Die getuienis van die EEN wat van die hemel af kom (3:31-36)
Die getuienis van die EEN wat van die hemel af kom (3:31-36) – Francois Malan
Dit is onseker wie hier aan die woord is. Die Doper is nie meer in die eerste persoon enkelvoud aan die woord soos in die vorige paragraaf nie – dit gaan nou oor persone. Dit word nie aangebied as ‘n woord van Jesus nie – Jesus word aangedui as ‘die Een wat van Bo kom’ (anothen), dieselfde woord wat in 3:3 gebruik word vir ‘van Bo gebore’, en Johannes die Doper as ‘die een wat uit die aarde is’. Die gedeelte is moontlik die besinning van die skrywer, wat op die getuienis van die Doper uitbrei. Die gedeelte sluit ook nou aan by 3:11-21. Soos in hoofstuk 1, het die skrywer die getuienis van Johannes die Doper tussenin ingevoeg (vgl. bv. 1:6-8; 1:1, 1:19-28).
3:31 is blykbaar ‘n algemene stelling wat nie vir Jesus vergelyk met Johannes die Doper alleen nie, maar ook met al die profete van die Ou Testament wat voor hom gekom het. Jesus is bo almal. Die feit dat Hy uit die hemel kom, die Woord van God waarvan hoofstuk 1 praat, maak sy openbaring van God gans anders as die van mense soos Johannes en alle ander mense wat van die aarde is, wat aardgebonde en begrens is. Johannes en die profete praat wel oor wat hulle van God ontvang het, Jesus is God self wat praat.
3:32 Jesus praat van wat Hy gesien en gehoor het – 5:19-20,30 praat bv. van ‘n voortdurende gemeenskap tussen die Vader en die Seun as die bron van Jesus se woorde en optrede. ‘Niemand’ staan teenoor ‘almal’ van 3:26, maar word opgelos deur 3:33 se ‘wie sy getuienis aanvaar het’. Jesus kom God aan ons bekend maak (1:18).
3:33 Wie Jesus se getuienis aangegryp het – dit glo en daarvolgens handel, ‘het verseël dat God die waarheid is/ waarlik God is.’ ‘n Seël is onder andere gebruik om te getuig dat die inhoud van ‘n geskrewe stuk eg is, die waarheid is.
3:34 Jesus is deur God gestuur en praat God se woord, want Hy is die Woord van God, die openbaring van God. Wie sy woord van harte glo, glo in God! God gee aan Hom voortdurend die Heilige Gees met onbeperkte volheid – so is Hy in voortdurende gemeenskap met God.
3:35 Die verhouding tussen die Vader en die Seun is liefde, want God is liefde (1 Joh 4:8,16) – liefde is nie slegs ‘n gevoel van toegeneentheid nie, maar ‘n wilsbesluit en ‘n volle onderlinge vertroue. Daarom dat ‘God ook alles in sy hand gegee het.’ Die Vader bly intens betrokke met alles wat die Seun doen (vgl. sy liefde in 5:20; 10:17; 15:9,10). Volgens vers 34 bring Jesus die volle woord van God sodat dit gehoor kan word; in vers 35 is sy handelinge God se handelinge sodat hulle gesien kan word: wie vir Jesus sien, sien God self aan die werk; wie Jesus se woord hoor, hoor God se woord wat sy wil bekend maak ( 14:9-11).
3:36 Die doel van Jesus se koms na die wêreld word in hierdie teks saamgevat. Van sy woorde word ‘n klompie in hierdie Evangelie opgeteken om God se wil aan ons te openbaar. Van sy handelinge word sewe tekens in hierdie Evangelie opgeteken, saam met die liefdesoffer van sy lewe vir ons aan die kruis en sy opstanding. Dit gaan alles daarom dat ons deel word van die ewige lewe. Hy is die lewe (1:4). Dit verkry ons deur in Hom te glo (3:15). Uit vers 36b blyk dit dat dit gehoorsaamheid aan Hom insluit (Rom 1:5). ‘Wie in die Seun glo, het die ewige lewe – is reeds deel van die nuwe wyse van lewe wat Jesus gebring het. Ook geloof is nie ‘n gevoel of ‘n stemming nie, maar ‘n wilsbesluit om myself in vertroue oor te gee aan Jesus en Hom te volg.
.
Wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, wat weier om in die Seun te glo, sal die lewe nie sien nie – verstaan ook nie eers wat die soort lewe saam met God beteken nie. Ongeloof word gesien as weiering om die Seun te gehoorsaam . Die toorn van God bly op die ongehoorsame omdat hy in sy sondige staat volhard deur vir homself te leef en weier om hom in vertroue aan God oor te gee. Die verhouding van ‘n mens tot Jesus bepaal sy verhouding tot God (vgl. Hebr 3:12). Hierdie is die enigste plek in hierdie Evangelie wat van die toorn van God gepraat word. In 3:16 is gesê so iemand gaan verlore.
Skrywer: Prof Francois Malan