Die Evangelie volgens Lukas: Voorwoord van Lukas (1:1-4) – Francois Malan
In klassieke Griekse styl begin Lukas sy verhaal (diégesis verhaal, berig, verslag) deur sy werk op te dra aan iemand, en deur te verwys na sy navorsing en bronne, om geloofwaardigheid daaraan te verleen. Dié inleiding geld ook vir die boek Handelinge. Die twee boeke moet as ’n eenheid gesien word, vgl. Hand 1:1-2 oor wat Jesus begin doen het, en Hand 1:8 julle sal my getuies wees, deur wie Jesus sy werk voortsit, nadat Hy hulle toegerus het met die krag van die Heilige Gees wat op hulle kom.
Lukas plaas sy Evangelie in die wyer wêreldsituasie: 1:5 verwys na die tyd van Herodes as koning van Judea; 2:1-2 na die volkstelling, toe Sirenius prokurator van Sirië was; 3:1 tydens keiser Augustus se opdrag van die sensus.
1:1 Die verhale wat ‘baie mense’ begin saamstel het, gaan oor ‘die gebeurtenisse (pragmata) wat onder ons volbring is’ – die passiewe vorm van die werkwoord dui aan dat dit God is wat die gebeure volbring het, en die perfektum vorm daarvan dat die gevolge daarvan nou voortduur en voortwerk (pepleroforemenon). Daaroor het Lukas se voorgangers berigte in verhaalvorm saamgestel. Die samestelling van die gebeure kon mondelings geskied en dele daarvan kon ook skriftelik neergeskryf wees.
Lukas het blykbaar o.a. van die volgende bronne gebruik gemaak:
Die Evangelie van Markus is blykbaar deur Matteus en Lukas as bron gebruik. Dit word die M-bron genoem. Let op in Lukas, waar daar na Matteus en Markus verwys word (bv. by Luk 4:1-13, waar verwys word na Mat 4:1-11 en Mark 1:12-13).
Daar is ook gedeeltes in Lukas wat nie in Markus voorkom nie, maar wel in Matteus (bv. by Lukas 6:20-42). Dit lyk of Matteus en Lukas albei nog ’n ander bron as Markus gebruik het (dit word Q genoem volgens die Duitse woord vir bron, nl Quelle).
Daar is ook dele in Lukas wat nie in Markus of Matteus voorkom nie, wat Lukas by ander mense gekry het, wat dit vir hom vertel het (bv. van die apostels, moontlik Maria die moeder van Jesus self of iemand wat haar goed geken het oor bv. Gabriêl se aankondiging aan haar, Luk 1:26-38), dit word dan die L-bron genoem.
Die M-bron het Markus in Rome geskryf op versoek van die gemeente om Petrus se vertellings aan hulle oor Jesus se bediening, neer te skryf. Die Q-bron is waarskynlik in Antiogië saamgestel uit woorde van Jesus. Die L-bron se gegewens het Lukas waarskynlik tydens Paulus se twee jaar gevangenisskap in Sesarea versamel, vgl. vir ‘ons’ by die verblyf by die evangelis Filippus op pad na Jerusalem, in Hand 21:8, die onderhoud met Jakobus in Jerusalem (Hand 21:18) en ‘ons’ vertrek na Rome, ná Paulus se twee jaar in gevangenis in Sesarea (Hand 27:1).
Die dele wat slegs in Matteus en Lukas voorkom (Q-bron beslaan 250 verse in elkeen van die twee) is, wat woordgebruik betref, nader aan mekaar as dié tussen Lukas en Markus (Luk kom in 350 verse tot ’n mate ooreen met Markus; Markus word in 600 verse van Matteus as bron gebruik). Dit lyk of Lukas eers Q en sy eie bronne gebruik het en later Markus daarby ingewerk het. Lukas het ook, in die dele wat hy van Markus ingewerk het, Markus se Grieks verbeter en die gedeeltes verkort.
1:2 ‘…soos dié mense wat van die begin af ooggetuies was en dienaars van die Woord geword het, dit aan hulle opgedra het…’ – die ooggetuies is vertroubaar as hulle dienaars van die Woord word; en as hulle die Woord vertroubaar oordra is hulle ook vertroubare ooggetuies. Die twee hang wederkerig saam. Sommige mense het Jesus gesien, maar nie sy dienaars geword nie; ‘… van die begin af…’ verwys na die geskiedenis vanaf Jesus se voorloper wat sy koms aangekondig het, naamlik Johannes die Doper.
