Die ewige lewe is om in die liefde van God te lewe (14:20-25)

image_pdfimage_print

Die ewige lewe is om in die liefde van God te lewe (14:20-25) – Francois Malan

14:20 Op daardie dag – verwys na Jesus se opstanding uit die dood (14:19), maar veral ook na die koms van die Heilige Gees wat in hulle kom woon (in Johannes geskied dit op die dag van die opstanding, Joh. 20:22) om hulle te oortuig dat Jesus in die Vader is, dat Jesus een is met die Vader (10:30). Die Gees verbind hulle ook met Jesus. Hulle kry ‘n aandeel aan sy sterwe en opstanding, aan sy kindskap – hulle lewe in Hom, soos die lote in die wingerdstok (15:5). Jesus woon ook in hulle deur die Heilige Gees in hulle (14:23)  – gelowiges is geen weeskinders nie, maar kinders van die lewende God, aan die Kind/Seun van God in geloof verbind, deur die Heilige Gees.

14:21 Om Jesus lief te hê, sy gebooie reg te verstaan, hulle te bewaar deur jou lewe daarvolgens in te rig, en gemeenskap te hê met die Vader en met Jesus, hoort alles saam. In v15 is gesê: as julle My liefhet, sal julle my gebooie onderhou. Hier word dit van die anderkant af gestel: deur Jesus se gebooie te hê – reg te verstaan, en te onderhou in jou lewe, is die bewys dat jy Hom liefhet. Op v15 het die belofte gevolg dat Jesus tot die Vader sal bid dat Hy vir ons die Heilige Gees stuur om ewig by ons te bly. Hier volg die versekering dat die een wat My liefhet, in die liefde van die Vader en die Seun sal lewe. Paulus sê: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?…niks kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here (Rom 8:31,39). Daarby sê Jesus: ‘en Ek sal myself ten volle aan hom bekendmaak’ (emfanizoo duidelik maak, openbaar, aan die lig bring). Dit word in die volgende twee verse verder uiteengesit.

 

14:22 Judas, die seun van Jakobus (Luk.6:16, Hand.1:13; waarskynlik Mark.3:18 en Mat.10:3 se Taddeus, sy Griekse bynaam, afgelei van Theodotos ‘ geskenk van God’), is verras en verwar oor die uitspraak, soos die dissipels Jesus telkens misverstaan het. Hy verwag blykbaar die openbaring van die Messias-koning in krag en heerlikheid en om te oordeel oor al die volke van die aarde, soos in Jes. 9:6 se ewige koninkryk van reg en geregtigheid (vgl. Jes.11 en Sagaria 9:9-17). En nou lyk dit of Jesus Hom net aan ‘n kleiner groepie gaan bekendmaak. Het Jesus nou van plan verander (‘Here, hoe kom dit…?).

 

14:23 Die misverstand word reggestel deur die noodsaaklikheid te herhaal van die onderhouding van die woord van Jesus om die Vader se liefde te ervaar. Deur Jesus se woord te onderhou word Jesus en die Vader bekend – die Vader self en die Seun sal hulle woning (mone) by so iemand maak. Hoofstuk 14 begin (verse 2-3) met Jesus wat sê Hy gaan die dood in om vir dié wat sy woord onderhou  plek te berei in die baie wonings (monai) in die Vaderhuis. Hier aan die einde sê Hy, Hy en die Vader kom na die gelowige toe, en Hulle maak hulle woning hier by hom/haar terwyl hy/sy nog op die aarde lewe (vgl. Eseg.37:26-28; Sag.2:11; Openb.21:3). So begin die ewige lewe vir elkeen wat in liefde lewe en Jesus en sy woord ter harte neem. Die ewige lewe word volbring wanneer Jesus ons kom haal, om by Hom te wees en sy heerlikheid te sien waarmee die Vader Hom liefhet (Joh. 17:24). Johannes praat van inwoning by die gelowige deur ‘die ander Voorspraak/Helper wat vir ewig by julle sal bly en in julle sal wees’ (Joh. 14:16-17) . Paulus praat telkens van die inwoning van die Vader en die Seun in die gelowige deur die Heilige Gees (1 Kor.6:19; 2 Kor.6:16; Ef.3:17; 1 Tes.4:8). Die inwoning beteken dat die Vader en die Seun hulle steeds in die hart en lewe van die gelowige toenemend openbaar. Daarmee is ‘n deel van Judas se vraag beantwoord. Liefde is die skeidingmaker tussen Jesus se volgelinge en sy teenstanders, tussen kerk en wêreld (tussen Petrus wat Jesus verloën en Judas wat Hom verraai). Dit gaan om die innige persoonlike lewensverbindtenis met jou liefhebbende goddelike Inwoners, sodat hulle jou lewe, jou keuses en gedrag bepaal, deur jou op te neem in die liefde tussen die Vader en die Seun en die Gees.

 

14:24 Jesus bevestig die gesag van sy openbaring van God se liefde en woning maak wat Hy in 14:23 gegee het. My woorde is die woorde van die Vader. Wie dit verwerp, verwerp vir God. Dit is by implikasie ook ‘n beroep om God se liefdesaanbod in geloof te aanvaar. Die tweede deel van Judas se vraag word so beantwoord: die wêreld ontvang geen openbaring van God nie, omdat daar nie liefde vir Jesus is nie. Wie nie God se liefde in Jesus raaksien nie, is doof vir God se woord, die Woord wat mens geword het (Joh. 1:14). God openbaar Homself deur die woorde van Jesus waar daar aanvaarding en liefde vir Jesus is. 

 

14:25 Die gesprek staan in die teken van die afskeid van Jesus. ‘Dit’ verwys na sy antwoord aan Judas, en na alles wat Hy dié aand gesê het, en sy hele bediening word hierby geïmpliseer. Vir die kosbare kort tydjie wat Hy nog die aand voor sy kruisiging by hulle bly (menoon), wil Hy hulle voorberei vir wat vir Hom voorlê, en hulle toerus vir die dag wanneer Hy nie meer in sy aardse menslike gestalte by hulle is nie. Daarom moet hulle met intense aandag luister na wat Hy sê.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...