Die Groot Geloofswoordeboek: Bevrydingsteologie

Die Groot Geloofswoordeboek: Bevrydingsteologie

Die Bevrydingsteologie het sedert die 1970’s die sogenaamde Teo­logie van die Revolusie vervang en vinnig gegroei. Dit het onder onderdrukte en miskende Christene ontstaan wat nie langer geglo het dat alles deur God beskik word sodat elkeen tevrede moet wees in die situasie waarin God hom of haar geplaas het nie. (*Calvyn, *Arminius, *Voorsienigheid) Hulle het in opstand gekom teen hul­le vernedering en hulle daarvoor op die Woord van God beroep. Hulle het veral daarop gewys dat God in die Ou Testament die God van die minderbevoorregtes is, die God van die weduwees, weeskinders en vreemdelinge. Hulle het daarvan begin praat dat God vír die armes en téén die rykes kies.

‘n Hele paar vorme van Bevrydingsteologie het intussen ont­wik­kel, soos Latyns-Amerikaanse Bevrydingsteologie, Swart Be­vrydingsteologie, Feministiese Teologie, Ekologiese Teologie.

In Suid-Afrika het veral die laaste drie vorme belangrik ge­word. Die *Feminisme is elders behandel.

  • Swart Bevrydingsteologie

Swart Bevrydingsteologie was die godsdienstige inspirasie ag­ter die bevrydingstryd voor 1994. Dit het radikaal teenoor die apart­­heidsteologie en die apartheidsisteem gestaan. Die *Belydenis van Bel­har is deels hierdeur geïnspireer, al is dit eweneens ‘n oor­ver­een­vou­diging om Belhar geheel en al op hierdie teologie se reke­ning te skryf. Soliede Gereformeerde Teologie wat nie aan die apart­heid­s­-ideologie uitverkoop was nie, was genoeg om Belhar te skryf en apartheid te veroordeel. Baie van die teo­loë wat apartheid ver­oor­deel het, het geen bande met die Be­vry­dingsteologie gehad nie.

 

  • Ekologiese Teologie (*Heil)

Ekologiese Teologie is vandag wêreldwyd belangrik as ‘n stem teen die uitputting van ons hulpbronne en die besoedeling van ons lug en water. Kerke behoort dit te aanvaar as deel van hulle taak in die verkondiging van die evangelie. Een van die grootste probleme van ‘n demokratiese regering is die feit dat hy net regeer om weer aan bewind te kom, en dus sowel die hulpbronne kan uitput as die omgewing besoedel om stemme te werf of te behou. Daar is dus ander stemme nodig om die gemeenskap daarvan bewus te maak dat ons ‘n verantwoordelikheid teenoor ons kinders en kleinkinders het om aan hulle ‘n leefbare aarde na te laat.

Soms word juis die Christendom daarvan beskuldig dat ons die aarde besoedel en uitput en al warmer laat word. Dit is inderdaad waar dat dit juis die tradisioneel “Christelike” lande is wat die hoogste lewenstandaard het (Noord-Amerika, Europa), en hierdie lewenstandaard kos hulpbronne en veroorsaak be­soe­deling en aardverwarming. Terwyl oorbevolking (Asië, Afrika) inderdaad ook ‘n probleem is, moet ‘n mens onthou dat dit net ‘n bakkie rys kos om nog ‘n kind in Indië groot te maak, terwyl dit ‘n motor, ‘n rekenaar, ‘n massa boeke en ont­span­nings­geriewe en baie ander dinge kos om ‘n kind in die Weste groot te maak.

Christene word spesifiek van hierdie vernietiging van die natuur beskuldig omdat hulle ‘n baie aggressiewe aanslag op die natuur sou hê. Versteurende ingrypings in die natuur is nodig om produksie te verhoog, soos allerlei gifstowwe om plantsiektes en plae teen te werk. Dit is eenvoudig waar dat Westerlinge baie sterker ingryp in die natuurprosesse as Oosterlinge wat baie meer in harmonie met die natuur leef en skynbaar intuïtief be­wus daarvan is dat hulle nie bo die natuur staan en die natuur in hul diens het nie, maar dat hulle deel van die natuur is en van die gesonde funksionering van die natuur afhanklik is en saam met die natuur sal ondergaan as dit vernietig word.

Daar word verder beweer dat Christene hierdie aggressie op die natuur regverdig met ‘n beroep op die sogenaamde kul­tuur­opdrag: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor … ” (Gen 1:28). Alhoewel baie van die be­skuldigings teen die “Christendom” waar kan wees, is dit nie waar dat hierdie opdrag ‘n aggressiewe aanslag op die natuur regverdig nie. Selfs die uit­drukking “heers oor” veronderstel niks meer nie as om beheer uit te oefen oor diere, byvoorbeeld om diere soos beeste en perde mak te maak en te gebruik.

Een van die allergrootste probleme in hierdie verband is hoe om ekonomiese groei te handhaaf en selfs te verhoog sonder om die natuur verder te vernietig. Christenwetenskaplikes behoort dit as ‘n roeping te aanvaar om hierin ‘n bydrae te lewer.

Vir Suid-Afrika wag daar net om die draai ‘n probleem wat selfs die aaklige apartheid in die skadu gaan stel: ‘n watertekort.

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek

 

Outeur: Prof Adrio König