bring.
11:9-10 Verse 9-11 kom ook effens verkort in Matteus 7:7-11 voor. Matteus plaas dit in die bergrede, ná die opdrag om nie te oordeel nie. Lukas plaas die woorde ná die Vader-gebed en die gelykenis van die onbeskaamd vra van jou vriend. Dit is ’n deel van die afsluiting van Jesus se onderrig oor gebed. Jesus verseker sy volgelinge: ‘Ek sê vir julle!’ om dringend by julle Vader-Vriend aan te hou met julle versoeke in julle nood en veral met jou nood oor ander. In Filippense 4:6 sê Paulus: ‘Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle versoeke aan God bekend deur te bid, te smeek en Hom te dank.’
Jesus se versekering is: vra, soek, klop; elkeen van die drie opdragte se antwoord is passiewe werkwoorde wat beteken dat God dit sal uitvoer: Hy sal gee, Hy sal laat kry, Hy sal oopmaak – die drie werkwoorde dui telkens voordurendheid aan; ons moet voortgaan met vra, soek, klop, en God sal voortgaan met gee, en laat vind en oopmaak. Mense wat alles vir hulleself wil verskaf, moet leer dat as hulle met God te doen kry, moet hulle bidders word, soekendes, en mense wat aanhou aanklop. Hy gee aan die bidders, Hy maak geslote deur oop, en laat soekendes vind wat die koninkryk/koningskap van God bied. Hy kan soms nee sê, maar Hy luister na dié wat vra.
11:11-13 Die vorige verse het God geteken as die Vriend vir wie ons vrymoedig en aanhoudend kan vra. Hier word Hy geteken as die Vader teenoor sy kind. Dit word weer met retoriese vrae gestel en die antwoord is telkens ’n algehele ontkenning. Dit is ondenkbaar dat ’n aardse vader ’n gevaarlike slang vir sy kind sal gee, wat ’n vis van hom vra; of ’n dodelike skerpioen as hy brood vra (Matteus 7:9 het brood en klip). Brood en vis was die stapelvoedsel van die Jode. Geen vader dink tog daaraan om aan sy seun ’n skadelike gawe in plaas van ’n nuttige gawe te gee nie.
Ten spyte van die mens se sondigheid, openbaar die verhouding van ’n vader en sy kind iets van die beeld van God, sodat Jesus kan sê: ‘As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Hemelse Vader die Heilige Gees gee as julle Hom vra’ (Matteus 7:11 het ‘goeie dinge’ in plaas van ‘die Heilige Gees’). Die Heilige Gees is self God wat in ons kom woon (Eseg 36:27; Joh 14:17; Rom 8:9-11; 1 Kor 3:16). Hy oortuig ons van sonde en van wat reg is (Joh 16:8), Hy lei ons (Joh 16:13) en gee die krag vir alles wat ons moet doen (Hand 1:8). Hy is die Gees wat lewe gee en lewe neem; vgl. Gen 1:1-3: God skep met sy ruach (’n vroulike woord) sy lewegewende teenwoordigheid en met sy dabar (’n manlike woord) sy skeppende woord; Ps 104:29-30 ruach in Ps 104:29-30; 1 Petr 3:18. Geen ander gawe kan met die Heilige Gees vergelyk word nie, dat God, die Skepper en Onderhouer van hemel en aarde, self in ons kom woon om by ons te bly. As ons bid om die leiding en krag van die Heilige Gees beteken dit eintlik dat ons ons dagtaak in sy hande oorgee en doen waarvan Hy ons oortuig. Hy maak deure vir ons toe en ander deure vir ons oop. Ons tye is in sy hand. As ons in dié bewussyn lewe, kan ons rustig word en doen wat ons hand vind om te doen.