Die Groot Geloofswoordeboek: Apokaliptiek(2)
Die Groot Geloofswoordeboek: Apokaliptiek(2)
Apokaliptiek
Die woord “apokaliptiek” is afgelei van ‘n Griekse woord. Dit dui op ‘n wêreldbeskouing met sterk bonatuurlike elemente, soos bose magte wat die natuur en die mense aanval, goeie magte wat die kinders van God beskerm, wonderwerke, ‘n bonatuurlike wêreldeinde wanneer die sterre sal val, Christus weer sal kom, die dooies sal opstaan, die hele mensdom geoordeel sal word en die aarde nuut gemaak sal word. Dit is ‘n wêreldbeskouing wat eers laat in die tyd van die Ou Testament ontwikkel het, eers tydens en na die ballingskap, en eintlik omtrent net in Daniël voorkom behalwe vir ‘n paar hoofstukke elders, soos Jesaja 24-27 en Sagaria 9-14. Dit kom egter sterk na vore in die *Apokriewe boeke wat ná die ballingskap geskryf is en deel van Jesus en die dissipels se “Bybel”, die Ou Testament, was. Hulle was dus tuis in hierdie wêreldbeskouing, en Jesus het self in hierdie terme oor sy tyd en die toekoms gepraat.
Ook ander belangrike groepe onder die Jode het dit aanvaar, al was daar interessante verskille. Die Fariseërs het aanvaar dat daar ‘n opstanding sal wees teenoor die Sadduseërs wat dit nie aanvaar het nie. Hulle het trouens net die eerste vyf boeke van die Bybel aanvaar.
Jesus self sluit sterk aan by hierdie siening. Die *koninkryk van God wat Hy verkondig en laat aanbreek het (Matt 12:28; Luk 11:20), was deel van hierdie apokaliptiese (“bonatuurlike”) wêreldbeeld. Wat Jesus uniek maak, is dan ook nie dat Hy verkondig dat daar ‘n opstanding sal wees nie. ‘n Groot deel van die Jodedom, insluitend die Fariseërs, het dit in elk geval geglo (Joh 11:24). Wat Hom uniek maak, is die feit dat Hy self opgestaan het en daarmee die verwagting van die opstanding in vervulling laat gaan het en bevestig het dat Hy alreeds in die *eindtyd geleef het (Hand 4:2).
Woorde gemerk met ʼn * sal elders volledig bespreek word.
Outeur: Prof Adrio König