In Hand 20: 29-31 waarsku Paulus die ouderlinge van Efese dat wrede wolwe die kudde sal binnedring en manne uit hulle geledere sal verdraaide dinge verkondig om die dissipels agter hulle aan weg te lok. Daarom wys Lukas-Handelinge die vertroubare pad aan waarop hulle moet volhard, deur die genade van God, wat die mag het om hulle op te bou.
1:3 Die boek word aan Teofilus opgedra(sy naam kan beteken: vriend van God, of geliefde van God). Die aanspreekvorm Eksellensie (kratiste) beskryf hom as ’n vername persoon met ’n rang (soos bv. goewerneurs Felix, Hand 23:26; 24:3 en Festus 26:25 aangespreek word). Teofilus is waarskynlik ’n hoë Romeinse staatsamptenaar. Volgens pseudo-Clemens is hy ’n burger van Antiogië (soos Lukas blykbaar ook ’n Antiogiër was). Van ’n persoon aan wie ’n werk opgedra word, word verwag om te sorg vir die verspreiding van die opdragwerk deur afskrywers daarvoor te huur.
Lukas het dit goedgedink om, nadat hy self elke ding van die begin af ondersoek het (parakoloutheo), vir Teofilus ’n noukeurige verslag daarvan in volgorde (kathekses; een vir een/ordelik) as ’n aaneengeskakelde geheel neer te skryf, nie noodwendig in streng kronologiese orde nie, maar as ’n logiese en kunsvolle geheel. Daarmee bied Lukas homself aan as ’n vertroubare geskiedkundige.
1:4 ‘…sodat u verseker kan weet dat die onderrig wat u oor hierdie ‘woord’ (logos woord, gebeure) ontvang het, betroubaar is.’ Lukas wil Teofilus en alle lesers van die vertroubaarheid van die boodskap oor Jesus en sy woorde en dade, verseker. Hy is ’n geskiedskrywer van God se woord. Dit blyk dat Teofilus nie onkundig is oor Jesus nie, en dat hierdie boek bedoel is om dit wat hy reeds gehoor het, te bevestig. Dit is moontlik dat verdraaiing van die evangelie reeds begin kop uitsteek het, en dat hierdie tweeledige boek (Lukas-Handelinge) die boodskap oor Jesus se woorde en dade aan gelowiges en ongelowiges wil bevestig en weer nuut onder hulle oë en in hulle harte bring. Wat die mense van dié tyd van Jesus geweet het, was hoofsaaklik van hoorsê. Daar was nog nie ’n volle beskrywing van Jesus se woorde en dade opgeteken nie. Markus se Evangelie het toe pas in die gemeente Rome begin sirkuleer met kopieë wat met die hand oorgeskryf is. Daar was ’n behoefte om die los berigte en boodskappe op ’n sistematiese wyse beskikbaar te kry vir die wyer kerkgemeenskappe.
Die inleiding wil bevestig dat die Christusgebeure waar is en wel geskied het. Jesus is nie deel van ’n mite nie, maar van werklike gebeure, wat deur geskiedkundige navorsing nagegaan word. Lukas gebruik ’n taal wat vir almal duidelik en verstaanbaar is, en kontak met die mense buite die geloofsgemeenskap kan bereik deur na die menslike kant van die evangelieboodskap te verwys. Die dinge (pragmata) wat onder ons plaasgevind het, is ’n algemene en wye opmerking wat die sekulêre karakter van die gebeurtenisse beklemtoon sonder om Jesus se naam pertinent te noem. Maar die lang klankryke woord peplêroforêmenon onderstreep die belangrikheid van die gebeure en die passiewe vorm suggereer dat dit deur God voltooi is en voortwerk sonder om God te noem. Die apostels en die evangelie word nie uitgespel nie, maar daar word net van ooggetuies gepraat wat bedienaars van die woord is. Die ‘baie’ wat al daaroor gepraat en geskryf het wys na die geweldige belang van die dinge wat deur God voltooi is.
In dié proloog wys Lukas op die feitelikheid van die ‘dinge’ wat onder ons vervul is, en in die res van die Evangelie uitgespel word. Dat dit dinge is wat God gedoen het, kan nie as ’n feit bewys word nie. Daardie deel van Jesus se verhaal kan alleen deur geloof raakgesien word. Die geloof kan wel deur die menslike kant van die storie bevestig word. Dit alles bly die taak van die kerk deur die eeue en vir vandag met sy veranderde verstaan van die wêreld.