Die Groot Geloofswoordeboek: Belydenis
Die Groot Geloofswoordeboek: Belydenis
Die woord “belydenis” word in minstens twee betekenisse gebruik: as sondebelydenis en as geloofsbelydenis.
- Sondebelydenis
As sondebelydenis word die woord “belydenis” gebruik wanneer ‘n individu sy of haar skuld voor die Here of voor iemand anders bely, maar ook wanneer ‘n gemeente saam hulle skuld voor die Here bely. In sommige kerke is dit ‘n vaste element in die erediens.
- Geloofsbelydenis
As geloofsbelydenis word dit gebruik om die inhoud aan te dui van Christene se geloof. Dit kan in die vorm wees van kort, individuele uitsprake waarin ‘n persoon sy of haar eie verbintenis met die Here uitspreek. Dit kan ook by die doop gebeur of wanneer ‘n persoon belydenis van geloof aflê. Maar dit word ook gebruik vir langer geformuleerde belydenisse wat die kernwaarhede van die geloof opsom. Daar is byvoorbeeld die *Apostoliese Geloofsbelydenis, ook die Twaalf Artikels genoem, wat ‘n kort samevatting is van die Christelike geloof. In sommige kerke word dit reëlmatig deur die hele gemeente bely. Saam met die Apostoliese Geloofsbelydenis (die Twaalf Artikels) is daar ook twee ander belydenisse: die *Belydenis van Nicea en die *Belydenis van Atanasius. Hierdie drie word ekumeniese of algemene belydenisse genoem omdat omtrent alle Christelike kerke hulle aanvaar. Dit is belydenisse wat vroeg in die geskiedenis van die kerk ontstaan het.
Belydenisse as kort formulerings van ons geloof kom alreeds in die Bybel self voor. Daar is selfs die teorie dat die Apostoliese Geloofsbelydenis die uitbouing is van Petrus se beroemde belydenis: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Matt 16:16). Daar is ook ander kort formulerings van die geloof, soos 1 Korintiërs 15:3-8; Filippense 2:6-11 en Kolossense 1:15-20 wat ook almal op Christus konsentreer. Dit is nie vreemd dat al hierdie kort belydenisse se fokus Christus is nie. Hy was die wese van die vroeë Christene se geloof. En dit is opvallend dat ook nog in die Apostoliese Geloofsbelydenis verreweg die grootste deel oor Hom handel.
Onder *belydenisskrifte word die breedvoeriger belydenisse van sekere kerkgroepe bespreek.
Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek
Outeur: Prof Adrio König