Die getuies ten gunste van Jesus vervolg (5:34-40)

image_pdfimage_print

Die getuies ten gunste van Jesus vervolg (5:34-40) – Francois Malan

5.34 Jesus is nie afhanklik van die getuienis van ‘n mens nie, maar Hy verwys tog na Johannes die Doper se getuienis, wat hulle verwerp het, om hulle te laat nadink, om van oortuiging te verander, sodat hulle gered kan word, as hulle die Doper se getuienis oor Jesus sou aanvaar, want dit bly waar. 

5:35 Al was Johannes net ‘n mens, was Hy ‘n gesant van God, die lamp, met ‘n bepaalde opdrag op die keerpunt van die geskiedenis van God met die mens. Die lamp het soos ‘n fakkel gebrand – homself verteer in die uitvoering van sy roeping, en geskyn – lig gebring vir almal in die omgewing deur van die Lig te getuig (1:6-8). Die Jode het hom erken as ‘n profeet, het hulle laat doop, en was bly dat God sy volk deur so ‘n prediker (soos Elia, 1:21) besoek het – so iets het 430 jaar laas gebeur, met Maleagi (maleagi beteken in Hebreeus ‘My Boodskapper’). Maar hulle vreugde was vir ‘n rukkie (letterlik: vir ‘n uur). Toe Johannes van die toneel verdwyn het, het hulle van sy prediking en van hulle doop vergeet. Dit word bewys deur hulle teenstand teen Jesus. (Dawid is die ‘lamp vir Israel genoem, 2 Sam.21:17, vgl. die gesalfde uit Dawid se geslag wie se troon sal skitter in Sion, Ps 132:17-18).

 

5:36 Die tweede getuienis is Jesus self – die sin begin met ‘Maar Ek, Ek het die getuienis wat groter is’ as die menslike getuienis van Johannes. Jesus doen  ‘die werke wat die Vader My gegee het’ – goddelike werke; die werke wat Ek doen getuig oor My dat die Vader My gestuur het. Die werke verwys ten eerste na die tekens en wonders wat Jesus verrig en nog sal verrig, en dit sluit in vv21-22 se opwekking uit die dood en sy regverdige oordeel.

 

5:37 Daar is nog ‘n manier waarop die Vader oor Jesus getuig het en daardie getuienis staan nog steeds (weer die voltooide werkwoord). Hoewel die Israeliete by Sinai die stem van die Here gehoor het (Eks 19:16-19; 20:18-21; Deutr. 4:11,12,33) en daaroor geroem het, kan die tydgenote van Jesus dit nie sê nie. Die gestalte van God het hulle nog nooit gesien nie. Maar sy getuienis is tog beskikbaar (v39). Die gebeurtenisse in die geskiedenis van Israel was grootliks ‘n heenwysing na die koms van die Verlosser.

 

5:38 Die Vader se woord het hulle nie in hulle as iets blywend nie. Hulle het die woord van God nie in hulle opgeneem en daaruit gelewe nie. Dit het ‘n woord van iemand buite hulle gebly, wat hulle lewe nie verander  het nie. Dit word bewys deur hulle ongeloof in God se Gestuurde. Eers wanneer jy in Jesus as die Seun van God, self God, glo, gaan die lig vir jou op, en kan jy God in Jesus herken, sy stem in Jesus se woorde hoor, en sy gestalte in Jesus sien.

 

5:39  Die derde getuienis is die Skrif. Hulle ondersoek die Skrifte omdat hulle dink dat hulle in die Skrifte die ewige lewe het – deur dit te bestudeer. Jesus ontken dat hulle die ewige lewe deur hulle ondersoek van die Skrif het. God het die Skrifte gegee om van Christus te getuig, sodat die mense na Hom toe sal kom, en deur Hom dié lewe te kry wat in die Skrif belowe is. Deur die Skrifte te ondersoek en die Skrifte se getuienis oor Christus te verwerp, word God se doel met die Skrif verydel. Hulle fokus op die eise van die wet in die Skrifte, probeer die eise van die wet met hulle goeie werke te vervul om so deur God beloon te word met die ewige lewe; maar hulle merk nie op dat die Skrifte heenwys na die Messias-Verlosser wat sal kom nie, wat die water van die lewe, wyn en melk gee sonder om te betaal  (Jes 55:1). Die Jode is so anders as die Samaritaanse vrou (4:25). Paulus sê: as hulle die Skrifte lees, is daar ‘n sluier oor hulle verstand (2 Kor 3:15). Hulle weier om Jesus as hulle Messias te erken. Hulle wag vir ‘n politieke bevryder, ‘n stryder met militêre mag om hulle van die Romeinse juk te verlos.     

 

5:40 Deur die getuienis van die Skrifte oor Jesus te verwerp, deur te weier om na Jesus toe te kom en Hom te volg, verbeur hulle die lewe. Daar is by hulle ‘n bewuste wilsdaad van verset teen God se Verlosser en sy genadige verlossing tot die nuwe soort lewe, die ewige lewe. Hulle wil nie. In tye van twyfel is die wil altyd sterker as die insig. God se weg is anders as wat die mens dit voorstel (vgl. Joh 6:60,66; Luk 7:22,23).

 

            Die Jode verset hulle teen die drie getuies wat Jesus oproep om te getuig dat Hy die Seun van God is: Johannes die Doper, sy eie dade, en die Skrifte wat so ywerig ondersoek word deur die Fariseërs, wat hulle lewe wy aan die studie daarvan, sonder om by Jesus uit te kom.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...