Die Groot Geloofswoordeboek: Die Ampte
Die Groot Geloofswoordeboek: Die Ampte
Amp • Predikant (leraar) • Pastoor • Priester
• Ouderling • Diaken • Amp van die gelowige
Amp
Die woord “amp” kom nie in die Bybel voor nie. Dit word in die meeste historiese kerke gebruik om bepaalde leiersposisies in die gemeente aan te dui. In die *Gereformeerde tradisie word onderskei tussen twee soorte ampte: besondere ampte en die amp van die gelowige.
Besondere ampte
Onder die besondere ampte tel predikant, ouderling en diaken. In die Gereformeerde Kerke vorm hulle saam die *kerkraad, wat die regsliggaam van die gemeente is. Tradisioneel word die predikant met die profeet vergelyk wat die woord van die Here aan die volk verkondig het, die ouderling met die koning wat namens die Here oor die volk regeer het, en die diaken met die priester wat die diens in die tempel verrig het.
Predikant (leraar)
Die werk van die predikant (leraar – wat nie ‘n goeie beskrywende woord vir hierdie amp is nie) het dan hoofsaaklik te doen met die verkondiging van die Woord, wat die bediening van die sakramente (doop en nagmaal) insluit.
Ouderling
Die werk van die ouderling is om toesig oor die gemeente te hou, wat toesig oor die predikante insluit, en veral toesig oor die suiwerheid van hul leer en lewe.
Diaken
Die werk van die diaken is om na die nood van lidmate om te sien.
In die tradisionele vorm van die Gereformeerde Kerke het hierdie ampte die hele bedieningstruktuur uitgemaak. Die gemeente is net bedien, hulle het nie self ‘n bediening gehad nie.
In teorie is hierdie ampte almal gelyk sodat die een nie meer gesag as die ander het nie. In die praktyk het die predikant gewoonlik meer gesag. Die teoretiese gelykheid van die besondere ampte staan teenoor die hiërargiese ampstruktuur van die sogenaamde Hoogkerklike denominasies, soos die *Katolieke Kerk en die *Anglikaanse Kerk, waar die biskop hoër gesag as die priester het. In die onafhanklike Charismatiese kerke is daar ook ‘n hiërargie omdat daar ‘n enkele leiersfiguur is.
In sekere kerke is die neiging deesdae eerder in die teenoorgestelde rigting: om liewer van “dienste” of “bedienings” as van “ampte” te praat sodat almal dan gelyke gesag en verantwoordelikheid het.
Amp van die gelowige
Die amp van die gelowige beteken dat elke gelowige direk kontak met God het en nie afhanklik is van tussengangers soos die besondere ampte (predikant of pastoor of priester) nie. Dit dui ook op die verantwoordelikheid van elke lidmaat om in die gemeente diens te lewer en na buite ‘n getuie van Jesus te wees.
Die historiese kerke wat uit die *Kerkhervorming voortgekom het, probeer die gewone gelowiges (die amp van die gelowige) sterker na vore bring nadat daar tradisioneel in die *Katolieke Kerk ‘n duidelike onderskeid gemaak is tussen die geestelike volwassenheid van die besondere ampte (biskop, priester) en die sogenaamde “geestelikes” (the religious) aan die een kant, en die lidmate (die leke, laity) aan die ander kant. Hulle is as geestelik onvolwasse beskou.
Die leer van die amp van elke gelowige is ‘n pragtige Bybelse leer. Dit hou verband met die *Liggaamsmodel (1 Kor 12) van gemeentewees, die gedagte dat elke gelowige ‘n soldaat vir Christus is (2 Tim 2), of ‘n steen in die tempelmuur (1 Pet 2:5). Die probleem is dat dit nie in die kerke van die Hervorming tot sy reg gekom het nie. Die verwringing van die *Herder-kudde-model het van die lidmate toeskouers gemaak wat bedien moet word, en nie mense wat ander met hulle gawes bedien nie.
Woorde gemerk met ʼn * sal later meer volledig bespreek word.
Outeur: Prof. Adrio König