Die Evangelie volgens Lukas: Ware grootheid deur diens (Luk 22:24-27) – Francois Malan
Hier volg vier gesprekke van Jesus: 22:24-27 oor die rangstryd onder die dissipels, met 22:28-30 die belofte aan die twaalf, 22:31-34 die gesprek met Petrus, en 22:35-38 die moeilike tyd wat vir die dissipels voorlê. Lukas bied dit aan as Jesus se laaste woorde aan sy apostels voor sy sterwe, sy testament, soos in Johannes se hoofstukke 13-17.
22:24 Die stryd tussen die apostels oor wie Jesus gaan verraai, gee aanleiding tot Lukas se plasing van die twis onder hulle oor wie van hulle as die belangrikste (meidzōn hoër status as die ander) beskou moet word (twis, filoneikia letterlik: ’n ‘begeerte om te redeneer’ het onder hulle ontstaan). Dit knoop aan by Jesus se aankondiging dat Hy die vrug van die wynstok eers weer sal drink wanneer die Pasga vervul is in die koninkryk van God. Markus 10:35-45 vertel van die dissipels se verontwaardiging oor Jakobus en Johannes se versoek om aan Jesus se linker- en regterhand te sit in sy koninkryk. Maar hulle kon hulle nie indink in ‘n koninkryk waar daar geen voorrang is nie. In Luk 9:46 het hulle al ’n argument onder mekaar gehad oor wie van hulle die belangrikste is. Ná al die tyd saam met Jesus is hulle hier, die aand voor sy kruisiging, nog besig om te twis oor hulle posisies.
22:25 Jesus gryp by hulle twis in met ’n politieke beeld. Hy wys dat hulle onderlinge stryd op valse veronderstellings berus. Hulle beoordeel hulleself en mekaar volgens konings en gesagsdraers van die nasies se manier van regeer. Maar Jesus moet nie in dieselfde liga as een van die konings van die volke gereken word nie. Hy is heeltemal ‘n ander soort koning, die Gesalfde (Messias) van die Here (vgl. Luk 2:26 so aan Simeon geopenbaar; Luk 9:20 Petrus se belydenis; Luk 20:41-44 Dawid se lofsang). Dit is heeltemal ’n ander tipe koningskap. Aardse konings is tevrede as hulle mag kan uitoefen en hou daarvan om as weldoeners geprys te word. Party konings van die ou tyd het hulleself ‘weldoeners’ laat noem.
22:26 Letterlik: ‘Julle egter nie so nie! maar laat die belangrikste (meidzōn dié wat belangriker is) onder julle soos die jongere (ho neōteros) wees en die een wat heers soos iemand wat dien (diakonōn nederig dien, soos ’n tafelbediende).’ Teenoor die grootheid van mag en roem word die grootheid van die jongeres gebou op diens. Mark 10:45 Die Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie (vgl. Matt 20:28). In Luk 9:48 het Jesus reeds vir die dissipels wat gestry het oor wie die belangrikste is, gesê: ‘Wie hierdie kind in my Naam ontvang, ontvang My…die kleinste onder julle almal, hy is groot.’ Luk 18:27: Voorwaar, Ek sê vir julle ‘Wie die koninkryk van God nie soos ’n kind ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.’ Vir sy toekomstige gemeentes wys Jesus die weg aan. Die leiers in die gemeente is daar om die jongeres te dien. Hulle grootheid sal uit hulle nederige diens blyk. In God se koninkryk word al die wêreldse maatstawwe van grootheid en gesag omgekeer en gaan dit om die grootheid van jou liefde en liefdesdiens.
22:27 ‘Want…’ Jesus verduidelik die maatstaf vir lewe onder God se koningskap met die beeld van die tafelbediening. Op eg Palestynse wyse vra Hy ’n dubbele vraag: ‘Wie is belangriker, die een wat aan tafel aanlê of die een wat bedien? Is dit nie die een aan tafel nie?’ En Hy gee sy eie optrede as sy antwoord op die twee vrae as die nuwe maatstaf vir die lewe van sy volgelinge: ‘Tussen julle is Ek egter soos iemand wat dien.’ Hy het die brood en die wyn bedien as tekens van sy groot diens aan die ganse mensdom met sy liggaam en bloed aan die kruis. Waarskynlik verwys dit ook na sy optrede by die einste ete, soos dit uitgespel word in Johannes 13 se weergawe met Jesus wat die voete van sy dissipels gewas het voor die laaste maal (vgl. ook die gelykenis in Luk 12:37). Deelname aan die tafelgemeenskap met Jesus aan die nagmaal verbind ons aan nederige diens aan mekaar, want die nagmaal herinner ons aan sy nederige liefdesoffer van Homself vir ons sondes.
Die aanstelling van die apostels in hulle ewige taak (Luk 22:28-30)
22:28 Na die woorde oor dienslewering volg hulle aanstelling om te wys dat dié wat dien deur God verhoog word. ‘Maar dit is julle wat by My gebly het (hoi diamemenêkótes, perfektum deelwoord – altyd gebly het en die toestand duur voort) in al my beproewings (peiramois beproewings, toetsinge, versoekings).’ Jesus kyk terug op sy bediening. Hulle was sy kamerade en begeleiers wat alles saam met Hom ondervind het, sy beproewings deur die Jode en sy versoekings deur die duiwel (vgl. Luk 4:13).
22:29 ‘Ek gee (diatithemai om ’n verbond te maak, ’n ooreenkoms met wedersydse voordele en verantwoordelikhede ) aan julle, soos my Vader aan My gegee het, die reg om te heers (basileia om soos ’n koning met volmag te heers, en om jou opvolger/s aan te wys). So het die Here vir Dawid as koning laat salf met die belofte dat sy koningskap vir altyd sal voortbestaan (2 Sam 7:12-13). Dawid het die Here gevra: seën die huis van u dienaar om vir altyd in u diens te wees (2 Sam 7:29). So lyk die verbond in Jesus se bloed wat Hy met ons gesluit het deur self vir ons verlossing te sterf (Luk 21:20)
In Luk 4:18-19 lees Jesus uit Jes 61:1-2 dat die Gees van die Here Hom gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig en om die genadejaar van die Here aan te kondig. So gee Jesus aan sy dissipels nou die reg om die goeie boodskap (die evangelie) te verkondig en die bevryding van die genadejaar van die Here aan te kondig.
22:30 Die salwing of doop van die apostels met die Gees van die Here, waarvan Hand 1:5 praat, is om getuies vir en van Jesus in die hele wêreld te wees (Hand 1:8). Hulle aanstelling kondig Jesus in hierdie vers aan. Maar dit verwys ook na die voortsetting van hulle amp in Jesus se koninkryk, om aan te sit aan sy feestafel (beeld van gemeenskap), in die ewigheid, waarvan die nagmaal nou reeds ’n voorafskaduwing is. Dit behels ook om in die ewigheid reg te spreek oor die twaalf stamme van Israel (soos Paulus daarna verwys in 1 Kor 6:2-3; vgl. ook Luk 11:31,34), maar in die huidige bedeling word die sleutels van die hemel reeds aan Petrus en die ander dissipels en aan die gemeente gegee (Matt 16:19; 18:18-20; Joh 20:21-23; Openb 3:7). Dit bly egter ’n heerskappy deur diens aan die Here en aan sy mense, soos Hy dit op aarde uitgeoefen het, ’n verbond wat Hy met ons gesluit het deur sy bloed, deur sy lewe as offer vir ons sonde in die dood oor te gee. Dit is ware grootheid, die grootheid van die liefde (Rom 5:6-11).