Die Evangelie volgens Lukas: Reaksie op die aankondiging aan Sagaria (Luk 1:18-25) – Francois Malan
1:18 In die lig van hulle ouderdom vra Sagaria om ’n teken vir die menslik onmoontlike (soos Abraham Gen 15:8; Gideon Rigt 6:36-37; Hiskia 2 Kon 20:8). Paulus sê die Jode is mense wat ’n teken soek (1 Kor 1:22; vgl. Luk 11:29 wat Jesus daaroor sê). Dit is ’n bewys van kleingelowigheid. Dit soek sekerheid wat geen ruimte vir twyfel laat nie en daarmee ook geen ruimte vir geloof nie.
1:19 Die soeke na onfeilbaarheid is altyd oneg, want soos Gabriël impliseer, dra elke woord van God wat na ons toe kom sy eie gesag en sekerheid, sy eie geloofsbrief en hoef nie bewys te word nie. Ware godsdiens kan reageer op egte en gesagvolle woorde. Gabriël (man/dienaar van God; vgl. Dan 8:16; 9:21 ook tydens die aandoffer) staan in die teenwoordigheid van God en bring die goeie boodskap, die evangelie van God af. Met sy naam maak Gabriël ook sy volmag bekend. ‘Ek is gestuur’ – God het my gestuur, Hy is my opdraggewer. Wie my woord betwyfel, betwyfel eintlik vir God. Sagaria is die eerste persoon aan wie die evangelieboodskap, die goeie woord, verkondig word, en daarmee self in die evangelie opgeneem word. Lukas is die vreugde-evangelie! Maar soos die Fariseërs en Sadduseërs ’n teken van Jesus vra (Mat 16:1; Joh 6:29), vra hierdie priester ook ’n teken.
1:20 Sagaria se versoek om ’n teken word beantwoord met ’n strafteken. Dit lyk of Lukas veral belangstel in die fisiese gevolge van ’n ongemaklike gewete, bv. ook in Hand 5:5 met Ananias; Hand 13:11 met Barjesus. Met die strafteken dat hy nie kan praat nie, word die Goeie Nuus van die komende Verlosser vir eers vir die volk, wat buite staan en bid, weerhou. Hulle moes nog langer daarop wag, en dit word eers met die geboorte van hierdie kind bekendgestel. Vir Sagaria is dit ’n teken dat vir God niks onmoontlik is nie. Dit stel ’n vraagteken agter die Ou Testamentiese vroomheid se onberispelikheid volgens al God se gebooie (1:6) en wys hoe God in die lewe van ’n mens kan ingryp. Die verstomming van Sagaria volg omdat hy nie die woord van God geglo het nie, en dit leer Sagaria om te glo en te vertrou dat wat God sê, vervul word. Teenoor Sagaria se ongeloof staan die Here se getroue vervulling van sy woord op sy tyd, soos ’n uurglas of sandlopertjie wat vol loop (vgl. Gal 4:4).
1:21-23 Die volk verwonder hulle oor die vertraging van Sagaria in die heilige, wat as die domein van God as gevaarlik beskou word. Wanneer hy uitkom, lei die priester gewoonlik die ander priesters om die Aäronitiese seën van Numeri 6:24-26 oor die volk uit te spreek, maar Sagaria beduie net sonder om die Here se seën, beskerming, redding, genade en vrede oor hulle aan te kondig. Uit sy ongewone optrede besluit hulle dat hy ’n visioen in die heiligdom gesien het – volgens 1:11 het hy ’n engel (boodskapper) van die Here gesien. Hy gaan ná sy dienstermyn terug huis toe in ’n dorpie van Juda sonder om ’n ophef te maak van die wonderlike nuus wat hy oor sy kind en oor Israel se verlossing ontvang het (1:39).
1:24-25 Ook Elizabeth maak geen ophef van haar swangerskap nie maar bly wagtend totdat Maria by haar opdaag.
Die hele paragraaf verduidelik dat Johannes die Doper sy uitsonderlike ondenkbare boodskap van bekering en doop vir die Joodse volk in opdrag van die Here doen. Die Jode het wel proseliete gedoop om hulle heidense onreinheid af te was, maar nie ’n Jood nie, wat in hulle verbond met God gebore word nie. Johannes doop egter Jode om hulle voor te berei vir die koms van ’n Messias/Christus wat menslike gedagtes en verwagtings ver oortref en nie volgens menslike maatstawwe beoordeel kan word nie. Sy bediening raak die ganse volk en nie slegs Sagaria se gesin nie.
Die aansluiting by die laaste woorde van Maleagi oor die belofte van ’n Elia wat sal kom verbind die Ou Testament as die Here se belofte met die Nuwe Testament as die vervulling van sy beloftes aan die mensdom.
(Anders as die Hebreeuse Ou Testament volg ons Bybel die rangskikking van die boeke van sommige manuskripte van die Griekse Ou Testament, met Maleagi as die laaste boek, voor die Nuwe Testament.)
Die geskiedenis van die Doper en van Jesus is ’n vreugdeboodskap wat onder die eis van geloof staan. Die tyd het aangebreek vir die groot geloofsbeslissing van Israel, vir of teen die Here.