Die fundamentele verskil tussen modern en postmodern

 

The tongue exists to reveal our hearts – Johannes Calvyn

 

Die fundamentele verskil tussen modern en postmodern

Modernisme sluit ‘n soeke na die absolute, ontwyfelbare en rasionele sekerheid in. Hierdie sekereheid berus net op logika en bewyse. Baie voorstanders van modernisme erken dat dit dalk onmoontlik mag wees, maar dit bly steeds vir hulle ‘n ideaal om na te streef. Hierdie sekerheid gaan oor meer as net definisies. Baie moderniste het geglo dat hierdie sekerheid moontlik was – dit hang net van die wetenskap af. In die harde wetenskappe, veral fisiese wetenskappe soos wiskunde, lê ons sekerheid.

 

Die postmodernisme verwerp sekerheid. Postmoderne denke word gedefinieer deur die geloof (nie sekerheid nie) dat alle aansprake op waarheid deur dit wat ons glo, geïnfekteer is. Daar is nie so iets soos “’n siening van nêrens” nie. Selfs bewyse en logika is afhanklik van waardes – dit vloei voort uit ‘n sekere perspektief. Die onderskeidende kenmerk van postmoderne denke is dat alle absolute aansprake op die waarheid met suspisie bejeën moet word. Aansprake op sekerheid moet onderdruk word. Wat beteken dit? Mense kan nie veroordeel word om anders te glo as die heersende paradigma nie.

 

Modernisme het die sogenaamde “harde” wetenskappe verhef tot ‘n spesiale status – hulle besit die kennis. Daarom moet alles op die wetenskap berus.

Die postmodernisme bevraagteken alle aansprake op sekerheid – aansprake wat ander negatief mag beïnvloed. Die postmodernisme glo dat alle “kennis” slegs “geregverdigde geloof” is. Dit wat ek glo is belangrik. [Geloof hier word nie in die teologiese sin gebruik nie.] Daar is geen absolute waarheid nie, maar waarheid is slegs my perspektief op ‘n saak.