Die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar

 

You cannot shake hands with a clenched fist. – Indira Gandhi, Eerste Minister van Indië

 

Die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar

Ons hoor dikwels mense sê dat hulle nie godsdienstig is nie, maar wel geestelik. Verstaan hulle werklik wat dit beteken? Die gevolg is dat baie mense vir hulleself definieer wat geestelik is. In die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar definieer Jesus vir ons vals en ware geestelikheid.

 

Hoekom vertel Jesus hierdie gelykenis?

Met die oog op die mense wat seker was dat hulle saak met God reg is en wat op ander neergesien het (Lukas 18:9).

Die probleem is duidelik: Daar was mense by Jesus wat geglo het dat hulle saak met God reg is in en deur hulleself. Hulle het met ander woorde hulle eie standaarde vir geregtigheid bepaal en daarom op ander neergesien. Hulle het nie eintlik ander mense liefgehad nie, want hulle het nie eintlik vir God liefgehad nie.

 

In verse 10 – 13 kry ons die gelykenis. Jesus vergelyk hier die Fariseër en die tollenaar. Hy stel hulle aan ons bekend:

Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid (18:10).

Hulle was dus beide oënskynlik besig met ‘n geestelike aktiwiteit. Dit sou Jesus se luisteraars verbaas het, want die tollenaars  is nie as godsdienstige mense beskou nie. Hulle is beskou as geldgierig en skelm.

 

Jesus gaan nou voort om te wys dat die Fariseër in werklikheid geestelik vals was en die tollenaar geestelik opreg was. Kom ons kyk na hierdie kontras wat Jesus skilder.

 

  1. Twee indikatore van vals geestelikheid

Ons kry dit in Jesus se beskrywing van die Fariseër in verse 11 – 12:

  • Vertroue op jou eie vermoë om uiterlik te voldoen aan al die godsdienstige vereistes.

In vers 9 het Lukas reeds gesê dat die Fariseërs seker was dat hulle saak met God reg was. Hierdie vertroue sien ons duidelik uit die manier waarop die Fariseër praat – oor homself en oor sy eie optrede: Ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie … Ek vas twee keer in die week … Ek gee ‘n tiende van my hele inkomste. Jesus sê dat hierdie nie eintlik ‘n gebed is nie, maar eintlik ‘n ophemeling van homself. Jesus sê dat die Fariseër by homself gebid het. Hy probeer vroom lyk, maar hy praat met homself oor homself. Nêrens bely hy sy sonde nie – hy is nie eers bewus daarvan nie.

 

  • Jy beoordeel jou geestelikheid deur dit te vergelyk met die oënskynlike gebrek aan geestelikheid in iemand anders.

Ons het reeds gesien dat hy op ander neergesien het. Hy gee voor dat hy aan God die heerlikheid gee, maar hy sê: Ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie.

 

Ons moet onsself ondersoek om vas te stel dat ons nie soos die Fariseër is nie. Hoe dikwels sê ek “ek” as ek van die goeie dinge in my lewe praat? Ons sê dikwels dinge wat vir ander mense geestelik klink, maar of ons dit bedoel of nie, is die ware toets vir geestelikheid.

 

  1. Twee indikatore vir opregte geestelikheid

Ons kry dit in Jesus se beskrywing van die tollenaar (vers 13):

  • Jy is bewus van jou eie onvermoë om reg te leef.

Ons sien dit in die tollenaar se optrede en woorde. Hy bely sy sondes teenoor God: O God, wees my, sondaar, genadig. Ons lees ook: Hy het bedroef op sy bors geslaan –  ‘n teken van intense hartseer. Jesus wil hê dat ons moet besef wat ons onvermoë om reg te lewe beteken – ‘n duidelike bewustheid van ons eie sondigheid en ‘n gevoel van hartseer oor ons sondes. Nou is ek egter bly, nie omdat ek julle hartseer gemaak het nie, maar omdat ek julle so hartseer gemaak het dat julle tot inkeer gekom het. Julle was immers hartseer soos God dit wou hê. Ons het julle dus in geen opsig benadeel nie, want droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie. Daarteenoor bring droefheid uit wêreldse oorwegings die dood (2 Korintiërs 7:9 – 10). Hierdie is die soort mens waarna Jesus verwys: geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word (Matteus 5:4).

 

  • Jy beoordeel jou geestelikheid deur dit met God se heiligheid te vergelyk.

Die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hierdie is tekens van nederigheid – die tollenaar besef hy nie waardig is om in die teenwoordigheid van God te staan nie. Hy verstaan dat die standaard waarteen hy gemeet gaan word die heiligheid van God is en nie dié van die mense om hom nie.

 

Wanneer laas het ons ons sonde gesien vir die aaklige ding wat dit is? Wanneer laas het jy die behoefte aan God se genade en vergifnis besef?

 

In vers 14 kry ons Jesus se toepassing van die gelykenis. Ek sê vir julle: Hierdie man (die tollenaar) en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en hy wat nederig is, sal verhoog word.